Die Business Dictionary definieer dit as “die waarskynlikheid of gevaar van skade/verlies/las of enige ander negatiewe gebeurtenis deur eksterne of interne faktore veroorsaak”.

Wanneer die waarskynlikheid of kans vir 'n spesifieke uitkoms vooraf bekend is, word dit risiko genoem. Onsekerheid word gebruik om na 'n onbekende uitkoms te verwys.  

Om risiko te verstaan is dit nodig om te bepaal wat die risiko’s is en wat daarvan beïnvloed of bestuur kan word.

Bronne van Risiko

Die algemeenste risiko’s in 'n boerdery kan in vyf kategorieë verdeel word:

Produksierisiko. Hierby word alle tegniese risiko ook ingesluit. Later meer hieroor.  

Markrisiko’s. Bemarkingsrisiko word hierby ingesluit. Die prys van produkte soos mielies, sojabone ens. is grotendeels buite die beheer van die boer en word deur verskeie faktore beïnvloed, waaronder vraag en aanbod, internasionale graanpryse en die wisselkoers.

Finansiële risiko  verwys na alle finansiële besluite – rentekoerse, beleggings ens. en sal vir die doel van hierdie artikel nie verder bespreek word nie.

Institusionele risiko verwys na die onvoorspelbare veranderings in die voorsiening van dienste van instellings aan die landbousektor. Die instellings is kan van die formele, informele of publieke sektore wees, bv. banke, koöperasies, bemarkingsorganisasies en die regering. Deel van die institusionele risiko is die beleid van die regering ten op sigte van die landbou, wat die beleid oor grondbesit insluit.

Menslike risiko. Hier word verwys na risiko wat veroorsaak word deur verlies aan produktiwiteit weens menslike faktore soos siekte, ongelukke, stakings ens.

Al die risikofaktore kan op enige gegewe tyd op die plaas teenwoordig wees, maar kan ook in isolasie op 'n spesifieke tydstip voorkom.

Ongeag die bron van die risiko, is daar sekere van die risiko’s se impak of negatiewe invloed wat met goeie beplanning en bestuur verminder kan word.

Reaksies op risiko:

Individue kan verskeie maniere op verskillende risiko’s sal reageer – daar is dus nie 'n sakpas oplossing vir elke soort risiko nie. Die reaksie op risiko kan algemeen in vier kategorieë verdeel word:

Verdra – die risiko waar die blootstelling so laag as moontlik is.

Hanteer, verminder of mitigeer – deur middel van verbeteringe, tegnologie en bestuursbesluite.

Oordra – gewoonlik aan 'n derde party soos verskering of kontrakteurs.

Vermy/beëindig – die aktiwiteit wat aanleiding gee tot die onaanvaarbare risiko.

Risikobestuur

Elke mens wat op 'n plaas werksaam is, van die produsent tot die voorman, beklee ook die posisie van risikobestuurder. Daaglikse besluite, soos wat om te plant, wanneer om te plant, wanneer om te bemes, watter soort bemesting om te gebruik en wanneer om gif te spuit bevat alles 'n element van risikobestuur en het ‘n invloed op die opbrengs van die oes.

Die volgende scenario illustreer die bogenoemde:

'n Produsent besluit om nie topbemesting toe te dien nie. Daar is 'n kans, hoe klein dit mag wees, dat dit geen invloed op die opbrengs sal hê nie. Die besluit sal ook die geldelike risiko verlaag aangesien die insetkoste verlaag word.

Die vraag is egter of die produsent bereid is om die risiko te neem dat die besparing op sy bemestingskoste geen invloed op sy opbrengs mag hê nie. In hierdie geval sal die verlies in opbrengs groter wees as die besparing.

Die fokus moet verskuif na die bestuur van risiko eerder as bloot die koste van insette per hektaar. 'n Besluit wat op die oog af koste kan bespaar, mag dalk 'n groter risiko op die opbrengs plaas.

Foto: Verskaf

Produksierisiko

Hierdie kategorie sluit die meeste van die risiko’s van die produksieproses in – van voor plant tot ná die oes.

Soos reeds genoem kom risiko’s in kombinasie voor – as 'n produsent hoë risiko ervaar weens probleme met arbeid, kan dit bestuur word deur tegnologie in die produksieproses te gebruik om die behoefte aan arbeid te verlaag. Die koste van sulke tegnologie bring weer 'n hoër finansiële risiko mee.

Eindelose voorbeelde kan genoem word waar een risiko verminder word terwyl 'n ander risiko terselfdertyd geskep word. Die produsent beheer die besluitneming oor watter van die risiko’s meer aanvaarbaar of laer is gegewe sy spesifieke omstandighede.

Verskeie voorspellings gegrond op globale klimaatsveranderings dui op toenemende droogtes. In Suid Afrika word voorspel dat grondoppervlaktemperature oor die volgende 50 jaar tussen 1,5 en 3°C kan styg. Hierdie stygings kan weer 'n verlaging in gemiddelde jaarlikse reënval van tussen 20 tot 50 % in die Weste en tussen 5 tot 30 % in die ooste van die land tot gevolg hê (Rautenbach, 2014).

