Uit: Die Landbouweekblad, 9 Augustus 1955

Op die plaas Elsieskraal, naby Nylstroom, Transvaal, staan 'n pragtige ou maroelaboom. Teen die agtergrond van die uitgestrekte Springbokvlakte, met sy rooigras, setaria, vingergras, stinkgras, bosse en struike, word hierdie hoë boom meer opvallend - net soos 'n reus in 'n kindertuin.

As 'n mens 'n huis op Elsieskraal wil bou, sou die aangewese plek naby die boom wees. Die eienaar van die plaas, adv. JG Strydom, die eerste minister, is dieselfde mening toegedaan.

Op 'n goeie dag verlede jaar het hy aan sy vyftienjarige seun, Gerhardus, die wenk gegee. "As jy eendag op hierdie plaas wil kom boer, moet jy die opstal naby die maroelaboom bou. Maar jy sal natuurlik ook naby die boom vir water moet laat boor, want 'n huis sonder lopende water is nie veel werd nie."

Hierdie gedagte het so by adv. Strydom posgevat dat hy besluit het om dadelik geoloë en boormanne te ontbied. Die deskundiges het taamlik lank met die opname geneem, maar het uiteindelik 'n plek ongeveer 100 tree wes van die boom aangewys. Die uitslag van die boortoetse was 'n pragtige stroom water met 'n afleweringsterkte van 8 000 gellings per uur. Die diepte van die gat was 'n bietjie meer as 100 voet.

Baie in hul skik met die opname, het die geoloë afskeid van die eerste minister, die boorman en Elsieskraal geneem. Toe sê die boorman op kenmerkende wyse aan die premier: "Meneer, ek is nie tevrede met die uitslag nie. Hier moet sterker water naby wees."

Om die man geesdrif nie te demp nie, het die boer hierop geantwoord: "Ja, ek dink self so. En jy weet, ou kêrel, die ou mense op die Vlakte het die gesegde dat waar 'n jakkalsbessiebos staan, daar kry 'n mens gewoonlik baie sterk water. Kom ons soek so 'n bos."

Hulle het een 'n paar honderd tree noord van die boom gekry en die die boorman het aan die werk gespring. Eerlank het adv. Strydom se bewering waarheid geword. Op 'n diepte van ongeveer 80 voet is baie sterk water aangetref. Afleweringstoetse het 20 000 gellings per uur getoon. Die geoloë was dronkgeslaan, en die boer en die boorman het glimlaggend uitgestap. Die storie is diggehou.

In 'n onderhoud met Die Landbouweekblad het adv. Strydom sy planne vir die plaas se toekom uiteengesit. Die ontginning van die ondergrondse water sal syns insiens 'n hele omwenteling in sy boerderystelsel teweegbring. Behalwe die twee genoemde boorgate is daar ook drie ander wat gesamentlik iets minder as 10 000 gellings per uur lewer, en al die water sal in gronddame bewaar en vir die besproeiing van voergewasse gebruik word.

Ongeveer 60 morge sal onder lusern kom, en volgens adv. Strydom behoort sewe snysels jaarliks moontlik te wees. Die kort winterseisoen wat feitlik tot Junie en Julie beperk is, sal dit moontlik maak.

Die lusern sal egter nie as hooi bewaar word nie, maar sal saam met melasse ingekuil word. Adv. Strydom se redes hiervoor is  eerstens dat die maak van hooi gedurende die somermaande 'n moeilike taak is, en tweedens dat hy 'n vermoede het dat hooi nie die voedingswaarde van kuilvoer het nie.

Naby hierdie maroelaboom op Elsieskraal het die ee
Naby hierdie maroelaboom op Elsieskraal het die eerste minister water aangewys.
Hierdie Afrikaner-Korthoring-kalwers word by wyse
Hierdie Afrikaner-Korthoring-kalwers word by wyse van 'n proefneming vet gemaak, en sal op die ouderdom van twee jaar bemark word.
Adv. JG Strydom wys met trots aan een van sy buurm
Adv. JG Strydom wys met trots aan een van sy buurmanne, mnr. JF Engelbrecht, die stroom water wat hy aangewys het.

