Op die Kamiesberge het twee Engelbrecht-broers op hul familieplaas, Eselsfontein, geboer. Dries was effe rooi van opslag, lank, lenig en breedgeskouer – ’n bielie van ’n kêrel. Hy was ’n goeie atleet wat in sy môres vir ander hakskene gewys het en met gewigstoot het hy sy teëstanders minderwaardig laat voel.

Sy jonger broer, Gert, was donker van gelaat, met ’n welige swart kuif. Hy was ’n rapatse voetboller wat kon hol soos ’n vlakhaas. As vleuel van Garies se dorpspan was hy ’n derduiwel en kon hy by nou gaatjies deurglip.

Water op die berge was vars en volop, maar moes met ’n lynemmer uit ’n put geskep word. Oor die put het ’n breë plank gelê waarop die skepper gestaan het. Dit was ’n rugbreker, want dis buk en skep, buk en skep en omkeer in die lange krip. Later het die sweet jou afgetap, maar jy moes aanhou en kon nie rug reguit maak nie, anders raak die dors diere jou voor.

Die Januarieson het dooierus gevat tussen die berge en die sonbesies het vroegoggend al begin sing. Toe Dries die lang streep stof in die verte sien, het hy die lynemmer gevat en put toe gestap. Natgesweet en uitasem het hy die middag by die huis gekom. Sy jong vrou, Coebsie, het hom jammer gekry en gevra: “Hoekom kry julle nie ook ’n windpomp nie? Ek hoor oom Apie Rossouw van Loerkop het een laat kom wat glo so gaaf werk.” 

Dries vee die natgeswete voshare van sy voorkop. “Ai, vrou, ons is beginners en die ding kos seker baie geld.” 

“Gaan kyk by oom Apie die pomp, dan hoor julle mos uit die perd se bek wat dit kos,” moedig sy hom aan.

Gaan kyk self

Die agtermiddag klim die broers in Dries se blou Plymouth en ry af Loerkop toe om die nuwe windpomp te gaan bekyk. Van ver af sien hulle die grote wiel in die son blink. Saam met oom Apie stap hulle nuuskierig af rivier toe om die nuwe uitvindsel van nader te bekyk.

“En daardie ronde ding?” wil Gert nuuskierig weet. “Dis ’n reservoir wat ou Maans Suringpap vir my gebou het . . . en ’n lang krip ook.” Dries loer oor die muur en gee ’n verbaasde fluit. “Jeeston, broer, kom kyk hier. Hy pie mos met ’n boog soos ’n vryersklong!”

Opgewonde peper hulle vir oom Apie met vrae. “Van Breda het hom laat kom en Kassiejan van Rooisandkop het hom binne ’n dag opgesit.” Hy buk af en draai die kraan oop. “Sien julle, ek kom sit elke môre hier in die skaduwee op my veldstoel en laat my vee suip, sonder dat ek ’n druppel sweet afvee.” 

Dries skud sy kop. “Ja, oom, ek is seker dis ’n Engelsman wat hom uitgedink het, want hulle is wragtag te lui om water te skep.”

“Nou wat het dit Oom gekos?” wil Gert angstig weet. “Soos hy hier staan, sonder silinder en pype, kos hy 35 pond en Kassiejan het vir my nóg vyf pond gevra om hom aanmekaar te sit, want hy het die gereedskap.” 

“Vyf pond?!” roep Dries verontwaardig uit. “Vir net een dag se werk? Dis mos bloedgeld. Kan ons dit nie maar self doen nie?” 

Oom Apie trek sy skouers op. “Julle kan seker probeer, want daar’s ’n boekie ook by. Al wat ek julle kan sê, hy’s wragtie bekwaam, want hy’t nie eens in die boekie gekyk nie en is vroeg die agtermiddag t’rug huis toe.”

Terwyl ant Bettie vir hulle koffie skink, het die broers klaar besluit dat Van Breda vir hulle ook ’n pomp moet bestel. Toe die Plymouth later teen Studerspas uitkruie, gesels hulle opgewonde oor die nuwe uitvindsel. 

Gert steek ’n sigaretjie op en draai hom na Dries. “Het jy gesien hy werk op-en-af nes oorle’ Ma se stampkarring?” Dries knik en voeg by: “En dit lyk nie eens of hy effentjies beur nie.” Gert trek aan sy sigaret en mymer: “Dis ’n wonderlike ding, maar 35 pond . . . Om te dink ons moet meer as 50 skaap verkoop om hom te betaal – en dan praat ons nie eens van die pype, silinder en Kassiejan se vyf pond nie.”

Toe hulle by Pietjie-se-krans verbyry, kyk Dries na sy jonger broer. “Ons gaan self die pomp opsit. Kassiejan is net so ’n boer soos ek en jy.” Gert druk die sigaret dood. “Ja, broer, vyf pond is baie geld, maar sê nou ons sukkel en kry dit nie reg nie? Jy’t mos netnou gehoor ou Apie sê Kassiejan is bekwaam en het die kopnaat.” 

