Elke keer as my kinders vertel hoe hulle ’n latte, ’n espresso of ’n cappucinno in ’n coffee shop gedrink het, herinner dit my aan die eens beroemde, nou byna vergete, Koffiehuis vroeër in die kelderverdieping van die Groote Kerk-gebou in Adderleystraat, Kaapstad.
Dit was vroeër die bekendste koffiehuis in Suid-Afrika en voor dit in die 1970’s doodgeloop het, ’n gewilde, hartlike bymekaarkomplek vir stedelike Afrikaners. Daar het hulle tussen hul eie mense tuis gevoel. Vir plattelanders op besoek, was dit ’n baken en ’n anker in Kaapstad.

Behalwe die Spoorwegkoffiekamer op die ou Kaapstadse stasie was dit ook omtrent die enigste plek in die destyds Engels-oorheersde Kaapstad waar jy in Afrikaans bedien is en met belangrike mense in die politiek en die Afrikaanse kulturele leefwêreld van daardie tyd skouers kon skuur.

Die Hofmeyr-teater was net langsaan en van die bekendste name in Afrikaanse toneelkringe het gereeld daar uitgehang. Veral ná die NP se bewindsoorname in 1948 het ministers, parlementslede, regters, advokate, kerkleiers en joernaliste daagliks daar sake van die dag oor ’n koppie koffie bespreek.

Nie ’n latte, espresso of cappucinno teen R20 en meer uit ’n Italiaanse koffiemasjien nie, maar moerkoffie vir ’n sikspens (5c) en later ’n sjieling (10c) in ’n groot, dik, breërand porseleinkoppie. Instant-koffie en coffee shops het toe nog nie bestaan nie.

Net moerkoffie, in ’n koffiekan met ’n linnesakkie aan ’n ronde draadhouertjie onder die deksel, gemaak van ou staatmakers, soos Voortrekker, FC, Aroma, Ellis Brown en Senator, wat in ’n ronde blik verkoop is. Die leë blikke is gebruik om beskuit in te hou. Op plase het rye daarvan op spensrakke, beklee met koerantpapier, geknip in patroontjies, gestaan.

My ma se koffiekan was ’n roomkleurige een, die emalje hier en daar afgesplinter van jare se stamp teen kastrolle op ’n houtstoof, met ’n sierlike, krom tuit. Dit het nooit gemors nie. Jy kon ses koppies uit hom skink. Vyfuur soggens wanneer die stoof aangesteek is, is hy vol gebrou. Deur die dag het dit eenkant op die stoof gestaan om warm te bly. 

Wanneer jy lus was vir koffie, wat kort-kort was, is dit by romerige melk en bruin suiker uit die kan langs die stoof geskink. Die naaste wat ons aan ’n koffiemasjien gekom het, was later ’n blink, aluminium percolater (sypelkan) met ’n deurskynende, ronde glasknop in die deksel. 


Koffiesakkie bly gewildste


Wanneer die water begin kook, het dit deur gaatjies in ’n sifstaandertjie met moerkoffie in die glasknop opgeborrel. Koffie kon bitterlik sterk, selfs dik word in ’n percolater wat heeldag op ’n stoof gestaan en prut het. Teen laatmiddag het ’n teelepel in jou beker regop gebly. Toe dit mode word, het almal percolaters aangeskaf, maar gou weer op die beproefde kan met ’n koffiesakkie teruggeval.

My ma het elke dag die getrekte moer in haar koffiesak by haar rose uitgestrooi vir “bemesting”. Skynbaar het dit gewerk – sy het ’n mooi roostuin gehad.

Jy het nie net koffie in die Kaapse Koffiehuis gedrink nie. Dis ook vir politieke vergaderings, byeenkomste, partytjies en veral huweliksonthale gebruik. Afrikaners het toe nog nie in tente (chapels) op wynplase, onder die see of in lugballonne getrou nie, maar in ’n kerk. In Kaapstad was dit die historiese Groote Kerk net om die draai van die Koffiehuis.

Boere van die Noordweste van ou Kaapland het dit as ’n eer beskou om hul kinders daar deur die Groote Kerk se jare lange, bekendste predikant van weleer, dr. A.J. van der Merwe, ’n Calvinianer van geboorte, voor die Nederlandse beeldhouer Anton Anreith se manjifieke Leeupreekstoel in die eg te laat verbind. 

