Die moegheid stroom van my gesig af. Ek vee die sweet met die agterkant van my hand af, maar dit help nie. Ek dink aan die baie leerwerk wat nog voorlê en weet dat ons vandag vinnig moet werk.

Johannes is traag om te help; hy skreeu op my ons moet die hok ander kant toe skuif. Ek besef ons kan nie, want dis natter daar omdat die dam se water deursyfer. 

Kyk, sê ek, hierdie kant is droog. Maar hy wil niks weet nie. Die hok is swaar om alleen te skuif. 

Dit is vier sinkplate aan vier pale vasgekap, wat ’n varkhok vorm. Jy moet uitkyk vir die varke se pote en as daar kleintjies is, is dit nag, want jy moet hulle eers uit die hok kry.  Om by die ma-sog verby te kom is moeilikheid soek. 

Waarom kan Pa nie ’n hok bou soos ander ooms op ander plase nie? 

My oog vang ’n stukkie gedroogde varkmis wat buite die hok lê. Terwyl Johannes nog so staan en skree, kry ek ’n stokkie, steek dit netjies deur die mis en druk dit met een beweging in sy mond. 

“Aukaukauk, wat doen jy nou?!” gil hy en spoeg vir ’n vale. 

Ek lag so dat ek nie kan praat nie. 

“Watse goed het jy in my mond gesteek?” wil hy weet. 

“Dis mis,” sê ek.

Hy skree nog erger.

“Ek gaan vir Oubaas sê, ek gaan vir Oubaas sê,” skreeu hy en hardloop huis se kant toe. 

Eers werk, dan leer

Nouja, dink ek, vandag spring ek seker riem. Dit gee my krag om die hok self te skuif. Daarna moet ek nog die marog en die patat­ranke uittrek en die varke se waterbak skoon en vol maak.

Toe ek buk om die ranke uit te trek, praat  Johannes agter my: “Het jy al marog getrek?”

“Nee, nog nie. En wat sê Oubaas?” vra ek.

“Hy het niks gesê nie,” brom Johannes dikbek. “Ons moet nog hoenders toe en dan gaan water dra.” “Ja,” sê ek, “dan nog kole en hout vir die stoof.” 

Hy besef nie ek moet nog agter die boeke inskuif nie. Ek moet hierdie jaar deurkom, want dan is dit nog net een jaar voor ek uit die huis is. Met die fynhoutjies in my arms stap ek traag huis toe. Bang vir wat op my wag.

“Sanna?” roep my pa toe hy my hoor. “Kom hier! Wat vang jy met Johannes aan?” vra hy toe ek by hom gaan staan. 

Pa lyk nie kwaad nie en dan begin Ma saggies lag. Ek vertel hulle als en ons lag lekker saam.

“Jy moet net onthou, Johannes is die enigste een wat jou kan help om jou werk te doen. Die ander mense het ander dinge om te doen.”

“Ja, Pa,” antwoord ek en stap kamer toe om met die leerdery te begin.

* Hierdie artikel het oorspronklik in die Landbouweekblad verskyn.