Dit voel vir my asof elke huishouding op die aarde in die een of ander stadium al ’n hamster gehad het. In my geval neem ek my telkens voor dat dit die laaste keer is, want die versorging van dié oulike diertjies rus telkens op my skouers sodra die nuwigheid begin taan.

Die hamster-hokkie word nietemin tog maar bewaar sodat dit byderhand is vir wanneer Ma ’n volgende keer in ’n oomblik van swakheid oortuig word dat haar neulende telgie nie ’n dag langer sonder ’n hamster kan lewe nie.

Aanvanklik word stukkies kaas, wortelrepies en enige beskikbare groenigheid, hamsterkos. Selfs ’n beskuitjie word vir troos in die hok gesit. Almal vermurwe as Krummel of Soldaatjie die kos met sy pootjies optel en daaraan begin knibbel. 

LEWE HAMSTER NOG?

Dae later onthou ma weer van die hamster en almal wonder wanneer hulle laas vir Krummel of Soldaatjie lewend gesien het. Want boetie of sussie kan nie slaap as die knaagdiertjie snags op sy wielietjie tjier-tjier nie. Dus is hy spoedig uit die kamer verwyder en na die agterstoep verban waar hy onder die afdak in sy hokkie staangemaak word.

So hou my jongste spruit vir Krummel vermakerig op haar handpalm voor die Basset, Char-Lotte, se neus. Char-Lotte, hoofmeisie van die trop, sal egter nie ’n vlieg skade aandoen nie.

Miskien was sy dié dag dus totaal oorbluf deur die lewende prooi wat onder haar neus gedruk is, of miskien het haar jagtersinstink vir ’n oomblik eenvoudig bó alle goedgeaardheid geseëvier, want die volgende oomblik vee haar lang bek klam-flapperig oor my jongste spruit se handpalm sodat kind en hond se oë byna gelyktydig in ongeloof verstar . . .

My jongste staar haar leë handpalm in afgryse aan terwyl Char-Lotte skielik met iets wriemelends in haar bek moet rekening hou ? iets wat sy nie weet wát om mee te maak nie.

SKOK EN VERBYSTERING

Stom van skok staar ons mekaar vir ’n oomblik aan. Die verbystering is egter van korte duur, want ek besef dat dringende optrede nodig is as ons nie nog vandag begrafnis wil hou nie. Char-Lotte se kwylende kake word dus opsluit beetgepak en versigtig, dog ferm, oopgerem terwyl vele gewillige vingers help om die verdwaasde hamster ? gelukkig nog ongedeerd ? van Char-Lotte se tong af te haak. 

Toe die speeksel-deurdrenkte diertjie vies sy gesiggie met sy pootjies begin was, bars ons almal uit van die lag. Nog bewerig van skok, maar baie dankbaar.

Krummel het gelukkig geen merkbare skade van sy noue ontkoming oorgehou nie, hoewel hy daarna gereeld liggies gebewe het. 

Ons sou graag vir hom ’n prys vir dapperheid wou gee, maar het besef dat Char-Lotte dan ook een sou moes kry – vir selfbeheersing en onderskeiding van gees. Diere is mos nie dom nie.

* Hierdie artikel het oorspronklik in die Landbouweekblad van 24 Mei 2013 verskyn.