As die geduld, deursettingsvermoë en deeglikheid van 'n Springbok-hengelaar en die fyn oog van 'n bekende model saamgevoeg word, kan 'n mens verwag dat iets goed daaruit gebore moet word. Dit is wat op die plaas Vaalview naby Sasolburg gebeur het, en daaruit is die Vaalview-Charolais-stoetery gebore - 'n stoetery wat in korte tyd naam gemaak het.

Hans en Marlene Bonarius was eintlik stedelinge. Toe koop hulle 'n stukkie grond aan die Transvaal-kant van die Vaalrivier, en Hans besluit om met 'n stokperdjie te begin.

Op 'n dag kom hy met vyf wit diere op sy vragmotor by die huis aan, en Marlene vra: "Wat gaan jy met daardie wit olifante maak?" Dit was die begin van die Vaalviewstoetery, want dit was vyf wit Charolais-koeie.

Van die koeie was dragtig, en 'n rukkie later koop mnr. en mev. Bonarius ook hul eerste bul: Beeskor Danton. Daarna is nog vier vroulike diere bygekoop. Uit die klein groepie diere toe beskikbaar, is in die vyf jaar daarna 'n kudde opgebou wat later uit vyftig koeie en vyf bulle sou bestaan.

Die aanvanklike diere was van goeie gehalte en daar is streng geselekteer om dié gehalte te handhaaf en, waar moontlik, te verbeter. Diere wat nie vir die stoetkudde goed genoeg was nie, is in die kommersiële kudde gebruik, of geslag. En teeldiere vir verkoop moes op dieselfde gehaltepeil as diere vir eie gebruik wees.

Mev. Bonarius het self gekeur en beplan watter bul by watter koei gebruik moet word. As hulle twee stoetbulle nie die presiese eienskappe het vir 'n bepaalde resultaat by 'n bepaalde koei nie, word die regte saad gekoop en K.I. toegepas.

Die gehalte van die diere wat sy geteel het, is deur hul skouprestasies weerspieël. Mev. Bonarius het gesê sy kan nie onthou dat hulle al aan 'n skou deelgeneem het en sonder 'n kampioenlint teruggekeer het nie.

Dit is 'n besondere prestasie as 'n mens onthou dat sy niks van beeste geweet het toe daardie eerste vyf "wit olifante" op haar werf aangekom het nie. Sy het nie eens geweet wat die verskil tussen melk- en vleisbeeste is nie.

Maar omdat sy lief was vir diere en die raad van wyse mense gevolg het, het sy vinnig geleer - ook deur gereeld aan skoue deel te neem en talle te besoek, al het sy nie self vertoon nie. Sy het voorts kursusse oor die ras bygewoon en met flinke begrip gou uit eie ondervinding geput.

Mnr. Bassie Jordaan, by wie hulle die eerste drie beeste gekoop het, het die rigting aangedui deur hulle feitlik te dwing om te gaan skou - net drie maande nadat hulle beesboere geword het. Een van die verse is as junior kampioen aangewys en van toe af het niemand nodig gehad om hulle skoue toe te sleep nie.

Hulle het elke jaar op sowat ses skoue vertoon. Hulle het geglo dit is baie belangrik, "want skoue is die beesteler se vertoonvenster, terwyl 'n mens baie by die beoordelaars kan leer".

Twee bloedlyne

Mev. Bonarius he gesê haar teelprogram berus op twee Amerikaanse bloedlyne. Sy het net twee bulle by die stoetkoeie gebruik, Beeskor Danton, seun van 'n ingevoerde koei en bul, en Vaalview Martin, wat uit 'n ingevoerde koei en die saad van die wêreldbekende bul Sam 951 geteel is.

Die meeste koeie in die kudde is ook uit dié twee bloedlyne, wat teling vergemaklik. Ander koeie is volgens voorkoms en kenmerke uitgesoek en by die bul gebring wat waarskynlik die beste resultate sou lewer. Waar kenmerke nie met die twee beskikbare bulle versterk nie, of weggeteel kan word nie, is K.I. gebruik.

