Op baie plase word daar elke winter gejag, biltong gemaak en bees (en soms ook ’n varkie) geslag. En op elke plaas glo elkeen natuurlik hulle het die beste resepte. 

Voor jy die eindproduk kry, moet ’n slagossie egter eers met ’n roer omgetrek word. Dis gewoonlik die baas van die plaas se taak. Soms is dit ook net daar waar die moeilikheid begin. 

Sowat 18 maande voor die winter soek ons ’n slagos uit, merk hom en noem hom ook Slagos. 

Ons werk eendag met die beeste in die kraal en Slagos spring sommer wild oor die kraalmuur van pure baldadigheid. Namate die tyd aanstap, raak hy lewendiger en meer sku. Almal weet hy is die slagos. Dit word dus maar so aanvaar.

Vleiswerktyd

Die winter toe Slagos geslag moet word, word hy saam met die plaasmense se mak melkkoei, Soetmuis, en ’n ou, maer koei wat verkoop moet word, nader gebring. Alles is reg op die werf en almal weet daar word vandag met vleiswerk begin. 

Slagos, Soetmuis en die maer koei word in die klipkraal se hoek staan gemaak. Slagos is duidelik onrustig. Daar moet reg gekorrel en gou geskiet word. So ten aanskoue van almal moet daar tog nie fout kom nie. Die buurman en sy span het ook kom hand bysit om Slagos te laai en waenhuis toe te neem vir die slagtery. 

Maar toe die skoot klap, lig Slagos sy kop. Die .22 tref laag, en Slagos spring los oor die kraalmuur en kies koers berg toe. In die harwar word Soetmuis en die ou koei uitgeja om Slagos te probeer nader bring. Die .22 sal nie nou meer die ding kan doen nie, en ons gaan haal eers die jaggeweer by die huis.

Met die terugkeer by die kraal is die drie beeste weer versigtig nader gebring, maar net tot agter die kraal waar ’n paar doringboompies staan. 

Die drie word versigtig en bukkend bekruip – met die jaggeweer, teleskoop en al, in die hand. Die volgende skoot moet natuurlik ’n doodskoot wees om skande te verhoed. 

Ou Izak werk al baie jare op die plaas en bekruip saam met my. Dis moeilik om deur die jaggeweer se teleskoop op 20 meter te sien. Izak moet ál Slagos se bewegings agter die boompies haarfyn beskryf sodat die skoot reg kan loop. Almal is doodstil in afwagting. 

Skielik fluister Izak: “Daar kom hy nou agter die bos uit, maar ag, o jirretjie tog, moet tog nie dat Soetmuis val nie; ons melk haar elke oggend.”

Verkeerde bees

Ek mik op die kop van die dier wat agter die bos uitkom en die oorverdowende skoot donder deur die lug. Die bees plof neer. Maar toe die stof wegtrek, skree Buurman: “Verkeerde bees!”

’n Doodsheid van nog skande, vernedering en ongeloof oorval my. En ’n boosheid oor wie se skuld dit nou eintlik is. 

Tot Izak droog en stadig laat hoor: “Toemaar, toemaar tog, dis die ou maer koei!” 

Die volgende skoot was genadiglik in die kol en ons kon Slagos oplaai en gaan vleiswerk. 

Hierdie verhaal word steeds voor ons kaggelvure vertel, tot die groot vermaak van almal.

* Hierdie artikel het oorspronklik in die Landbouweekblad van 29 Mei 2015 verskyn.