Mnr. Van Zyl se oupa het die stoetery in die tweede helfte van die 19de eeu op hierdie plaas begin. In die 1920’s het hy ’n bul van Gradwell gekoop om beeste met ’n swaar agterlyf te teel. Hierdie bul se erfdwang is vandag nog sigbaar in sy nasate.

Die fynheid van die kop, wat so ’n besonderse kenmerk van die Afrikanerbees is, het as gevolg van hierdie teelrigting skade gely (sien die foto), maar daarteenoor loop daar vandag beeste met ’n groot romp en ’n uitstekende kurwe. 

Die koeie het baie melk. Hulle maak nie net hul kalwers goed groot nie, maar word ook gemelk. Hul spene is ook groot. Een van die bulle uit die stoetery is aan mnr. J.H. Pienaar van Winburg verkoop. Hy het laat weet dat een van die verse van hierdie bul drie gelling (13,6 liter) melk per dag lewer.

* Hierdie foto het oorspronklik in die Landbouweekblad van 2 September 1958 verskyn.