Volgens mev. Bonarius was die beswaar dat Carolais-beeste kalwingsprobleme gee, te wyte aan 'n stigma wat aan die ras kleef omdat verkeerde diere aanvanklik ingevoer is.

In die eerste vyf jaar wat hulle van dié diere het, gehad het hulle geen kalwingsprobleme by stoet- of kruisdiere gehad nie. Sy was egter baie versigtig met haar verse en het hulle eers heeltemal volwasse laat word voordat sy hulle (op 22 maande) die eerste keer by die bul gebring het.

'n Baie strenge siektebeheerprogram is op Vaalview gehandhaaf; daar is gereeld teen alle siektes gespuit. Dié beleid het vrugte afgewerp. Toe knoppiesvelsiekte in die omgewing uitgebreek het, het nie een geval op die plaas voorgekom nie. Teen bosluise word die stoetdiere twee keer per week met die hand gespuit.

Mnr. Bonarius het die plaas beplan, die krale gebou en alles so ingerig dat die diere met so min arbeid as moontlik hanteer kon word.

Daar was destyds sowat 65 ha oulandgras wat toegelaat is om in die lengte uit te groei, sodat dit een keer vir hooi gesny kon word. Daarna is dit tot in die begin van die winter bewei. Verder is voergewasse verbou wat tot kuilvoer verwerk of vir die winter gebaal is.

In die somer word die oulandsgras met geëlektrifiseerde draad in klein kampies verdeel, en in die winter is die diere in klein kampies by die opstal gehou en kry hulle slegs gemaalde mieliekoppe saam met gemaalde oulandsgras en ander ruvoer soos tef.

Voordat hy met die beplanning van die boplaas begin het, het mnr. Bonarius op ander plase gaan kyk hoe dit gedoen word en toe 'n skema uitgewerk wat die beste vir hul omstandighede was. Raad is ook van die departement van landboutegniese dienste verkry. Die hoofdoel was om alles so gerieflik moontlik te maak.

Klein kampies

Klein kampies of krale is naby die opstal gebou. Daar is 32 van sowat 12 m by 12 m wat elk twee koeie hou. Hulle is in eenhede van vier gebou, met een krip in die middel wat al vier bedien en voerkrippe onder dak wat maklik vanaf 'n sleepwa volgemaak kan word. Die dakke dien ook as skuiling vir die koeie.

Tien kampies is vir bulle gebou. Net een bul is in 'n kampie van 4 m by 30 m gehou. Die voer word ook onder 'n dak gegee wat groot genoeg is om skuiling aan die diere te verskaf, en die waterkrippe is aan die ander kant van die kampe om te verseker dat die bulle heelwat moet loop vir oefening.

Vier werkers het alles in die stoetery behartig. Een van die werkers se enigste taak was om al die skoudiere elke dag aan die halter te laat oefen. Mev. Bonarius het gesê dié stelsel is baie suksesvol om die diere goed vir skoue af te rig.

Omdat die koeie twee-twee in klein kampies gehou is, was dit baie maklik om te sien as een op hitte gekom het. Dit was waarskynlik een van die redes waarom die kalfpersentasie van die stoetery die vorige jaar 106 was. Al vyftig die koeie het gekalf, en daar was drie tweelinge. Net drie van die kalfies het gevrek en daar is dus 'n kalfie vir elke koei grootgemaak.

Moet skraal wees

Mev. Bonarius het geglo dat skraal koeie baie beter bul vat as vettes. Terwyl die koeie dragtig was, het sy ook fyn opgelet dat hulle nie te vet word nie, want sy het geglo dat 'n mens dan probleme kan verwag.

Volledige rekords is gehou van die voorgeslag van alle diere wat in die stoetery aangekom het en vir teling uitgesoek is. 'n Koper kon volledige rekords kry saam met bulle wat hy uit die stoetery gekoop het. In die rekords is die vrugbaarheid en die vermoë van die koei om 'n kalf groot te maak, weerspieël.

Om stoetdiere te teel, is 'n langtermynbelegging en die enigste manier waarop 'n mens werklik welslae kan behaal, is om diere te verkoop wat die kopers terugbring, en sy vriende en kenisse saam met hom, om nog diere uit dieselfde stoetery te koop, het mev. Bonarius geglo.