Mnr. Philip Visagie van die plaas Sandkraal, wat langs die Rhenosterrivier in die Calvinia-distrik te vind was, se plaas is in 1961 deur vloedwaters verwoes toe dié rivier sy walle oorstroom het. Hy het egter daarin geslaag om so te werk te gaan dat alles op die plaas, ook die rolbosse, teen 1968 beter as ooit gegroei het.

Visagie het die miljoene tonne sand wat die oorstroming agtergelaat het,  in 1964 geploeg met 'n kruiptrekker en 'n massiewe skaarploeg van 3 voet, wat spesiaal gemaak is. Teen 1968 het 4 000 Merino's geloop op die welige lusern waar eens skoon duine was. Die ramp was eintlik 'n bedekte seën aangesien die grond toe met sand "verdun" is.

In dieselfde uitgawe word daar berig oor koffie wat daardie tyd hoogty as gewas in die Transvaal gevier het. Luidens 'n artikel wat in dié uitgawe verskyn het, het koffie in baie dele van die Transvaal uitstekend geaard en kon dit ook op 'n baie lonende grondslag verbou word.

Proewe by die Navorsingsinstituut vir Sitrus en Subtropiese Vrugte by Nelspruit het bewys dat koffie van baie goeie gehalte met groot welslae ook in die Transvaal verbou kon word.