Hulle was daardie jare by 'n padstal halfpad tussen Kroonstad en Vredefort te vind. Dié padstal was veral tydens vakansietye besig met 'n konstante stroom motors oor Mizpah, mnr. Lucas van der Merwe se plaas, waar die padstal gestaan het.

In dieselfde uitgawe is daar geskryf oor die protea, Suid-Afrika se nasionale blom wat in die 1960s op die oorsese mark gewild geraak het. Tot 100 ton blomme is in 1963 na die buiteland uitgevoer. Dié blomme was egter net so gewild in die plaaslike mark en omtrent elke bloemiste in die land het proteas verkoop. Die reuse-protea en bergbruidjie was veral gewilde proteasoorte.

Lesers kon ook meer uitvind oor mev. Lindy Pagden, wat in die Sondagsriviervallei met sitrus geboer het. Sy het die boerdery vrou-alleen behartig en nie geduld as haar eggenoot hom daarmee bemoei het nie. Alhoewel sy nie op 'n plaas grootgeword het nie, het sy 'n boervrou in murg en been geword. Sy het die boerdery oorgeneem waarvoor haar regsgeleerde man, mnr. E.B. Pagden, nie tyd gehad het nie.