Die “goeie saad” moet gesaai word, al val dit soms op die harde pad of tussen die onkruid. Soms word  vreemde metodes gebruik om die akker vol te kry met vrugdraende siele. Af en toe gebeur daar in ’n kerkdiens ook dinge wat ’n predikant noop om maar liewer sy oë op sy aantekeninge te hou as om oogkontak met die gemeente te maak. 

Ons ou plattelandse dorpie het veral die boeregemeenskap bedien. Oudoom, soos groot en klein ons predikant genoem het, het graag simbole uit die boerdery-omgewing gebruik om meer trefkrag aan sy boodskap te gee: amandelbloeisels, granate, geurige olies en ’n ramshoring.

Een betrokke Sondag het die preek oor die wederkoms, die dag as die laaste basuin blaas, gehandel. Om op ’n ramshoring, simbool van die basuin, te blaas, sou net die nodige trefkrag aan die saaier se goeie saad gee.

Oom Gert, turksvy-en-grondboontjieboer met ’n hele paar somers agter die rug, het met sy gesinnetjie so halfpad van voor aan die regterkant van die kerk ingeskuif – oom Gert direk langs die paadjie. Dis ’n belangrike onderwerp en die “goeie grond” is al vir ’n hele paar Sondae voorberei vir vandag se preek. Dis nie net die nege-en-negentig opregtes wat opgedaag het nie, maar ook ’n hele paar afgedwaaldes.

Oom Gert het egter ’n klein probleempie gehad: ’n dowe regteroor en ’n uitstekende linkeroor. Sy linkeroor was só fyn ingestel dat hy vyf tree verder ’n kopspeld op ’n dik mat kon hoor val.

’n Halfuur lank het Oudoom sy boodskap só oortuigend oorgedra dat nie net die afgedwaaldes nie, maar ook die getroues gewonder het of hul harte nie dalk ook ’n klipbank of ’n onkruidland is nie. Toe hulle boonop genooi word om hul oë te sluit en met geboë hoofde hul harte te ondersoek, was daar ’n eensgesindheid soos wat jy net op Loftus kry.

RAMSHORING PRAAT

Met die gemeente se oë gesluit en ondersoekend na binne gerig, het die prediker ’n ramshoring (gemaak van koedoehoring) onder die kansel uitgehaal en by die sydeur uitgeglip. Saggies het hy by die hoofdeur ingesluip en met welgevalle sy biddende gemeente betrag terwyl hy in die paadjie afstap.

In die middel van die kerk, regoor oom Gert se goeie oor, het hy die ramshoring die praatwerk laat doen. Teen dié tyd het oom Gert geweet die laaste basuin sal hoorbaar wees oor die hele aarde, maar nooit het hy kon dink dat dié dag so naby is en dat dit so oorverdowend sou wees nie.

Sy reaksie was oombliklik. Sy bene het styfgeskop terwyl hy effens uit die bank opgestyg en amper dadelik weer teruggeval het. Met ’n rooi gesig, verstarde oë en ’n lip wat skeeftrek soos ’n donkie wat balk, het hy vorentoe geruk. En toe kry hy sy stem terug. ’n Paar gekruide woorde uit sy kinderjare word opgediep en rol saam met sy gille oor sy bloedlose lippe. Beangs kyk hy rond om vas te stel of hy nie dalk die enigste is wat agtergebly het nie.  

Miskien het hierdie gebeurtenis die gemeente meer laat nadink oor die sekerheid van die wederkoms. Miskien het die goeie saad wat daardie oggend gesaai is, tog ook op goeie grond geval. Die volgende paar Sondae het die boere in hul menigtes opgedaag en die kerk was tjok en blok. 

Maar oom Gert, groot jagter wat hy was, het geweier om weer ’n koedoebul te skiet. Die horings is glo té geskik vir die maak van ramshorings.

Hierdie artikel het oorspronklik in die Landbouweekblad van 28 Junie 2013 verskyn.