Die kuilvoer sal aan sy Afrikaner-kudde gevoer word. Tans loop daar ongeveer 525 beeste op die plaas, en hoewel hulle slegs iets oor die 600 morge weiveld tot hul beskikking het, is hulle in puik kondisie, en sien die veld daar ook goed uit. Adv. Strydom skryf dit aan sy kampstelsel en wisselweiding toe.

"Ek kan die waarde van so 'n stelsel nie sterk genoeg beklemtoon nie," het hy gesê. "Indien alle beesboere dit toepas, sal daar nooit 'n tekort aan weiding wees nie," het hy opgemerk.

Die gemiddelde draagkrag van die veld in die omgewing van Elsieskraal word op sewe morge per bees gestel.

Adv. Strydom en sy voorman, mnr. Bothma, is ook besig met proefnemings om basterkalwers vet te maak. Afrikaner-Korthoring-kalwers word op die ouderdom van tussen 18 en 20 maande op kraal gevoer en op die ouderdom van twee jaar bemark. Hulle is egter die mening toegedaan dat drie jaar die regte ouderdom vir bemarking is.

Die eerste minister is een van die grootste voorstanders van wisselboustelsels. Sy lande met 'n oppervlakte van 400 morge is in drie verdeel, en twee daarvan lewer jaarliks 'n mielie-oes, terwyl die ander vir die verbouding van óf ferweelbone óf mungbone gebruik word. Hierdie twee gewasse word vir hooi gekweek, en die hooi is die vernaamste deel van die beeste se wintervoer.

Die mielie-opbrengs op Elsieskraal is besonder hoog. Toe ons die plaas besoek het, was mnr. Bothma juis besig om die oes van 30 morge te dors, en by ons vertrek het daar reeds meer as 600 sakke mielies langs die masjien gestaan. Dit is 'n gemiddelde opbrengs van meer as 20 sakke per morg, en as in aanmerking geneem word dat dit sonder kunsmis behaal is, moet dit volgens enige maatstaf as baie goed beskou word.

Die bougrond op Elsieskraal is die kenmerkende diep, swart turf van die Springbokvlakte. Daar is betreklik min rooi grond; vandaar die verbouing van mielies sonder kunsmis.

Hierdie verskynsel het tydens ons besoek 'n grappige nasleep gehad. Terwyl adv. Strydom besig was om die pyplyn van een van die nuwe boorgate deur te kyk, het 'n reisende kunsmis-verkoopsagent by ons geselskap aangesluit. Hy is 'n Vrystater, en het gevolglik min kennis van die Springbokvlakte. Hy het ook nie geweet aan wie die plaas behoort nie. Hy wou egter verneem of die boer nie in die aankoop van kunsmis belangstel nie.

"My vriend," het adv. Strydom aan die vreemdeling verduidelik. "Jy moet by die rooigrondboere aanklop. Ons maak nog oeste sonder kunsmis."

Ons onderhoud met adv. Strydom, en die besoek sy plaas, het ons sterk onder die indruk gebring dat die eerste minister se belangstelling in die landbou nie net tot die besig van 'n plaas, met 'n voorman daarop, beperk is nie. Trouens, met inagneming van die feit dat hy min tyd tot sy beskikking het, is dit werklik verbasend in watter mate hy op hoogte van boerderysake is.

Sy belangstelling in landbounavorsing oor die algemeen en die uitslae van die proewe by die navorsingstasie Towoomba in die besonder, is veral merkwaardig. Hy is terdeë bewus van die menigte vraagstukke waarmee sy medeboere te kampe het, soos plantesiektes en onkruidbeheer, en hy raai boere aan om meer van die landbou-proefstaties se dienste gebruik te maak. "By hierdie inrigting het ek baie geleer," het hy opgemerk.