Dié ondernemende boer is mnr. Luigi Cantamessa van die plaas Rolyna by Leslie in Oos-Transvaal (nou Mpumalanga). Cantamessa, ’n opgeleide werktuigkundige, het die trekker, wat hy na sy plaas, Rolyna, genoem het, self beplan en tuis gebou.

'n Artikel oor hierdie prestasie het oorspronklik in die Landbouweekblad van 15 September 1964 verskyn.

Van die 16 trekkers in sy boerdery het hy reeds 6 self gebou. Die Rolyna beskou hy egter as die eerste tipies Suid-Afrikaanse trekker wat veral vir boerdery op die Hoëveld geskik is.

Hoewel die trekker 12 000 pond (sowat 5 500 kg) weeg, hanteer dit uiters lig. Die Leyland-dieselenjin van 145 perdekrag (sowat 107 kW) kan ’n sesskaarploeg trek. Die ratkas kom van ’n Gallion-padskraper.

Dit het hom ses maande en R700 gekos om die trekker te bou. Ná 1 000 werkure het dit nog geen herstelwerk nodig gehad nie.

Cantamessa, ’n gelisensieerde handelsvlieënier, vlieginstrukteur by Delmas se vliegklub en vlieënier in die Suid-Afrikaanse lugmag tydens die Tweede Wêreldoorlog, het ook sy eie tweesitplekvliegtuig eiehandig ontwerp en gebou.

Die vliegtuig is deur die Afdeling Burgerlugvaart goedgekeur en het hom R1 200 gekos. Dit kan teen 130 myl/h (sowat 215 km/h) vlieg en ses uur lank in die lug bly.