My ouer broer was op skool toe die ploegreëns in 1951 val en ek moes as sewejarige seuntjie die trekspan voor die ploeg lei. Die eselwa is die oggend gelaai met saadkoring, beddegoed en voer vir die trekgoed. Grootoog het ek gekyk hoe Pa-hulle die groen Rudsakploeg se wiele ghries en met osrieme agter op die wa vasmaak. 

Pa was ’n streng man en ek sweer hy kon met sy kwaai oë ’n vlieg vrek kyk. Sy jonger broer, Gideon, was ’n kindervriend en ek het van kleins af soos ’n hondjie agter hom aangedraf. Ek was ’n beteuterde bakoor-seuntjie en my maer lyfie is deur my ouer broer se groter klere ingesluk. Sy groot baadjie het soos ’n jas oor my knietjies gehang en is voor my bors met ’n doekspeld vasgesteek. Die baadjie se moue is tot by my elmboë opgerol en ek het gelyk soos ’n weeskind wat uit die kinderhuis weggeloop het.

Toe ons die agtermiddag by die lande kom, is daar uitgespan en die trekgoed voor die drievoorploeg ingespan. Agter het Pa se ses esels getrek en heel voor die twee ryperde. Oom Gideon het die twee perde met ’n riem aanmekaar gekoppel en vir my die leitou gegee.

Ek het benoud opgekyk na die groot perde. In die trens het Sieraad se wit oë wild rondgerol en hy het hard op sy stang gebyt. Sy neusvleuels was wyd oopgesper en kort-kort het hy ’n beneukte snorkie gegee. Onder sy bolip het sy lang, geel, krom voortande uitgeloer. 

Oom Gideon het die riem vir my aangegee en vaderlik gemaan: “Boesman (sy karrienaam vir my), hou die tou styf en moenie lat die perde jou raaktrap nie.” Ek het skytbang na Sieraad en Sterling se groot voorhoewe gekyk en dan na my kaal voetjies. Ek het beangs onder my vaal hoedjie na oom Gideon opgekyk en my dun beentjies met die groot knieknoppe het soos ’n wees volstruiskuiken s’n liggies gebewe.

Oom Gideon moes my vrees gesien het, want hy het beskermend oor my koppie gevrywe. “Onthou, as ons by die land se koppenent kom, sal ek die ploeg uitknip en dan sal ek vir jou skree om te draai. Dan draai jy hotom . . . nie te kort nie, want dan kan die esels oorstring trap, verstaan jy, Boesman?” het hy gevra en toe met die lang sweep agtertoe gestap. Hy het weer omgedraai en verder georder: “Boesman, as ek sê ‘vat!’, dan moet jy die tou styf hou – stap reguit na jou pa toe daar voor waar hy op die saaisak sit.”  

Ek het my koppie geknik en voor aan die tou begin rem. Toe skree hy: “Vat!” Ek het senuagtig weggespring en die span reguit na Pa toe gelei. Terwyl ek drafstap, wonder ek wat is ‘hotom’? Voor ek my kom kry, toe roep hy: “Koooooom!”  Ek het wild omgevlieg en toe gil hy: “Nie haarom nie, hotom!” Ek het verbouereerd anderkant toe omgespring, want Sterling se warm asem het in my broekgat geblaas. Voor my het Pa, met die saaisak oor sy skouer, ritmies met die hand die koring heen en weer gestrooi.

Toe ons by die volgende draai kom, prys oom Gideon: “Mooi so, nou hou my kind net die ploegvoor – ek sal die span warm klop.” Nadat Pa ’n paar akkers vir die nagskof gesaai het, het ons kort voor sononder uitgespan en Pa is terug huis toe. Weerskante van die wa se disselboom is ’n seilkrippie vasgegespe en oom Gideon het vir elke esel en perd ’n bietjie kaf en ’n stroopblik-rog afgemeet, terwyl hy met hulle gesels. “Maaifoelies, julle is darem uitgelate – kyk hoe natgesweet. Maar so ken ek vir ploegtrek.” 


Gebedjie langs die vuur

Hy het vir ons ’n groot vuur in die takskerm gemaak wat hulle vroeër haastig opgeslaan het. Toe dit donker word, het ek ál nader aan oom Gideon geskuif, want ’n uil het kort-kort uit die doringbome geroep en dan het sy maat in die verte geantwoord. My kop het geruk toe ’n gammajakkals se skril getjank deur die aand­stilte sny. Ek het nog ’n tydjie die donkerte ingetuur en toe my broodjie stadig geëet.

My kop het later begin visvang en ek het my beentjies oopgevou om vir oulaas warm te raak. Oom Gideon het oorkant op die kafsak gesit en sy pyp opgesteek. Ek het my beentjies toegeklap soos ’n hond wat na ’n lastige vlieg hap, want ek het nog nie onderbroek gedra nie.

Oom Gideon het opgestaan, hom uitgerek en toe na die ooste getuur. “Ons moet gaan inkruip, ou Boesman, want as die maan môre-oggend voordag opkom, moet ons inspan.” 

