Mej. Lizette Weyer-Henderson van Somerset-Oos, wat op dié uitgawe se voorblad te sien was, kon egter getuig van 'n veel groter taak wat Boerbokke op haar pa, mnr. B.W. Henderson, se plaas Toekomst verrig. Deur duisende Boerbokke aan te hou, het hy hartwaterbosluis uitgeroei en dit moontlik gemaak om met Merino's en Angoras in die onbegaanbare bergeveld te boer.

Boerbokke is nie die enigste plaasdiere wat se lof in hierdie uitgawe besing word nie. In dieselfde uitgawe word daar geskryf oor mnr. J.M. Bredenkamp, wat destyds 'n kranige Arabierperd-teler van Olifantshoek was, se perde wat hy as sy nuttigste plaaswerkers beskou het. Die eienskap wat volgens hom die belangrikste in Arabierperde is, is karakter - iets wat veral in hierdie perde se kop en nek sigbaar is.

Daar is ook in hierdie uitgawe melding gemaak van die hoë wolpryse wat boere daardie tyd geniet het danksy goeie woleienskappe wat binne 'n kort tydperk by wolskape ingeteel is. Die eienskappe waarvoor daar hier uitgekyk is, is 'n pragtige stapelformasie, voldoende olievloei en digtheid.