Toe ons in 1954 Peetie van oom Koos Floors van Matjiesvlei se troue met mooie Beth in die Groote Kerk bywoon, het ek, toe nog op hoërskool, gewens ek kan ook eendag daar trou. Ek en ’n suster het.

Die seremonie in die kerk het ’n geweldige indruk op my ontvanklike, jeugdige gemoed gemaak. Toe “Doktor Appie”, soos hy bekend was, gebef en getoga, die preekstoel bestyg, het hy soos ’n opstygende arend gelyk. Die mense het effens gekoes toe sy stem bulderend deur die dakbalke trek. 

Toe Peetie die baan met Beth in sy arms open nadat hy op die onthaal in die Koffiehuis bewoë geraak het toe sy peetpa, oom Henry Florisdrift, ’n heildronk op die bruidspaar instel en vertel hoe Peetie as weeskind kleintyd skurwe hakskene soos ’n boerbeskuit gehad het van kaalvoet skool toe loop, het ek besluit ek wil ook ’n “resepsie” in die Koffiehuis hê. Die droefheid was van korte duur. Die huweliksgangers het stof uitgedans tot die Cape Argus se Late City Edition laataand in Adderleystraat verskyn het.

Baie jare later gaan groet ek Piet, sterwende aan pankreaskanker, in die Paarl. Hy lê met toe oë; ’n jammerlike skaduwee van die fleurige jong man wat ek 50 jaar gelede voor die preekstoel in die Groote Kerk bewonder het. Ons het nie juis gepraat nie. Toe ek sê, “ek het jou laas in die Koffiehuis gesien”, het hy my hand liggies gedruk terwyl ’n flou glimlaggie oor sy bleek gelaat gespeel het. ’n Week later het hulle hom tussen sy pa en ma se vervalle kliphopies op Matjiesvlei ingespit.

Die Koffiehuis was ook dwarsoor Suid-Afrika beroemd vir die verskeidenheidskonserte met Hendrik Susan se Boere-orkes en die grapmakers, Pieter van der Byl, alias Piet Pompies, en Atterjan Steenkamp, wat in die 1950/’60’s gereeld daar gehou en landwyd oor die Afrikaanse Radiodiens uitgesaai is. Verál Piet Pompies se manewales het mense laat skater. 

Die konserte, geskep deur die toe bekendste Afrikaanse omroeper, Pieter de Waal, was vir jare die gewildste Afrikaanse radioprogram. Wanneer hy in ’n swart aandpak op die verhoog in die Koffiehuis geklim en Hendrik Susan, met briljante musikante, soos die trekklavierspeler Nico Carstens in sy orkes (Susan self het viool gespeel), met die “Blikkiesdorpvastrap” weggeval het, was die toeskouers in die Koffiehuis op hul voete en is radio’s tuis harder gedraai.

Mense het selfs van oral in die Boland spesiaal Kaap toe gery om die konserte by te woon. Uit die noordelike voorstede, waarheen baie plattelanders toe begin verhuis het, het hulle met treine en busse stad toe gery. Daar het hulle mekaar vroegaand in ’n lang tou voor die Koffiehuis verdring om in te kom. Daar was selfs onderonsies. Soms was die Koffiehuis só vol dat daar net staanplek was. Dit was ’n tyd toe Afrikaners gedors het na vermaak in hul eie taal.

Dit was ook die geval met toneelopvoerings. Wanneer die reisende toneelgeselskappe van Paul de Groot, ’n Hollander van geboorte wat as die vader van die Afrikaanse toneel beskou word, Hendrik en Mathilda Hanekom, en later die Nasionale Toneelorganisasie(NTO) met sterre van weleer, soos André Huguenet (sy verhoognaam, sy regte naam was Gert Borstlap) en Wena Naudé, op die platteland getoer het, was kerksale volbespreek. 

Toneelstukke, soos Jochem van Bruggen se Ampie en Mal Hans, Langenhoven se Die Hoop van Suid-Afrika (waarin die speler wat die rol van ’n swarte moes vertolk, hom aand ná aand met Nugget moes besmeer) en Hendrik Brand se Die Swart Hand, het gehore bekoor en ontroer.

