Wyle Hans Lombard was nie net een van die suksesvolste vryskutjoernaliste nie, maar ook ’n kleurryke karakter wat nie gehuiwer het om anders te wees nie. Soos toe hy sy eie verjaardagpartytjie in ’n Arabier-gewaad bygewoon het. Hans is in 2016 tydens ’n besoek aan Nampo by Bothaville skielik oorlede, nadat sy kollegas in die landbou nog kort tevore sy 90ste verjaardag saam met hom gevier het.

Monsanto, vir wie hy baie skakelwerk gedoen het, en medelandboujoernaliste het destyds vir Hans ’n verrassingspartytjie in Irene, Pretoria, gehou om sy 80ste verjaardag te vier. Hy is daarheen gelok onder die voorwendsel dat hy foto’s van Arabiese besoekers moes neem. Sy weduwee, Margaret, vertel Hans het die gewaad vroeër in Egipte gekoop. Hy het gedink dit sal gepas wees as hy die besoekers só ontmoet. “Ek dink Hans het vooraf snuf in die neus gekry, maar hy het stilgebly,” sê sy.

Toe klim hy tot sy kollegas se groot verbasing in sy wapperende gewaad uit sy motor. Die partytjie was ’n reusesukses en Hans die Arabier het nóg ’n staaltjie gehad om oor te gesels wanneer hy saam met sy vriende aan sy geliefkoosde drankie, goeie rooiwyn van Suid-Afrika, geteug het. Dit was nie ál prettige “verbintenis” met ’n “Midde-Oosterse man” nie.

Die eertydse minister van landbou, Hendrik Schoeman, het Hans gedurende die sanksiejare van die 1970’s gevra om vir hom ’n besoek aan Amerika en ’n onderhoud met sy Amerikaanse eweknie, Earl Butz, te reël. Dit was in die tye toe Suid-Afrika weens sy politiek as taboe in die wêreld beskou is. Hans het die besoek gereël en die ontmoeting met die Amerikaner het plaasgevind.

Op ’n dag wou hulle gou na die dobbelstad Las Vegas toe vlieg, maar al die vlugte was vol. Hans kry toe vir hulle plek op ’n vliegtuig onder die voorwendsel dat die bruingebrande Hendrik, ’n megaboer uit eie reg, die sultan van Oman is!

Lombard was ’n ywerige versamelaar van kameras. Hier is hy by ’n deel van sy versameling. Foto: Bradley Keylock
Twee swart-witfoto’s wat tydens Hans se besoek aan Moskou geneem is. Op die foto regs staan hy by die Lloyd-motor by een van die ingange na Moskou en op die foto onder is hy voor die Sint Basilius-katedraal op die Rooiplein. Foto’s: verskaf

Veelbesproke Russiese reis

Margaret vertel die landbou en reis was twee van Hans se passies; natuurlik saam met skryf, fotografie en die politiek. “Hy het dikwels die landbou-reis-kombinasie uitgeleef. Dit het begin met ’n besoek presies 60 jaar gelede aan Indië en die Verre-Ooste waar hy ’n artikel geskryf het oor die beesboere in Kobe, Japan, wat hul beeste gereeld bier gegee en die diere gemasseer het. Die eindresultaat was sagte, geurige beesvleis.

“ ’n Ander artikel wat opslae gemaak het, was ná ’n reis na China gedurende die 1980’s toe hy met sy terugkeer oor die Chinese landboupraktyke geskryf het. Die brokkie wat die meeste aandag getrek het, was hoe die regering tydens ’n rotplaag opdrag gegee het elke gesin moes ’n sekere aantal rotte per week eet . . . anders sou die rotte aanhou om die oeste te plunder,” vertel Margaret laggend.

Sy veelbesproke besoek aan Rusland het in 1958 plaasgevind, toe hy Die Vaderland se motorredakteur was. Met die bekendstelling van die Duitse Borgward-motorvervaardiger se nuutste model Lloyd-motor is hy na Duitsland genooi om die nuweling op ’n toetsrit te neem. “Hans was nie tevrede met slegs ’n rit deur Duitsland nie en het van Bremen na Moskou en terug gery. Dit is waarskynlik slegs sy oorredings- en deursettingsvermoë wat verseker het dat hy die ja-woord gekry en die pad kon vat op ’n reis wat uiteindelik oor meer as 10 000 km deur nege lande gestrek het,” onthou Margaret.

Sodoende was Hans die eerste Suid-Afrikaanse joernalis wat Rusland ná die Tweede Wêreldoorlog besoek het.

Hans het ’n lang verbintenis met Landbouweekblad gehad, wat reeds in 1952 begin en tot 2016 gestrek het toe hy oorlede is – ’n hele 64 jaar! Tydens sy loopbaan as vryskutjoernalis en later as hoof van sy eie skakelmaatskappy het hy honderde (dalk duisende) berigte en artikels vir Landbouweekblad geskryf en tallose foto’s vir plasing aangebied. “Daar was dus tydens elke dekade tientalle bladsye met sy kopie en foto’s en soms is die voorbladfoto ook deur hom geneem,” vertel Margaret. Só het Hans ’n onuitwisbare merk op Landbouweekblad se roemryke geskiedenis gemaak.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.