Met die gegewe dat klimaat die grootste risiko is en dat dit buite die beheer van die produsent is, maak dit net sin dat daar so min as moontlik risiko geneem word wat die produksiefaktore betref waaroor die produsent wel 'n mate van beheer het.

Een van hierdie faktore is bemesting.

Risiko en bemesting

Die vraag is hoe kan bemesting die risiko, en veral die risiko met laer reënval, verminder?

Wanneer 'n plant aan omgewingsdruk, soos droogte, koue of voedingstekorte blootgestel word vorm vry-radikale (reactive oxygen species – ROS) wat 'n negatiewe invloed op plantegroei het (Smirnoff 1993; Asada 2006). Hierdie ROS beskadig die sel se DNS of RNS, oksideer aminosure in proteïne ens. 

Ongeag die weerstand van plante teen droogtestres is bevind dat die negatiewe impak van droogte verlaag kan word deur voldoende en gebalanseerde toevoer van minerale voedingstowwe.

Navorsing dui toenemend daarop dat die minerale voedingstofstatus in plante 'n kritiese rol speel in die weerstand van plante teen droogtestres (Marschner, 1995). Elemente wat betrokke is by die verhoging van weerstand teen omgewingsfaktore is - stikstof (N), fosfaat (P), kalium (K), kalsium (Ca) en magnesium (Mg). Mikro-elemente wat ook 'n rol speel in die weerstand is sink (Zn), boor (B), koper (Cu) en silikon (Si) (Waraich et al, 2011).

Die bogenoemde elemente verhoog die plante se waterverbruiksdoeltreffendheid (WVD) – naamlik die hoeveelheid graan wat per eenheidsoppervlakte (kg/ha) met 'n sekere hoeveelheid water (mm) geproduseer word (kg/ha/mm). Die WVD verskil van gewas tot gewas (Ehlers, L. 2014). 

Die keuse van stikstofbron kan risiko verlaag. Proefresultate dui daarop dat stikstof wat toegedien is as nitrate soos ammoniumnitraat (ANO 21) en kalksteen-ammoniumnitraat (KAN) die WVD van mielieplante onder droë grondtoestande met soveel as 94% tot op 'n ouderdom van agt weke kan verhoog, in vergelyking met stikstof in die vorm van Ureum (Ehlers, L. 2014)

Dus deur te verseker dat plante voldoende bemes word, verlaag die risiko wat weens omgewingsdruk soos droogte veroorsaak word.

Deur seker te maak dat die kunsmis wat gebruik word die bogenoemde elemente bevat sal die risiko verder verlaag. Kunsmis waarvan die inhoud in 'n enkelkorrel-formaat gewaarborg word, kan die risiko nog verder verlaag word.

Gevolgtrekking

Wanneer 'n produsent aan die begin van die seisoen sy gewaskeuse gemaak het en plant is die uitkoms bekend – daar gaan 'n oes wees. Hoe groot die oes gaan wees en of die produsent 'n wins gaan toon is waar die risiko lê.

Nie al die risiko’s wat die opbrengs gaan bepaal is binne die beheer van die produsent nie, maar daar is sekere risiko’s wat verminder kan word.  

Baie meer klem moet gelê word op die vermindering van risiko deur die regte besluite te neem oor onder meer bemesting.

Wanneer uitsluitlik na koste gekyk word, kan dit in sekere gevalle risiko’s skep wat meer negatiewe gevolge sal hê as wat 'n skynbare besparing kon teweegbring.

Die grootste risiko waaraan produsente blootgestel is, is die klimaat. Dit maak dus net sin om die risiko’s waaroor daar wel beheer is, so laag as moontlik te hou. Laer insetkoste is nie gelyk aan laer risiko’s nie.

Verwysings

Asada K., 2006. Production and scavenging of reactive oxygen species in chloroplast sand their functions. Plant Physiol 141: 391-396.

Ehlers L., 2014, Landboukundige benaderings om Waterverbruiksdoeltreffendheid te verhoog. Omnia Nutrilogie Nuusbrief

FOA, 2013. Farm management extension guide: Managing Risk in Farming.   www.foa.org/publications

Marschner, H. 1995. Mineral Nutrition of Higher Plants, 2, Academic Press, London, UK.

Rautenbach, H., 2014. Assessment / effect of climate change in South Africa. Water Institute, University of Pretoria.

Smirnoff N., 1993. The role of active oxygen in the response of plants to water deficit and desiccation. New Phytolo 125: 27-58.

Wariach E. A., Ahmad R., Sailfullah, Ashraf, M. Y., Ehsanullah, 2011. Role of mineral nutrition in alleviation of drought stress in plants. Australian Journal of Crop Science, AJCS 5(6): 764-777.