Op die voorblad van die Landbouweekblad van 27 Junie 1967 verskyn mnr. C.R. Tilney, wat saam met sy skoonpa mnr. S.J. (Fanie) Rossouw 'n pynappelboerdery tussen Oos-Londen en Kidd's Beach begin het, saam met die masjien wat binne 'n halfuur vier ton pynappels kon oes.

Dié masjien was so Suid-Afrikaans soos die grond waarop dit gewerk het. Mnre. Rossouw en Tilney het dit in Suid-Afrika laat bou teen 'n bedrag wat seker vyf keer minder was as wat dit hulle sou gekos het om een van dié pynappeloesters in te voer.

Diegene wat verwag het dat 'n masjien soos hierdie een van yster en staal sou wees, het dit mis gehad. Die raamwerk daarvan was van glasvesel, terwyl die lang arm wat die vervoerband huisves waarop die geplukte vrugte na die sleepwa ""ry", van aluminium is. En 'n mens kon begryp waarom!

Die masjien is in die destydse artikel as 'n "parasiet" beskryf omdat dit nie sy eie wiele of kragbron gehad het nie. Dit moes "geabba" word. As daar nie 'n sleepwa onder hom was nie, het hy botstil gestaan, met sy hidrouliese bene vierkantig op die grond. Kom die trekker met sy sleepwa (spesiaal vir hom gebou) tussen sy bene deurgery, gaan lê hy op die sleepwa en ry saam. Teen 'n stadige loopspoed, met die masjien op sy rug, is die sleepwa vorentoe getrek sodat die masjien en sy sleepwa 'n eenheid gevorm het.

Volgens mnr. Tilney word baie arbeid met die masjien bespaar. In die plukseisoen oes hulle tot 150 ton pynappels per dag waarvoor hulle ongeveer 300 arbeiders nodig het. Met die masjien en net 15 arbeiders kan hulle 80 ton op 'n dag in 10 werksure oes. Die vraag het wel destyds ontstaan of die masjien nodig was aangesien handearbeid net soos vandag betreklik volop was.