Haar ma (Ina Nieuwoudt) was destyds ’n onderwyseres in Roodepoort wat prentjies van beeste nodig gehad het. Sy het ’n Landbouweekblad gekoop. Sy het toe gereageer op die brief van ’n jong man wat in die Opsitkers op soek was na korrespondente. Hy het geantwoord en minder as ’n jaar later is hulle toe getroud.

Haar pa is nie iemand wat maklik iets weggooi nie. Hy het nog die Landbouweekblad van 5 November 1974 waarin sy advertensie verskyn het. "Ek moes seker nie verbaas gewees het daaroor nie," sê Anel.

Haar ouers het op die plaas Good Hope in die distrik Vrede met vee en saaigewasse geboer. Hulle het die plaas in 1992 verkoop en op Frankfort gaan aftree. Haar pa lees graag steeds Landbouweekblad.

Vandag bly sy en haar gesin ook op ’n plaas. Haar man, Wimpie, bedryf ’n gasteplaas op Lourenza, naby Frankfort. Dit is op dieselfde pad wat hulle destyds Maandae en Vrydae skool toe gery het. 

Sy het ’n seun (Ay-Jay, 13) uit haar eerste huwelik en sy en Wimpie het ’n 3-jarige tweeling (Wilna en Elisna). Haar broer, Divan, is sewe jaar jonger as sy. Hy bly in Welkom en is ’n IT-spesialis. Hy en sy vrou, Sonja, verwag hul eersteling in Oktober.

* Hierdie artikel het oorspronklik in die Landbouweekblad van 3 Julie 2015 verskyn.