Ouma het geweet wat elke keer op hulle wag, daarom is alles “kleinseun-bestand” gemaak. Maar selfs dít het nie veel gehelp nie, want nuwe kattekwaad is telkens uitgedink. Drie van die ses kleinseuns was pastoriekinders en dit het sake nog verder vererger (met apologie aan predikante). 

Die oudste kleinseun was so 13 en min somers het hom en die volgende drie ander geskei. Derick, die jongste, was sowat drie jaar jonger as die res. Niks was veilig met dié ses in die nabyheid nie. Ouma se blikke Milo en kondensmelk, ingemaakte vrugte, Oupa se biltong op die stoep en die weglêhenne se eiers het geheimsinnig verdwyn.

Duiwe, patryse, fisante en tarentale moes bontstaan voor die windbukse en ketties. Daar is saans gereeld voëltjiebraai gehou, gebad, huisgodsdiens gehou en dan bed toe gegaan. Teen daardie tyd het selfs hul bewaarengele ’n dankbare sug gegee.

Jongste word getoets

Sommige “avonture” was egter net vir die oudste vyf beskore en dan moes Derick by Ouma en Oupa bly. Toe daar een oggend ’n nuwe avontuur vir die oudste vyf “manne” beplan is, het Derick voet dwarsgesit. Hy gaan saam, want hulle durf nie teen hom diskrimineer nie. Hy kan mos g’n daarvoor help dat hy ’n agtergeblewene is wat ouderdom en postuur betref nie. 

Eers het hulle hom met miskoeke probeer terugdryf, maar later is grofgeskut van maroelas, karkoere en suurklappers ingespan. Alles vergeefs. Toe is daar maar gou indaba gehou en is besluit dat Derick eers ’n toets by die rivier moet slaag. Die rivier is opgedam met ’n breë sementwal en daar is toe van hom verwag om aan die diep kant in te duik en na ’n eiland te swem.

Vyf paar oë het hom dopgehou toe hy sierlik in die troebel water induik. Toe daar na ’n halfminuut slegs borrels bokant die water verskyn, het van die “manne” ingeduik en die slap liggaampie op die graswal uitgesleep. Hulle het hom om en om gerol om moontlike water uit sy longe te probeer kry, maar toe dit nie help nie, het hulle om die beurt kunsmatige asemhaling begin toepas. Steeds het die knapie slap en met toe oë bly lê. Toe skop die pastorie-opvoeding in. Al wat nou nog oorbly, is om ernstig te bid dat hulle boetie en nefie se lewe gespaar moet word.

Gebede en beloftes

Plegtig vat die vyf hande en ernstige gebede word opgestuur. Wanneer een klaar gebid het, word daar eers gou geloer om vas te stel of die lewe nie teruggekeer het nie. Nog steeds lê die knapie roerloos en met toe oë. Toe die jongste van die vyf “manne” aan die beurt kom, was snikke ver hoorbaar en het die trane vrylik gevloei.

Hy besluit toe om soos Pa sy hande op sy boetie te lê en met Pa se gebedstem los te trek. Sy gebed was die vurigste van almal en toe hy namens almal plegtig belowe dat hulle nooit weer lelik teen Derick sal optree nie en dat hy van nou af alles saam met hulle kan doen, het die figuurtjie geruk en met ’n diep asemteug sy oë oopgemaak. 

Verwilderd het hy die traanbevlekte gesigte om hom bekyk en orent gesukkel. Gewillige hande en jubelende harte het die jongste op sy wankelrige bene gehelp en hom met oorgawe omhels. Halfdronk het hy weggestrompel en tussen die populiere verdwyn terwyl vyf verwese, maar tog dankbare “manne”, hom agterna staar.

Dis ook maar goed hulle kon nie die breë glimlag op die tenger mannetjie se gesig sien nie, want dan het daar beslis niks van hul plegtige belofte gekom nie.

* Hierdie artikel het oorspronklik in die Landbouweekblad van 18 Maart 2016 verskyn.