Dries ruk hom op. “Wil jy vir my sê ons is onnosel? Ons twee kan musiek maak, maar ek wonder of Kassiejan dit kan doen. Straks kan hy nie eens vir die hond fluit nie, wat nog te sê konsertina speel?” Gert bly stil, want hy wil nie verder vir Dries omkrap nie.

Spring aan die werk

Toe hulle die agtermiddag met Gert se swart bakkie die pomp op Eselsfontein aflaai, breek hulle opgewonde die kis oop, want môre-oggend vroeg wil hulle aan die werk spring. Dries blaai die boekie deur en wys vir Gert. “Sien jy, broer, hulle wys vir jou haarfyn met pyltjies hoe jy dit aanmekaarsit.” 

Gert kyk na al die boute en moere en gooi water op Dries se vuur. “Waar dink jy kry ons tools vir al die moere? Ons het net ’n draadtang en ’n bobbejaanspanner.” Dries buk en gooi al die moere in ’n stroopblik. “Kom ons ry maar Garies toe. Ek dink oom Petrie Malherbe sal ons kan help.” 

Gert hou sy broer uit die hoek van sy oog dop. Dries se kneukels is wit soos hy die Plymouth se stuurwiel vashou en kort-kort moet hy net keer dat sy kop nie voor stamp nie. By ’n skerp draai neuk die blik om en rol tussen sy voete in. Gert sien die frons op Dries se voorkop en maak die duiwel wakker toe hy waag om te vra: “Broer, moet ons nie maar vir Kassiejan vra nie? Dit sal ons baie moeite en sukkel spaar.” 

Dries vererg hom dat dit lyk of die sproete op sy gesig ook verkleur. “Wil jy die verdomde man vyf pond present gee terwyl ons twee uitgevrete jongmanne dit self kan doen?” 

Gert wil sy tong afbyt en besluit: nou sal ek my bek hou. 

Toe hulle voor Malherbe’s Garage stilhou, groet hulle vir oom Petrie en sit hul storie in. Oor sy bril luister hy aandagtig. “Gaan hoor maar by Billie.” 

Souerig stap hulle om na die werkswinkel, want hulle is katvoet vir die moerige ou Billie. Hy’s soos ’n skerpioen – sy angel bly jou kant toe. Onder ’n lorrie se masjienkap lê Billie ingekruip dat net sy breë agterstewe uitsteek. Ou Billie kreun en steun, terwyl hy hardop swets.

“Alfred!” skreeu hy. “Gee aan die vierpondhamer dat ek hierie bleddie moer kan losbliksem!” Die broers kyk ongemaklik na mekaar en knyp hul oë toe, want ou Billie los nog ’n bêre-vloek.

Bloedrooi in die gesig kruip hy uit en sonder om te groet, vra hy bars: “Wat wil julle hê?” Verleë kyk Gert af na die blik in sy hande en stotter: “Ons . . . ons wil vir hierdie moere ’n paar sleutels kom leen.” “Dis net vir ’n dag of twee,” las Dries by. 

“Twee dae is dôners lank. Hierie besigheid kan nie vir ’n dag stilstaan nie,” blaf Billie. Sy stertvere word gepluk toe sy baas skielik in die deur verskyn. “Gee vir die mense die sleutels,” sê Petrie ferm. Gert skud die blik uit en Billie order: “Alfred, gee vir die manne die sleutels!”

Toe hulle terugry, skud Gert verontwaardig sy kop. “Ek en Billie speel saam voetbôl, maar ek het nie geweet hy kan so beneuk raak nie.” “Toemaar, man, ou Petrie het darem gou sy tjank afgetrap,” troos Dries.

Toe die son sy eerste strale bo teen Eselskop gooi, spring hulle aan die werk. Die pote word neergelê en aanmekaargebout. Ou Japie Skerpoor is aangesê om die gate vir die pote te grawe. Kort-kort word die boekie geraadpleeg en alles loop sommer klopdisselboom. Ou Japie wonder in sy enigheid wat wil die duismanne mit hierie ysterding maak wat soos ’n bidsprinkaan lyk. 

Gert loer van onder sy hoed na sy broer wat ’n vrolike deuntjie fluit. Dries meet die son met sy oë en vou die boekie toe. “Jy was verniet so swartgallig. Kyk hoe fluks het ons gevorder.” Hy sit die boekie op die kissie neer met ’n klip bo-op sodat die wind dit nie kan afwaai nie. “Kom ons gaan eet, broer. Coebsie wag seker al vir ons.” 

Terwyl sy vrou die kos opskep, vertel Dries trots dat hulle reeds met die raamwerk klaar is en as alles vlot verloop, staan die pomp nog voor sononder. “Maar, onthou, hef aan lê nog voor. By die vlerke en die stert het ek baie pyltjies in die boekie gesien,” steek Gert weer ’n stok in die wiel. 

Coebsie glimlag. “Ai, dan is ek tog bly. Julle spaar mos darem die vyf pond. En as die pomp vanaand staan, kan julle dit vier met ’n sopie van ouma Dina se medisyne-brandewyn.”

