'n Vrou wat 'n oes kon insit en afhaal; 'n vrou wat 'n bees- en wildskarkas so opgesaag en verwerk het dat niks verlore gaan nie; 'n vrou wat so ruim en gereeld konfyt gekook het dat haar groot seun wat geen respek vir brood en konfyt gehad het nie 'n bottelvol op 'n slag kon opeet; 'n vrou wat 'n stukkende strykyster en 'n verstopte pyp in 'n japtrap kon regsien; 'n vrou wat 'n plaaswinkel aan die gang kon hou terwyl sy skoolhou én boer; en 'n vrou wat opgegaan het in die dinge van haar man en kinders.

Só 'n vrou was mev. Jannie du Plessis, vrou van die man wat die landbouleisels by mnr. Hendrik Schoeman oorgeneem het. Met haar vriendelikheid en fyn sin van humor en spot, kon sy so reg in ons boeremense se harte instap.

Daarom is sy voorgestel as 'n vrou van vele fasette: 'n vrou wat 'n erfporsie wat in 1968 na haar kant gekom het sonder twyfel in 'n plaas van 70 morg ingesteek het; 'n vrou wat nie sonder blomme kon lewe nie; nog self seepgekook en bottergemaak het; self geplak en geverf het in die plaashuis en nie aan vermorsing geglo het nie.

"As 'n mens baie melk op die plaas het, gebruik jy dit. Dan maak ek baie melktert en melkkos," het sy in die uitgawe van 10 Oktober 1980 aan Landbouweekblad gesê. "As ek 'n kas perskes persent kry, haal ek genoeg uit vir eet, maar die res lê ek in, want dis tog te lekker om 'n fles oop te maak."

Mev. Du Plessis was ook nie gereeld in 'n ander uitrusting te sien nie. As sy gehou het van 'n goeie rok wat sy reeds in 1970 gekry het, het sy dit sonder skroom steeds in 1980 aangetrek.

Boerkind

Jannie van den Heever het as boerkind naby Louis Trichardt in die distrik Soutpansberg grootgeword. Ná haar skoolopleiding het sy Pretoria toe gekom waar sy haar as onderwysers bekwaam het. Daarna is sy weer na haar geboortewêreld terug om te gaan skoolhou.

Die onderwyser het darem nie Pretoria se stof heeltemal van haar voete afgeskop toe sy terug is Soutpansberg toe nie. 'n Student wat sy tydens 'n toe-oë-afspraak ontmoet het, ene Pietie du Plessis, self 'n boerklong, het hier agtergebly om sy studies te voltooi.

Vyf jaar ná hul ontmoeting het die trouklokke in 1959 vir die paartjie gelui. Toe word sy weer 'n rukkie lank Pretorianer totdat haar man 'n navorsingspos by die Landbounavorsingsinstituut Döhne in Oos-Kaapland aanvaar het.

In 1961 het die Du Plessis-egpaar voltys op Klipspruit in die distrik Lydenburg gaan boer. "Ons het omtrent net 'n Volkswagen en 'n melkkan gehad toe ons op die plaas gekom het. Gelukkig het ek geweet hoe 'n strawwe lewe boerdery kan wees," het sy oor hul beginjare gesê.

Op die plaas het sy haar plek uit die staanspoor volgestaan. Eers was dit sojabone, later 'n melkery, saadmielies en lusern. Later het hulle grotendeels met mielies en beeste geboer.

Hul kinders, Johan, Elmien en Marietjie, het lewe aan Klipspruit se werf gegee. Al drie was lief vir die boerdery.

Die vasvat van die plaasleisels sonder haar man, het begin toe hy 'n LPR geword het. In dié tyd het sy egter nog kans gesien om 'n plaaswinkel te begin en soggens onderwys te gee.

Van 'n melkery en saadmielies kon niemand haar iets vertel nie. Selfs die saadmieliepluime wat voor lig getrek moes word om bestuiwing reg te laat plaasvind, het haar nie ondergekry nie.

Mnr. Du Plessis was lief om sommer met gaste by die huis op te daag, soms oomblikke voor etenstyd. Kos het sy altyd, want dit wat sy het, sit sy met liefde voor.

Net een ding het soms gepla - dat sy nie eens tyd gehad het om in iets anders te verklee as sy die dag besig was om 'n bok te bewerk nie! Dan sal sy so stilletjies in die kombuis sê: "Piet Plessis, ek sweer vir jou skei ek nog!" Dis hoe sy dit egter wou hê, want: "Dis sy huis en ons is lief vir mense."

Met boere kon sy dus saamgesels, want sy was boer en boervrou deur en deur. Sy het geweet hoe hulle voel en dink omdat haar hart self die boereklop in sy binneste gehad het. Dit was ook vir haar lekker om boer te wees.

Onthaal

Op die plaas was die Du Plessis-gesin lief om vleis te braai. Hulle het informele onthale verkies. Saam met braaivleis het sy gewoonlik slaphakskeentjies as een van die slaaie voorgesit en heel vye as nagereg.

Wanneer sy in Kaapstad formeel aan tafel onthaal het, het die spyskaart só gelyk: voorgereg, vishappie, potgebraaide vleisdis, groente wat net 'n klein rukkie gekook is, slaai en as nagereg rolkoek wat afgerol word sodra dit koud is en dan dik met sorbetroomys gesmeer word, weer opgerol is, in die vrieskas gehou is en dan saam met enige lekker sous voorgesit is.

Baie tyd vir stokperdjies was daar nie, maar 'n hekelwerkie het sy altyd gehad. In Kaapstad het sy in die bestuur van die nasionale vroueklub van die parlement gedien. Sy het haar ook dikwels as voordragkunstenares uitgeleef. Sy het gewoonlik monoloë (verkieslik humoristies) opgevoer wat sy self geskryf het.