Voor die 1950’s moes jong boere myle aflê om by ’n nooi te gaan kuier, net om ’n plaasnooi te vind wie se hart na die stad hunker, of ’n stadsjuffrou wat meen sy motor is nie blink genoeg nie.

Voor 1955 het briewe vir penmaats op die brieweblad in Die Landbouweekblad verskyn. Ene Kosie het daar sy kans waargeneem om te neul oor die skaarste aan plaasnooiens en hoe moeilik dit is om hul harte te verower. Sy brief – en die warm briefwisseling wat gevolg het oor die gesukkel om ’n vrou te vind om plaas toe te vat – het moontlik daartoe gelei dat die destydse redaksielid Henk van der Merwe besef het dis Die Landbouweekblad se plig om sy lesers met dié belangrike takie te help. Boonop het dit vir baie vermaaklike leesstof gesorg.

Die rubriek By die Opsitkers, waarin Landbouweekblad se ou vriend Manie jong mense help om ’n maat te vind, het die eerste keer op 20 September 1955 verskyn, en mense kon versoeke rig oor die tipe mense met wie hulle per brief wil korrespondeer. “Van 1919 af het die jong boer self sy perd gegryp en ’n maat gaan soek, maar van 20 September 1955 af het Manie ingespring en die soekwerk gedoen,” vertel Aletta (Vossie) de Vos, wat al vir 42 jaar die rubriek behartig.

Skaars twee maande later het Eensame van Nigel voorgestel mense wat aan Opsitkers skryf, moet onder hul skuilnaam ook aandui “hoe oud ons is, wat die kleur van ons hare en oë is, hoe lank ons is, gewig, ens.”. Dit is ’n formaat wat vandag nog gevolg word.

Vir mense soos mev. B. Lemmer van Buhrmannsdrift, Mafeking, was die “gehuilery” een te veel. Sy’t gereken die jong seuns is eenvoudig net te sleg om ’n vrou te kry. “Ek praat van die jong boere wat nie vrouens of nooiens kan kry nie omdat dit te ver is om alleen te ry, of omdat hul motor nie mooi genoeg is nie . . . Dat ons dit waarlik moet beleef dat ons jong seuns te sleg is om ’n vrou te soek. Nou wil hulle glad hê Die Landbouweekblad moet help…”

Maar mev. Lemmer was in die minderheid, want die rubriek is geesdriftig verwelkom deur “boertjies” en “plaasnooiens” landwyd. Die nuwe rubriek maak Die Landbouweekblad nou vir boere sommer ’n duisend pond werd, sê Doring van Zuney.

Ook Jannie van die Vrystaat meen die korrespondensieklub is waardevol vir plaasseuns en -dogters. Hy sê jong boere sukkel om met plaasmeisies te trou, want “hul harte hunker na die dorps- of stadslewe”.

Hy skryf: “ ‘Pappie en Mammie sukkel hulle dood op die plaas. Dis ’n arbeidskwessie, droogtes, veevrektes – ek sal eendag nooit met ’n boer trou nie.’ Hoe dikwels moes ons nie al sulke woorde uit die mond van ’n nooientjie aanhoor nie?”

Só het Opsitkers dit gou reggekry om afgeleë plattelandse mense oor afstande heen bymekaar te kry. Dit was nie net plattelanders wat mekaar op dié manier ontmoet het nie, maar ook stadsmeisies wat kans gesien het vir die lewe as boervrou, of selfs boere wat graag ’n stadsmeisie met “rooismeersels op haar gesig en naels” wou ontmoet.

Doring skryf: “U het nou regtig die bul aan die horings, of moet ons sê aan die ring in sy neus beet. Hierdie nooientjies wat in ons rubriek skrywe, gaan groot moeilikheid kry. ’n Boer is ’n gevaarlike ding. Wees gewaarsku stadsnooiens . . . Ons is nie almal in die vermoë om so ver naweke rond te ry nie .. . Ons boertjies het voorwaar ’n moeilike tydjie gehad, maar van nou af hou ons net Die Landbouweekblad dop.”

TROUES EN TELGE

Deur die jare het baie sielsgenote mekaar deur Opsitkers ontmoet en talle gelukkige huwelike het daaruit gevolg. Koffiekan van die destydse Kaapprovinsie is een van die gelukkiges wat sy vrou só ontmoet het. Hy het so ’n oorweldigende reaksie op sy brief gekry dat hy moes handdoek ingooi om aan almal terug te skryf. Veral sommige asters wat “sommer sulke vaal, droë en onpersoonlike briefies geskryf” het, moes nie die pos dophou nie.