Dries vat sy vrou se hand en daar is ’n vonkel in sy oë toe hy aankondig: “Vir die vyf pond kan jy by Boiskin se smouslorrie vir jou ’n mooi roklap uitsoek en ek sal vir my ’n nuwe kerkhoed koop.” Gert laat sak sy kop en voor hulle bid, sê hy floutjies: “Ek sal maar net vir my ’n set snare koop as daar geldjies oor is.”


Probleme duik op


Ná ete stap hulle vol verwagting terug om die pomp te gaan klaarmaak. “Ek sal darem bly wees as die pomp vanaand klaar is, dan kan ons môre die knorrige ou Billie se sleutels terugvat.” Gert trek aan sy sigaret.  “Broer, ons sal koppe bymekaar moet sit, want op die seil lê daar baie parte. Gelukkig het ons mos darem die boekie.”  

Hulle pak die vlerke in die rondte en later vra Dries benoud: “Het jy die boekie hier gevat?” Gert skud sy kop. “Jy’t dit mos op die kissie neergesit.” Dries se moed sak in sy skoene toe hy die boekie nêrens kry nie. 

Japie Skerpoor skree uit die gat: “Kjyk daar! Die verdomde hanskalf het die pampier in sy bek!” Gert hardloop, maar toe Dries weer sien, verdwyn die laaste flentertjie in die kalf se bek.

Dries en Gert probeer hul bes, maar verstaan nie gat of kop wat aangaan nie. Toe Coebsie sien, kom die broers met hangskouers aangestap. Sy ken haar man se gesig. 

“Wat lyk dit julle bring ’n doodstyding?” vra sy nuuskierig. 

“Die bleddie hanskalf het die boekie opgevreet,” sê Dries verslae.

“Nou’s ons vas. Ons kan nie vorder nie,” kla Gert moedeloos. Coebsie probeer hulle moed inpraat. “Nou ry julle af na Loerkop. Dalkies het oom Apie nog sy boekie. So nie, gaan kyk julle mooi hoe die vlerke en die stert aanmekaargesit is en dan weet julle mos.” 

Dries raak weer rooi in die gesig. “Dis verdomp 40 myl berg af en weer berg op en jy weet hoe durabelik is petrol.” Coebsie trek maar net haar skouers op.

Dis stil in die mouter, want elkeen is besig met sy eie gedagtes. Gert suig aan sy Cavalla en draai hom later na sy broer. “Jy moet tog nie weer vir my kwaad word nie, maar moet ek nie maar môre-oggend ry en vir Kassiejan gaan vra om ons te kom help nie?” 

“Is jy mal?” roep Dries ontsteld uit. “Dink net wat sal die mense sê! Hulle sal ons spot en as ou Johannes Dreyer van Bokseputs van hierie affêre hoor, dan steek hy die wêreld aan die brand.” Gert laat sak sy kop, want so het hy nie daaraan gedink nie.

Toe hulle op Loerkop stilhou, is oom Apie verbaas om hulle so gou weer te sien. Dries val met die deur in die huis en vertel van die ramp wat hulle getref het. 

“Het Oom nie nog julle boekie nie?” vra Gert nog voor Dries klaar gepraat het. 

“Nee, man, Bettie het dit sommer in die oond gegooi.” 

Moedeloos stap die broers af rivier toe. Oom Apie hou hulle dop en toe hy weer sien, verloor die Plymouth oor die eerste bult. 

Toe hulle op Eselsfontein stilhou, begin hulle haastig om die wiel aanmekaar te bout. Hulle pas hier en meet daar, maar kort-kort skoor ’n ding en dan vlam die humeure op. 

Ou Japie beloer hulle van onder uit die gat en skiet onvergenoegd ’n lang geel straal tussen sy yl tande deur. Hierdie ysterding is van die duiwel en moes nooit op hul werf gekom het nie, want hoor net hoe twis die broers wat altyd so mooi in vrede leef. 

Japie skrik en sy oë rek toe Dries die sleutels hard neergooi en mouter toe stap. Toe hy weer sien, toe trek hulle met ’n stink spoed weg dat die klippe spat. Hy skud sy kop en rol die pruimpie na die ander kies. Hy verwens die dag toe die kêrels hierie vrinne ystergedoente hier kom aflaai het. As die ding ’n asem gehad het, sou hy hom wrastag soos ’n gifding met pypolie vrekgemaak het, want hy het darem te veel moeilikheid kom maak.

Ná nog ’n dag se gesukkel is Coebsie by toe Dries laat agtermiddag die wiel bo losmaak. Ten spyte van die orige parte wat op die seil lê, waarvoor hulle nie ’n plek kon kry nie, roep Dries triomfantelik uit: “Broer, ons het hom wragtie gewen!”

Gert fluister vir Coebsie. “Ek wonder of daar nog ’n paar pennies oor is. Straks kan jy darem vir jou ’n sakdoekie koop.”  

Coebsie kyk op na Dries wat besig is om af te klim. “Ai, tog, en julle het toe nooit eens julle sopie gedrink nie.”

* Hierdie artikel het oorspronklik in die Landbouweekblad van 26 Augustus 2016 verskyn.