As D.F. Malherbe se “wat is die slaap ’n wondersoete ding” jou dikwels nie beskore is nie, is daar ’n manier om die nagtelike ure sonder slaappille redelik sinvol om te kry. Jy luister na die radio op jou bedkassie. ’n Mens behoort in elk geval nie jou lewe om te slaap nie.

As Klaasvakie my dus ontwyk terwyl ek wag dat Die Burger teen drie-uur soggens op my stoep val, luister ek draadloos. Salomo – “nog ’n bietjie slaap, nog ’n bietjie sluimer, nog ’n bietjie hande vou en bly lê en die armoede oorval jou soos ’n rower” (Spreuke 6:10-11) – sou beslis in sy skik gewees het met Die Burger se flukse tuisafleweraars.

Die vroegoggendprogram waarna ek die graagste luister, is RSG-landbou. Weliswaar nie meer aangekondig deur ’n hanekraai, soos in die ou dae toe dit bekend was as Roep die landman nie, maar darem. Ek onthou dit wanneer ek soggens om halfvyf, wanneer die meeste mense, ook alle boere behalwe melkboere, nog in droomland is, my bedradiotjie aanskakel.

Kom melk uit ’n plastieksak?

In elke verstedelikte Afrikaner skuil daar mos ’n boer. Al weet die meeste so min van boerdery as ’n kat van saffraan. Indien hulle nie boonop ook glo dat melk uit ’n plastieksak kom en nie ’n lewende koei se uier nie.

As ek Tina Joemat-Pettersson was, sou ek ’n dekreet uitgevaardig het wat dit vir almal in die land verpligtend sou maak om soggens na dié program te luister. Sodat hulle kan weet waar hul kos vandaan kom en hoe veral melkboere daagliks moet bakstaan om dit teen vergoeding van ’n oulap en ’n bokstert op hul tafels te kry terwyl supermarkte obsene winste uit hul noodsaaklike produk maak.

Uit woede en simpatie met die oorblywende klompie hardwerkende melkboere het ek op en af op my katel gespring toe Bertus de Jongh van die Melkprodusente-organisasie (MPO) op ’n onlangse landbouprogram bevestig het dat Suid-Afrikaanse melkboere van die minste ter wêreld vir hul melk kry, terwyl verbruikers van die meeste ter wêreld vir melk betaal. Wat ’n skande! En wat ’n erkenning van die MPO se vrugtelose stryd en klaarblyklike onvermoë om beter pryse vir sy lede te beding.

Melkboere kry inderdaad al jare lank ’n prys wat kwalik hul immer stygende produksiekoste dek. Hope het reeds die handdoek ingegooi. Van meer as 8 000 vroeër, is minder as 2 000 oor. En dis steeds nie die einde nie. Uitverkopings van die kuddes van kleiner melkboere, opgebou oor jare, vind feitlik weekliks plaas. Net die heel grotes, wat op omset oorleef, byt nog vas. Vir hoe lank, wonder ek.

Hel op aarde

Dit verbaas my nie. Wie wil dag na dag, jaar in en jaar uit, soggens van vieruur af op ’n koue, nat sementvloer vir ’n oulap en ’n bokstert in ’n melkstal (lees tronk sonder deure) staan, aan onbetroubare arbeid uitgelewer wees en boonop die risiko loop om vermoor te word?

G’n wonder melkboere word met ope arms deur Petrus by die pêrelpoort verwelkom nie. Hulle het hul hel op aarde gehad. Eddie von Maltitz, ’n bekende, uitgesproke Vrystaatse melkboer, het dit by geleentheid goed gestel: “Burn our cities and leave our farms and tomorrow the cities will bloom, but burn our farms and tomorrow grass will grow in the cities . . .”

Aan die adres van melkverwerkers kon hy bygevoeg het: “Gaan voort om melkboere ’n hongerloon te betaal en ook julle sal mettertyd droë pap eet.”

* Hierdie artikel het oorspronklik in die Landbouweekblad van 21 Junie 2013 verskyn.