Daar is baie verhale, soos dié van Nico wat in 1970 op twee leerlingverpleegsters, “Lientjie en Mientjie”, se versoek om op’n plaas te gaan kuier, gereageer het. Hy’s later met een van hulle getroud. “Ons is nou amper 40 jaar getroud met ses kinders met hul ander helftes en 11 kleinkinders. As almal op die plaas is, eet hulle ’n skaap in ’n japtrap op!”

’n Verhaal wat uitstaan, is die storie van die familie van Winterton wat op ’n streep hul sielsgenote deur Opsitkers ontmoet het – nie minder nie as vyf paartjies in die familie het so ’n maat gevind. Lizelle Potgieter skryf sy en Charles is getroud nadat hulle mekaar deur Opsitkers ontmoet het. “Ons volg ’n trotse tradisie, want sy ouers, sy broer en skoonsuster en sy oom en tannie het mekaar ook deur Opsitkers ontmoet.”

Lizelle het in 1999 vertel “myouers het mekaar ook 26 jaar gelededeur Opsitkers ontmoet!”

Hans en Nicolien Prinsloo (heel bo) was vanjaar 44
Hans en Nicolien Prinsloo (heel bo) was vanjaar 44 jaar getroud en het vier seuns en nege kleinkinders. Landbouweekblad is die belangrikste tydskrif in die gesin, want een van hul seuns, Hans jr., het ook sy vrou, Joana, deur die rubriek ontmoet omdat dit so goed vir sy ouers gewerk het.

KONSTERNASIE

In 1978 was daar groot amok toe ene Sandvelder ’n dringende pleidooi gelewer het. Hy sou ryk erf, ook ’n plaas, maar dan moes hy blitsig kan bewys lewer hy’s getroud. Sandvelder is toegegooi met briewe van hoopvolle vroue. Selfs ’n Israeliese meisie het in gebroke Engels vir hom geskryf nadat sy oor die radio van sy “penarie” gehoor het.

“My name is Zanva. Ie leve in Isreel country. I’m twenty years old. I like baking and kook hearty apetite. Singarss loves Elbess, Klif, Poll Anka, Neel Sadaka. I very glad the yo not smoking and not darink,” skryf sy.

Ongelukkig het Sandvelderdie gek geskeer en moes Manie haar laat weet hoewel Sandvelder nou nie rook en drink nie, is hy ook glad nie rich and wealthy nie. “Sy sal maar elders ’n ryk boer moet soek saam met wie sy na die musiek van Elvis Presley, Cliff Richards, Paul Anka en Neil Sedaka kan luister,” skryf Manie in 12 Mei 1978 se uitgawe.

LIEFDESVLAM IN DIE DIGITALE ERA

Vossie is oor die jare al ’n hele paar keer genooi na troues van mense wat mekaar deur Opsitkers ontmoet het. “Die rubriek het nog daardie ouwêreldse aanslag wat mense in hierdie moderne tyd lok. Mense wat hierdie rubriek gebruik, soek betroubaremaats wat nog die huwelikskontrakrespekteer. Hulle soek geborgenheidoor ’n lang afstand.”

Verlede jaar, op 29 Januarie, het Opsitkers die digitale era betree. Lesers kan nou ook op’n veilige, moeitelose webwerf registreer om nuwe mense te ontmoet. Selfs ’n selfoonweergawe is beskikbaar. Ene Jan het aan Landbouweekblad geskryf dis heeltemal te veel moeite om te gaan seëls en koeverte koop, ’n foto te laat ontwikkel en ’n brief te skryf – veral as jy nie seker is sy gaan terugskryf nie!

Die digitale Opsitkers op www.landbou.com is baie gewild. Gemiddeld 130 ingeskrewe lede met profiele gesels elke maand daar, vertel Jan Bezuidenhout, voormalige bestuurder van Landbouweekblad se digitale inhoud. “Dié platform is ’n veilige plek om ’n profiel op te skep en word volgens streng reëls gemonitor.”

Vossie glo daar sal altyd mense wees wat die tradisionele manier verkies. “Die inskrywings is deesdae minder, maar ons ontvang nog heelwat briewe wat vir die skuilname in die boek skryf. Nie lank gelede nie het ek sowat 100 briewe vir een skuilnaam ontvang en gepos.”