Dié artikel het in gedenkuitgawe vir Landbouweekblad se 95ste verjaardag verskyn.

Op ’n jeugdige 81 sê Eckart sommer met die invalslag: Die onderhoud moenie oor hom gaan nie; hy was immers in die 1990’s se stormjare in die Suid-Afrikaanse landbou met reëlmaat die skyf vir skerp kritiek, ja, ook in Landbouweekblad.

Daardie kritiek was meestal onregverdig; hy was sy tyd bloot ver vooruit. Vir ’n groot gros boere was sy standpunte in hul destydse gemaklike kokon van beheer net té ingrypend.

Maar toe word dit wat hy al die jare gepredik het, tog waar: Die Suid-Afrikaanse landboubedryf word deur ’n omwenteling getref – met Eckart as stuurman.

Deesdae verkies hy om uit die kollig te bly, maar pols jy hom in private gesprekke oor die landbou in die breë, en spesifiek die ekonomie daarvan, praat dié oud-professor van Maties steeds graag oor daardie tye.

Een laagte- en hoogtepunt staan vir hom kop en skouers bo die res uit: Beheerde bemarking,en die afskaffing daarvan. “Ek verstaan hoekom beheerde bemarking tot stand gekom het. As jy destyds in die landbou gestaan het . . . Boere het swaargekry ná die Anglo-Boereoorlog, toe kom die Eerste Wêreldoorlog met al sy nadraaie, en die Depressie. Daar was ’n sterk behoefte om iets te doen aan die groot armoede onder die kommersiële boere.”

Suid-Afrika was in dié opsig dus nie ’n uitsondering nie. Dít was die oorsprong van regeringsinmenging, met in besonder die Bemarkingswet van 1937 die eindresultaat. “Die verskillende skemas met hul beheerrade onder dié wet en ander wetgewing het onder meer voorsiening gemaak vir statutêre vaste en minimum pryse, eenkanaal-bemarking en verpoeling, asook produksiebeperkings (kwotas).

“Maar onthou nou, die besluite van die beheerrade (saamgestel uit hoofsaaklik produsente) was nog altyd onderworpe aan goedkeuring deur die minister. En soos dit nou maar is, word sekere ‘groeperings’ gevorm met magsposisies; hulle het amper gevoel hulle was onaantasbaar.

“Ná my terugkeer ná drie jaar se studie en navorsing oorsee en my aanstelling as dosent in landbou-ekonomie, eers aan die Universiteit van Natal en toe aan Stellenbosch, het ek tot die slotsom gekom: Hier is fout!

“Lesings aan studente en kortkursusse aan landbouprodusente oor bestuurswese (waaronder die bestuur van risiko inteenstelling met die klem op die vermyding van risiko), bemarking en die belangrikheid van entrepreneurskap (om nie net beter te wees nie, maar anders/vernuwend), was dikwels die reaksie.”

Dan skud hy egter sy kop stadig: “Maar daardie swetterjoel landbouwetgewing wat voorskryf wat, waar en hoeveelheid geproduseer mag word, aan wie dit bemark mag word, my produkte in ’n poel met ander produsente s’n . . . !

“Onder boere wat graag ‘hul eie ding’ wou doen, was daar toenemende ongelukkigheid oor die oormatige en stremmende kultuur van regeringsinmenging in die landbou deur die ‘groeperings’ waarna hierbo verwys word.”

En toe, daar in die 1960’s rond, kom hy as “hardegat, jong snuiter” tot die slotsom hy kan beheerde bemarking in die Suid-Afrikaanse landbou, soos dit toe bestaan het, nie verdedig nie –hoewel hy die oorsprong daarvan verstaan.

Want, het hy vas geglo, ofskoon die vrye mark ook sy foute het, bly dit ’n beter alternatief vir streng beheerde bemarking.

Desondanks het ander krampagtig vasgeklou aan beheer. Aanowerheidskant moes daar ook bedenkinge gewees het omdat die deregulering van die landbou ook in Australië en Nieu-Seeland aan die orde van die dag was.

“Vir my was die laagtepunt die absolute geloof dat beheer noodsaaklik is; dat jy nie daarsonder kan klaarkom nie.”

’n Spotprent van 11 Desember 1998.
’n Spotprent van 11 Desember 1998.

Die aanloop tot sy hoogtepunt het begin toe die destydse landbouminister, Kraai van Niekerk, in 1992 die komitee van ondersoek na beheerde bemarking aangekondig het en Eckart voorsitter gemaak het.

Skielik was hy in boere se visier. “Maar die ander uiters bekwame en hardwerkende lede van die span het my taak as voorsitter makliker gemaak.”

Soos te wagte, het die komitee hom uit die staanspoor in ’n see van emosie bevind waarin die meeste net nie kans gesien het om hulle los te maak van die rokspante van beheer nie.

