Op die voorblad van die uitgawe wat op 5 Januarie 1965 verskyn het, proe Surina Louw, 'n Kaapse nooi, hoe die eerste Transvaalse waatlemoen smaak. Kaapse waatlemoene word eers ná Nuwejaar ryp.

Waatlemoene is nie die enigste vryg waaroor daar in hierdie uitgawe berig is nie. Die vergroening van sitrusvrugte was 'n verskynsel wat destyds die land se sitrusboere groot skade berokken het - na beraming meer as R1 miljoen. Sommige boere in die Laeveld kon as gevolg daarvan in sommige gevalle nie 'n enkele lemoen bemark nie.

Die staat het daarom geen koste ontsien vir navorsing om die oorsaak van vergroening op te spoor en uit die weg te ruim nie. 'n Groot insekdigte proefhok is hiervoor gebou. Elke boom wat in die proefhok geplaas is, het ook in sy eie spesiale pot gegroei sodat die invloed van verskillende grondsoorte, grondvog en so meer bepaal kon word.

In dieselfde uitgawe is berig oor inskrywings vir die Landbouweekblad se marathon-perdewedren wat vanaf Hanover oor De Aar tot by Richmond gehou is. Dit het twee dae geduur. Daar is elke dag 60 myl gery.

Mnr. Sakkie van der Merwe van Cypres Grove, Merriman, het destyds die volgende instruksie aan Landbouweekblad gegee: "As daar 'n foto van my gepubliseer moet word, moet dit een wees wat van agter geneem is, want dit is hoe die manne my die dag met die wedren gaan sien."