Ben wóú by my bly. Al sy voorgangers het weggeloop, maar hy was uit die staanspoor tuis – en so welkom! ’n Vriendin se kleinkinders het hom, teen alle wetsgehoorsaamheid in, langs die pad opgetel en huis toe gebring.

Hy kon egter nie met videospeletjies meeding nie en was vinnig alleen en verlate buite op hul werf. Ek en my vriendin sou hom gaan aflaai het waar hy opgetel is, maar ek wou hom net ’n klein rukkie hou, want ek voel aangetrokke tot skilpaaie. Hulle het ’n rustige onverstoorbaarheid en weet presies wat hulle wil hê – en waarheen hulle op pad is.

Toe trek Ben by ons in. Hy wou met alle geweld in my dogter se kamer slaap. Gegewe die feit dat hy nie ge-potty train was nie en by tye erg gestink het, het sy egter in haar spore vasgesteek. Dit was aanskoulik om dié twee hardkoppiges se “geveg” dop te hou. Ben, met sy grote lyf, sou teen sy opponent se voet roei en stoei om verby die deurkosyn die kamer te probeer inkom. 

Op haar beurt het Ann geweier om kop te gee. Om die vrede te bewaar, het ek eindelik vir Ben op ’n ander plek probeer tuismaak. Erg beneuk het Ben besluit om sy eie slaapplek te gaan soek. Met die wegstap, het die kabels van die DVD-speler aan die dop agter sy nek vasgehaak. Soos ’n kragman sleep hy toe (heel onbewustelik) die DVD-speler van sy kassie af. 

Ek het dit nie teen hom gehou dat die DVD-speler daarna stukkend was nie, maar daar moes wel onbepaald iets aan sy liggaamsreuke gedoen word.

Eerste bad

En met Google tot jou beskikking, is niks meer ontoeganklik of onbekend nie. Binne ’n japtrap en met groot opgewondenheid het ons uitgesien na Ben se eerste bad. En so ampertjies was dit ook sy laaste, want die water was ’n bietjie te diep en ek het net betyds die lugborrels aan die kant van sy mond sien uitkom. 

Die badprop is inderhaas uitgetrek en nuwe, skoon water ingetap. Dit wou voorkom of die louwarm water die spysverteringspiere lekker laat verslap het. Gelukkig was dit waarmee gehandel moes word, bloot plantmateriaal en kon ’n mens dit met ’n sif uitskep voor nuwe water ingetap is en die skropproses begin het. 

Blink dop, donker gemoed

Ná elke badsessie het Ben se dop soos ’n nuwe sikspens geblink. Sy gemoed was egter maar donker wanneer hy vir ’n paar uur uit die huis gestorm het om eers te gaan kalmeer.

Ben is lankal teruggeplaas in sy natuurlike habitat. Maar ek sal altyd aan hom dink as ’n kleurryke karakter wat die huishouding deur sy teenwoordigheid met warmte en vreugde gevul het.

Hierdie artikel het oorspronklik in die Landbouweekblad-uitgawe van 22 Februarie 2013 verskyn.