Toe die komitee se verslag in Desember 1992 bekend gestel is met die aanbevelings dat die Bemarkingswet herroep word en dat ál die beheerrade afgeskaf word (omdat hulle na die komitee se mening nie die beoogde doelstellings van die wet bevredigend aangespreek het nie), was daar groot ongelukkigheid in die georganiseerde landbou en hul affiliasies. Die verslag het ook voorstelle gemaak oor die ontbinding van die rade en die skep van verteenwoordigende bedryfsliggame, asook die instelling van ’n nuwe en meer verteenwoordigende Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR). Soos Eckart dit stel: “All hell was let loose!”

Kort voor lank is ’n komitee van ondersoek (die Basson-komitee) op die been gebring om die bevindings en aanbevelings van die Kassier-komitee in oënskou te neem. Uiteindelik het hulle met ’n verslag vorendag gekom met aanbevelings wat nie wesenlik verskil het van die Kassier-komitee s’n nie.

Toe kom “die stilte voor die storm”, by wyse van spreke: voorbereiding vir die 1994-verkiesing, gevolg deur die Regering van Nasionale Eenheid.

“Op ’n warm somersmiddag, heel ironies op Oukersdag 1996, vieruur die middag, bel Derek Hanekom, toe landbouminister, my en sê jou komitee het gesê beheer moet waai, jy’s voorsitter van die nuwe Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR), loop doen dit nou!

“Asof dit nie ’n groot genoeg skok was nie, ook die volgende: Dit moet binne 12 maande afgehandel word!”

Op 6 Januarie 1997 vergader die lede van die NLBR, adviseurs (adv. Les Kugel en Brendan Bayley) en die personeel (gesekondeer deur die Departement van Landbou) vir die eerste keer in die Dirkie Uys-gebou in Pretoria, “omtrent almal vreemdelinge vir mekaar”.

Wat gevolg het, is later netjies saamgevat deur Brendan in sy monograaf, A Revolution in the Market. The Deregulation of South African Agriculture (Oxford Policy Management, 2000). Daarin beskryf hy ’n revolusieas ’n fundamentele verandering in mag en organisatoriese strukture wat plaasvind in’n relatief kort tydperk.

“Dis presies wat gebeur het binne 12 maande, afgesien van’n paar uitstaande hofsake oor die beheerrade.”

Hoe het hulle dit reggekry? “Eerstens deur die harde werk, enersyds deur die personeel (onder die bekwame leiding van Ingrid du Toit) en raadslede, en andersyds deur die goeie samewerking aan die kant van verreweg die meeste bedrywe en hul beheerrade, met voorlegging van hul planne vir die aanwending van die beheerrade se reserwefondse ter bevordering van hul bedryf deur hoofsaaklik navorsing en die insameling van inligting.”

Van die bedrywe het vasgeskop. “Ek het gesê ek wil nie ou koeie uit die sloot grawe nie, maar een van die bedrywe was moeilik – ons was verplig om die minister te versoek om die raadslede te fire . . .”

Waar staan ons nou? Eckart is oortuig dat Suid-Afrika se landbou in ’n beter toestand is as voor 1997. “Daar is ’n goeie storie om te vertel.”

Van die boere het vinnig aangepas en hul eie ding gedoen, ander het langer geneem, terwyl daar ook diegene was wat nie kans gesien het vir die “vryheid van keuse” nie.

Wat van die toekoms? En sy mening oor mense wat sê die land moet teruggaan na beheer en subsidies?

“Wel, ek glo dit sal seker kom, op die een of ander manier. Ongelukkig bestaan die moontlikheid dat hulle die landbou nou op die een of ander manier wil sosialiseer, met ander woorde staatsinmenging. Hulle noem dit miskien net iets anders.”

“Net soos dit in ’n demokratiese bestel nie haalbaar is om mense wetlik te verbied om na stede te trek nie, is dit ewe onhaalbaar om mense te dwing om terug te gaan na die platteland. Ja, miskien om hul eie huis daar te bou, maar nie om te boer nie.

“Dit maak tog meer sin om eiendomsreg gratis aan die groep in stedelike gebiede te gee, dan het hy/sy iets om te verloor of as sekuriteit vir finansiering aan te bied. En, terloops, op die stelling deur sekere politici dat titelaktes ’n vreemde begrip is in Afrika, kan ’n mens antwoord dat dit net so vreemd in Europa was voor die jaar 1200!

“Soos die meeste Afrika-lande onafhanklik geword het, het hulle deur daardie sosialisering van die landbou gegaan. Maar hulle is nou deur daardie laagte,” sê hy.

Dan raak hy ernstig. “Hopelik sal ons nie deur daardie tranedal hoef te gaan nie. Moet tog nie die landbou probeer manipuleer om ’n meer gelyke verdeling van rykdom te probeer bewerkstellig nie. Dit kan tot die gelyke verdeling van armoedelei.”

Leer mense dan nie uit die verlede nie? vra ek hom terwyl ek opstaan. “Ek het probeer doen wat ek wou doen omdat ek vas geglo het aan die beginsels van die vrye mark.”