Uit: Landbouweekblad, 4 November 2016

In 1991 en 1992 was ek in die provinsie Limpopo verbonde aan ’n skool ongeveer 30 km van die Krugerwildtuin af. Daardie jare wou die droogte ons ook nie los nie. Die warm westewind het die veld droog en blink soos glas gewaai en dag in en dag uit was die eentonige psalmpie van sprinkaan en sonbesie sonder ophou in ons ore. Die Shingwe­dzirivier, wat die toeristekamp met dieselfde naam van water voorsien, het naby ons dorp ontspring. Die droë en warm rivierbedding in die wildtuin het mens en dier soos ’n vyand aangegluur. Die Parkeraad het oorweeg om dié ruskamp te sluit tot die rivier weer vloei.

Ons skool se Landsdiens-en-ekoklub het ’n fietstoer na die Wildtuingrens onderneem en op ons grondpadroete het ons nie minder nie as 22 beeskarkasse getel. Dwarrelwindjies het oral duiweldansies uitgevoer, daar was geen grassprietjie sigbaar nie en selfs die mopanieblare is deur die diere van die grond af opgelek. Oral bokant ons het aasvoëls in die lug gesirkel en gedraai. Ons was glad nie bekommerd om by die grens, in die rivierbedding onder twee reuse-wildevye, vir die naweek kamp op te slaan nie. Geen lafenis is tog vir die volgende paar weke voorspel nie.

Biddiens vir reën

Maandag, terug by die skool, het die personeel besluit om die Vrydagoggend ’n biduur vir reën te hou. Min het ons tóé geweet dat ons binnekort kindergeloof in die praktyk en ’n groot wonderwerk sou aanskou. Dis geen wonder dat Jesus by geleentheid gesê het dat ons grootmense die geloof en vertroue van kinders moet hê nie.

Die leerlinge is in groepies van agt ingedeel en op die rugbyveld versprei. Elke kind het ’n geleentheid gekry om in sy groepie te bid. Die erns waarmee veral die kinders, maar ook die personeel en ouers, hul harte uitgestort het, bly ons nog altyd by.

Om sewe-uur die oggend was dit reeds snikheet, wolkloos en die hemel verblindend blou. Die reuk van stof van die dooie veld was in ons neusgate.

Toe die skool dié Vrydag vir die naweek sluit, was daar nog geen wolkie sigbaar nie en die kwik het tot bo 40 °C gestyg. Om drie-uur het ’n ligte bries die wolkies op die horison nader gewink en donker wolke het begin saampak. Later het die asem van die wind weggeraak en vet druppels het op ’n drafstappie die aarde begin laaf. Toe die veld se ergste dors ná ’n lang ruk geles is, het die hemel oopgeskeur en die reën het gesputter en spat.

Die Heer het alles sopnat geseën. Oral in die strate het ouers en kinders saam met my en Vroulief juigend in die reën rondgehardloop om dié wonderwerk te geniet.Ian, ’n haasbek graad-eentjie, se geloof was so versterk dat hy daardie aand, met handjies in sy broeksak, voor sy ouers gaan staan en ewe kordaat verklaar het: “As dit weer droog is, moet Pa en Ma net sê, dan bid ons weer.”

Die Maandag het ons verneem dat die Shingwedzirivier by die ruskamp breed vloei en dat daar geen nodigheid is om die kamp te sluit nie. Wie kan ná hierdie gebeure twyfel dat wonderwerke nog wél bestaan?Woensdagoggend voor skool was daar ’n klop aan my kantoordeur. Voor my het ons hoofseun- en dogter, twee Koningskinders, gestaan: “Meneer, verlede Vrydag is ons gebede verhoor en het ons ’n wonderwerk beleef. Nou het ons kinders ’n bietjie onder mekaar gesels. Kan ons nie asseblief hierdie Vrydag weer op die rugbyveld bymekaarkom en ’n dankdiens hou nie?”

Toe hulle my kantoor verlaat, het ek my kop in skaamte laat sak. Jesus se woorde nadat hy tien melaatses genees het, het by my opgekom: “Het Ek nie tien gesond gemaak en net één keer terug om dankie te sê nie?” Is ons ou volkie nie vandag maar nog dieselfde as 2 000 jaar gelede nie?

En ons boere? Ons mag nooit onsgeloof en vertroue verloor nie, want as dít gebeur, neem vrees en angs oor. Dis vernietigend. En wanneer die reën weer eendag sy vaal karos oor ons velde trek, moet ons asseblief nie só besig wees om te ploeg en te plant dat ons heeltemal vergeet om dankie te sê nie.

Kobus Steyn was 33 jaar in die onderwys voor hy in 1996 afgetree het. Hy woon tans op ’n sitrusplasie naby Mooinooi.