“Was jou ma ook ’n kruieverkoopster?”

“Einste. En my oupa was ’n kruiedokter. Kruie hardloop al lank in ons bloed. Soos my moeder my geleer het, leer ek my dogter nou. Maraai is haar naam. Haar dogters leer ook al — hulle weet al amper net soveel soos sy.”

“Hoe lank verkoop jy al kruie hier op die parade?”

“Ma is in ’41 dood, toe het ek hier oorgeneem.”

“Lyk my jul besigheid doen goed vandag,” sê Kobie. Waarvoor word alles gebruik, wil sy weet.

“Ja, die besigheid is goed vandag, maar ander dae kan dit maar stil wees. Vir verkoue is daar niks soos wille-als en boegoe en wille knoffel nie. Daai wat nooi nou na kyk, is stinkpatats vir asma en seer op die derms. Dié is weer om die baar skoon te maak as die vrou se baba gebore is — mens laat dit trek soos tee, en dan drink jy dit. Ruik lekker, maar sjoe, sies, dit smaak slég!

Die kruie, netjies uitgestal in kassies en mandjies. McQuire verkoop elkeen van die bossies saam met sommer vier of vyf rate.

“Ons het ook goed hier vir asma en suikersiekte en om die bloed skoon te maak — vir al die siektes wat vuil bloed mens gee.”

En wat sê die dokters? “Die dokters kom jaag ons en sê ons help die patients onder die grond in. Min weet hulle hoeveel mense ons gesond maak wat van hulle medisyne net erger word!”

Kom sy elke dag Parade toe? “Elke heilige dag. Wind, son, reent — elke dag. As ons siek word, dokter ons ons maar weer met die kruie gesond.”

Uit: Die Landbouweekblad, 3 April 1969

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.