“Wanneer kom die maan op, Oompie?” het ek gevra. “As die Driekoning daar kom hang,” het hy met sy krom voorvinger in die lug beduie.

Oom Gideon het die lantern opgesteek en toe met sy groot veldskoene die warm vuur doodgetrap. “Boesman, ek het agter onder die wa op die duikerkleedjie vir jou ’n grondkooi gemaak, maar kom ons gaan staan eers eenkant dat jy nie vannag jou kooi natmaak nie.”

In die aandstilte kon ons hoor hoe die esels en perde die rog onder hul groot tande fyn maal en kort-kort het ’n esel sy voet hard gestamp.  “Hoekom stamp hulle hulle se voete so, Oompie?” Hy het sy broek toegeknoop en verduidelik: “My kind, dit raak snags baie koud hier langs die Bitterrivier en hul bene raak styf van die koue. Môre-oggend kan jy seker wees is die wêreld spierwit geryp . . . dis hoekom die oumense vir hierdie plek ‘Armbakkies’ gedoop het.” 

Ek het nie verder uitgevra nie, want die koue het my van agter bekruip. Toe ek my koue lyfie met klere en al onder die harige velkombers inwurm, het ek ál banger geword, want in die verte het ’n jakkals begin skree. Ek het op my knietjies omgedraai om my gebedjie op te sê.

Ek het geruk soos ek skrik toe ’n esel my met ’n harde proes onderbreek. “Ag, Heretjie, help my tog vannag dat Sieraad my nie sal byt of my voetjies raaktrap nie. En as dit kan wees . . . ’n onderbroekie. Lat Ma tog ’n slag vir my ’n onderbroekie by die smous koop . . . assamblieftog, Heretjie. Amen.” 

Ek het wakkergeskrik toe oom Gideon aan my skud. Ek het my ogies gevryf en in die donkerte na my hoedjie gesoek. Op die rand het ’n halfmaan gehang en in die skerm het ’n staanvuur gebrand.  “Kom vat vir jou koffetjies, ou Boesman, solat ons kan inspan.” 

Ek het opgespring en vuur toe gehol en my soos ’n wurm al in die rondte gedraai om my warm te maak. Oom Gideon het die swartgebrande koffieblik vinnig met sy kaalhande van die kole afgehaal en vir ons ingegooi. Terwyl hy my bekertjie roer, kyk hy na my kaal voetjies. 

“Kortendag moet jou pa vir jou ook ’n paar velskoentjies maak, want ’n man wat al kan ploeglei, moet voetgoed hê,” het hy my liggies geprys. Die kafsak langs die vuur was natgedou en ek het die lastige watertjie onder my neus met my baadjiemou afgevee en toe blaas-blaas my koffie gedrink.

Veels te gou na my sin het hy sy beker neergesit, opgestaan en die lantern gevat. “Sluk-sluk, ou Boesman, ons moet inspan.” Ek het vir oulaas my handjies warm gemaak en toe agter die lanternlig aangedraf. Toe ons naderkom, het die twee perde saggies gerunnik en in die dowwe lig het hul oë geblink. Hy het die lantern vir my aangegee. “Lig vir oompie, ek sal inspan.”  

Bleekbok en Springbok was die agteresels . . . getrou en sonder geite. Naasagter is die beneukte Steenbok, wat soms kopslaan, ingespan en langs hom Klouterbok, die kriewelgat, soos Pa hom altyd genoem het. Hotvoor het Donkerbok met sy spitsoortjies getrek en langs hom die op-en-wakker Glansbok. Voor het oom Gideon sy ryperd, Sterling, ingespan en langs hom, Sieraad, Oupa se haastige wit­skimmelperd.

Oom Gideon het vorentoe gekom, die sweepstok in die nat grond gedruk en die leiriem  langer gemaak “Boesman, hou die ploegvoor en ek sal vir jou roep wanneer jy moet draai.” Hy het sy pyp opgesteek, die sweepstok uit die grond getrek en vir oulaas gewaarsku: “My kind, oppas tog dat die perde jou nie raaktrap nie . . . hou die leiriem die heeltyd styf.”

“Vat!” het hy oomblikke later gebulder. Ek het vorentoe gespring en die span in die dowwe maanlig na die ploegvoor gelei. Agter het ek dofweg gehoor hoe hy die Rudsak inknip en toe kraak die trekketting. Ronde vir ronde het die drieskaarploeg die aarde omgekeer en in die stil naglug het die geur van varsgeploegde grond gehang.

Kort-kort het ’n esel agter my gehoes wanneer sy keel teen die borsplaat toetrek. Voor het die twee perde se tande op hul stange geknars. Kort-kort het een van die trekdiere ’n harde rogpoepie in die oggendstilte gelos as die ploeg deur die taai klei sy pad oopskeur. Agter my kon ek die perde se warm, jagende asems ruik, want ploegtrek is nie speletjies nie.

