In ’n lang proses word die boer, die wetenskaplike, die tegnikus, die vervaardiger, die koper, die verkoper, die verbruiker en diegene wat die wol bevorder, betrek.

Dit is vanselfsprekend dat baie aandag op alle aspekte van wol as kleedstof en modevesel toegespits word. Daarom het die Suid-Afrikaanse Wolraad destyds ’n spesiale mode-afdeling in sy hoofkantoor in Pretoria begin van waar ’n paar raakvat-vroue, onder meer me. Mary Hansen, mode-adviseur, kennis oor wol in die modewêreld landwyd versprei.

Benewens die administrasie van groot modeskoue wat reg oor die land gehou word, ontvang hulle ook jaarliks van die modekantoor van die Internasionale Wolsekretariaat in Parys, Frankryk, ’n reeks van sowat 20 rondreisende kledingstukke en nagenoeg 150 kleurskyfies (wat as video wool bekend staan).

Met hierdie klere en modekleurskyfies toer Hansen deur die land om vervaardigers en die pers oor die jongste oorsese modeneigings toe te lig.