Danksy die gebruik van meubels uit ons dorpshuis oorkant die kerksaal op Calvinia om die karige dekor aan te vul, het ons komplimentêre kaartjies in die voorste ry gekry. “Ring side seats” kan jy maar sê.

Daar was altyd “sports”. Toe Die Swart Hand opgevoer word en die skurk in die verhaal, ’n Engelsman, Richard P. Harris, gespeel deur Dewald van der Merwe, ’n Vrystaatse boerseun, op die verhoog doodgeskiet word, het my suster in die gehoor in trane uitgebars. Sy het eers opgehou huil toe my pa haar ná die vertoning in die kleedkamer gaan wys het Richard P. Harris is springlewendig.


Harde waarskuwing


Toe ’n smeulende bom op die punt was om op die verhoog te ontplof, het Floors Arrie, staande agter in die saal (daar was net staanplek oor) te midde van ’n doodse stilte in afwagting op die slag, die spanning verbreek deur kliphard te waarsku: “Pesop nou!” Die stuk het hom só geïnspireer dat hy (met behulp van ’n paar stewige knertse) agterna Jan F.E. Celliers se Dis Al op die kerksaal se trappe in ’n diep, sonore stem geresiteer het. Die applous was oorverdowend toe hy ingesit het met “dis die blond / dis die blou, /dis die veld / dis die lug / en ’n voël draai bowe in eensame vlug – dis al”.

Dit het André Huguenet só beïndruk dat hy Floors ingespan het om ’n donkie in die dorp se koeikamp te gaan vang en saal toe te bring toe Ampie die jaar daarop op Calvinia opgevoer word. Toe die halsstarrige donkie ’n kind voor die vertoning aan sy been byt, het die kind blou moord geskrou. Die donkie het eers laat los toe Floors ’n stoel op sy kop stukkend geslaan en die afgebreekte poot in sy bek gedruk het. Die donkie het opgetree, maar dit was die einde van Floors se loopbaan op die planke.

Ek het dit alles onthou toe my kinders (terwyl ek my sterk, soet, swart Ellis Brown-moerkoffie uit my koppie se piering gedrink, eintlik geslurp het, soos die ou boere dit vroeër gedoen het om van haastigheid nie jou mond te verbrand nie) weer kom vertel hoe hulle espressos in die mall gedrink het.

’n Nuwe geslag kyk vandag daarop neer as jy jou koffie uit ’n piering drink, maar dis hoe dit was – dalk selfs in die Koffiehuis in Kaapstad. Ek is egter in goeie geselskap. Dis hoe genl. Jan Smuts, vermaarde Eerste Minister van weleer, syne gedrink het, die teelepel tussen sy duim en wysvinger op die piering se rand vasgeknyp. Hy het dié gewoonte aangeleer toe die Kakies in die Aglo-Boereoorlog op sy hakke was.

Hy het sy lewe lank daarmee volgehou – selfs tussen adellikes (daar is ’n foto waar hy dit doen terwyl hy in gesprek met George VI van England was tydens die Britse koningsbesoek aan Suid-Afrika in 1947). Hy moes net nog die laaste bietjie gesmelte suikertjies met sy teelepel uit die koppie se boom geskep het vir ’n soetigheidjie vir ’n opgeskote kleintjie aan sy knie. Ek doen dit met my kleinkinders.

* ’n Blink, nuwe geslag kyk vandag daarop neer as jy jou koffie uit ’n piering drink, maar dis hoe dit was – dalk selfs in die Koffiehuis in Kaapstad.

Die Koffiehuis was ook dwarsoor Suid-Afrika beroemd vir die verskeidenheids-konserte met Hendrik Susan se Boere-orkes en die grapmakers, Pieter van der Byl, alias Piet Pompies, en Atterjan Steenkamp, wat in die 1950/’60’s gereeld daar gehou en landwyd oor die Afrikaanse Radiodiens uitgesaai is.

Hierdie artikel het oorspronklik in die Landbouweekblad van 18 Januarie 2013 verskyn.