Uit: Die Landbouweekblad, 22 Julie 1969

Ondanks koue en dreigende onweer was die rit van Robertson tot by McGregor en terug weer ’n volslae sukses. Die program het oor twee dae gestrek.

Mnr. A.M. Cameron op Gaeton Gold ontvang ’n splinternuwe saal van mnr. Sandy Vosloo. Cameron (62), ’n bekende in Kaapse skoukringe, het die saal gewen deurdat hy as die voorbeeldigste ruiter aangewys is.

Deelnemers het op dag een op Robertson se tentoonstellingsterrein saamgetrek, waar bekende perdemanne, soos mnr. David Human van Protem, Uys en Coenraad Swart van Swellendam en A.J. Gabler van Kaapstad, lesings en demonstrasies oor die rykuns en die algemene versorging van ryperde gehou het.

Deelnemers was vol lof vir die puik reëlings van mnr. Bennie le Roux, ondervoorsitter van die genootskap, en mnre. Theuns du Toit van Rawsonville en A.T. Hansen van die roofdierproefplaas Vrolikheid, naby McGregor, wat as kommandante opgetree het.