Die koue van die voordagmôre het stadig maar seker toegeslaan, want jy kon hoor hoe die grond kraak as die hoewe van die esels deur die kors trap. In die maanlig het die dou geblink op die sooie wat die ploeg gooi. ’n Geniepsige luggie het begin byt en my tandjies het opmekaar begin klap. My half verkluimde handjies het krom en styf verbete die tou probeer vasklem. 

Die vrees dat Sieraad my kan byt, het vlak in my binneste kom lê en ek het kort-kort in my verbeelding gesien hoe sy lang voortande my broekgat hap. Ek het my ruggie al krommer getrek, want hy kon my ou maer lyfie middeldeur byt, soos Lady met die muskeljaatkat wat Ma se hoenders gevang het nou die dag. Ver agter my het oom Gideon ’n deuntjie gefluit en kort-kort die agteresels aangepraat.

Onverwags het ’n verdomde naguiltjie vlak voor my opgevlieg. Verskrik het ek teruggesteier, terwyl die perde hul kop opruk. Ek het gegil toe Sieraad se groot klou my voetjie vastrap en ek het tussen die pote van die trekgoed beland.  Ek het ’n hengse bek opgesit en oom Gideon het gelukkig met ’n lang, skril gefluit die trekspan gou tot stilstand gebring.

Die esels het elkeen ’n harde snork gegee toe die rasende ding tussen hul bene deurkruip. Oom Gideon het my soos ’n lappop opgetel en die nat grond van my kleertjies afgeslaan. “Sierraad het my raakgetrap,” het ek aanmekaar gesnik, terwyl hy my vashou. “Toemaar, as Oompie weer die koringmeul inspan, sal ek die vuiles se gat warm klop,” het hy my getroos. Hy het ’n vuurhoutjie gestryk en na my voetjie gekyk. “Mastag, man, hy het mos jou hakskeen se vel afgetrap!”

Toe ek die bloed sien, het ek harder gesnik. “My . . . hoed . . . is weg . . . ek wil nie meer lei nie . . .”  Oom Gideon het besef dat hy sy kaarte nou reg moes speel, anders is hy sonder ’n touleier. Hy het weer ’n vuurhoutjie gestryk en my hoedjie tussen die esels se pote uitgehaal en weer op my koppie gesit. “Vat jy die sweep – Oompie sal hulle tot by die land se koppenent lei en dan maak ek eers vir ons ’n lekker vuur.”

Terwyl hy sukkel om die vuur aan die brand te kry, het my lyfie gebibber van die koue. Onderwyl die taaibosvuur lekker hoog brand, het ek my verkluimde handjies naby die vlamme gehou . . . toe loop my trane, want toe kom die pyn.


Troefkaart

In die vuurlig het die span trekgoed gestaan en die wasem het uit hul natgeswete lywe getrek. Oom Gideon het my getroos en toe afgekyk na my geswelde voet. “Tag, ou Boesman, die bleddie perd het mos jou voet lelik getrap. Ek dink ons span hom met die volgende skof heel agter in – dan sal hy bars.”

Hy het omgedraai en na die ooste gekyk. “Die dagster is al uit – netnoumaars breek die dag en as die son uitkom, span ons uit en dan eet ons brekfis.” Ek het my trane afgevee en met nuwe belangstelling na hom geluister. Hy het in sy baadjiesak gevroetel en sy troefkaart uitgehaal – ’n lekker, effe vuil van die tabakstof, en dit vir my gegee. Terwyl ek sukkel om dit skoon te suig, het hy liefdevol oor my koppie gevryf. “Nou’s ons lekker warm, gaan vat maar weer vir ons die tou dat ons die skof kan klaarmaak.”

Toe ek effe huiwer, sê hy weer: “Onthou, my kind, as ons uitspan, gaan ons lekker brekfis eet.” Ek het gehoorsaam die tou gaan vat en terwyl ons ploeg, was my gedagtes kort-kort by die brekfis. 

Waar sou hy die vis vandaan kry? Later het dit begin lig raak en die akker het einde se kant toe gestaan. Toe die son oor Soutfontein se rand loer, het oom Gideon die ploeg regoor die wa uitgeknip en ’n lang fluit gegee. Ons het uitgespan en die esels gaan voer gee.

Ek kon nie wag om die vis te eet wat hy my belowe het nie. Toe die vuurtjie lekker brand, het hy vir ons elkeen ’n beker koffie gegooi en vir my ’n sny brood gegee. Terwyl my tande in die botter spoormaak, het ek by myself gewonder wanneer hy die vis uithaal waarmee hy voordagoggend so gebrêk het. Ek het hom egter nie daarna uitgevra nie, maar sy belofte het in my koppie bly vassteek.

Eers in Wallekraal se laerskool het ek by antie Visser, ons juffrou, geleer wat brekfis beteken.

* Hierdie artikel het oorspronklik in die Landbouweekblad van 28 Oktober 2016 verskyn.