Twintig vragmotors het op 30 Maart die 1 360 km-lange tog van Middelburg, Mpumalanga, na Springbok in die Noord-Kaap aangepak om voer en ander skenkings vir boere in die droogtegeteisterde Namakwaland te bring.

Mnr. Carel Opperman, voorsitter van die Broodsnyersplaas-boerevereniging, wat die skenking gekoördineer het, sê hulle het oulandsgrasbale, mielies, mieliesemels en ‘n gebalanseerde voerrantsoen wat hulle verkorrel het, geskenk. “Van die boere het mieliemeel ook geskenk, want dis nie net die diere wat sukkel in die droogte nie.”

Ander boere het voer, vragmotors én bestuurders beskikbaar gestel. Omnia Kunsmis het ook voer na Namakwaland gestuur.