Liebenberg, wat saam met sy pa 'n groot melkery en saaiery bedryf het, het afleiding van sy werk gekry deur sierduiwe en -hoenders te teel aan te hou. Wanneer hy te besig geraak het om na sy veervolk te kyk, was sy vrou altyd gewillig om in te spring. Alhoewel dit vir hom 'n uitdaging was om met dié voëls te teel, was die kleurpatrone wat hy kon skep vir hom 'n prestasie.

In dieselfde uitgawe verskyn 'n artikel oor Kaokoveldskape, wat ook as Damaraskape bekend gestaan het. Dié inheemse skaapras is volgens kenners een van die oudste skaaprasse ter wêreld en het 'n lang, smal erdvarkstert. Mnr. C.W. Borstlap, bestuurder van die Omatjenne-proefplaas waar daar met spesifiek rooibruin Damaras geteel is, het destyds gesê dié skaap is die skaap van die toekoms as sy gehardheid en aanpasbaarheid in ag geneem word.

Die wenner van die eerste bewaringsboerderykompetisie, die pynappelboer mnr. W.M. Pfaff van Hluhluwe, het ook in hierdie uitgawe verskyn. Pfaff het 'n stuk boswêreld gekoop, skoongemaak en pynappels begin plant. Pfaff het nie net grondbewarings-idees op sy plaas toegepas nie, maar dit ook deur sy lidmaatskap aan die grondbewaringskomitee aan ander boere oorgedra. Alhoewel daar destyds geglo is pynappels moet op nuwe grond geplant word, het Pfaff besef dit is nie altyd moontlik nie en ou lande dus hervestig moet word.

Daar is in hierdie uitgawe ook geskryf oor die nuwe wolkommissie in Australië, wat geskep is om die bemarking van wol te verbeter. Die kommissie, waardeur wol volgens 'n reserwe-prysskema ingekoop is, sou na verwagting 'n wye invloed op wolpryse en wolbemarking in die algemeen hê. Suid-Afrikaanse boere het in 1970 reeds R24 miljoen verloor as gevolg van 'n langdurige droogte in die Oos-Kaap en die res van die land.