Die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) het in 2007 sy inisiatief oor die toekoms van voedselsekerheid en landbou bekend gemaak. Volgens hierdie inisiatief se missiestelling sal 'n wêreldwye bevolking van 9.8 miljard teen 2050 sowat 70% meer voedsel nodig hê as nou.

Die doel van die WEF-inisiatief is om omvattende, volhoubare, doeltreffende en voedingsryke voedselstelsels te inspireer deur leierskapgedrewe, markgebaseerde aksies en samewerking wat op insig en innovering gegrond is.

Ek antwoord ’n paar vrae in hierdie verband:

Tien jaar het verloop sedert die WEF sy inisiatief bekend gemaak het. Sedertdien is positiewe, inklusiewe en volhoubare veranderings in ons voedselstelsel gemaak. Korrek?

Die wêreld se vermoë om vandag 7.3 miljard mense te voed, kan grootliks toegeskryf word aan die eerste groen revolusie - 'n reeks tegnologiese en agronomiese ontwikkelings ná die Tweede Wêreldoorlog.

Dit het die landbou vernuwe en meer as 'n miljard mense van hongersnood gered. Hierdie vernuwing het dit ook moontlik gemaak dat die wêreldbevolking van drie miljard in die laat 1960’s tot vandag se syfer kon groei.

Groot dele van die wêreld se voedselstelsel word steeds hoofsaaklik op beginsels, metodiek en tegnologie uit die Tweede Wêreldoorlog, 50 jaar terug, gegrond. 

Vinnige groei kom wêreldwyd onder die middelklas voor. Die meeste hiervan vind in ontwikkelende lande plaas en lei tot ‘n hoër vraag na vis, pluimvee, suiwelprodukte en vleis. Die vraag na grane is hoog, aangesien verbruikers se diëte toenemend graanprodukte insluit en dit ook ’n groot deel van vee se dieet vorm.

Sou die bedryf dieselfde tegnologiese en agronomiese ontwikkeling aanwend wat met die eerste groen revolusie 70 jaar gelede ontwerp en ontwikkel is om teen 2050 altesaam 9.8 miljard mense voed, sal vyf aardes se hulpbronne nodig wees om dit te ondersteun.

Die oorvloedige hulpbronne wat die eerste groen revolusie moontlik gemaak het, word al hoe minder weens faktore soos klimaatverandering en die beskikbaarheid van en vraag na hulpbronne. Die huidige voedselstelsels het ons gebring waar ons vandag is, maar sal nie tot 2050 voldoende wees nie.

'n Tweede groen revolusie

Die meeste innovering- en groeisiklusse wat op beginsels en tegnologie uit die eerste groen revolusie gegrond is, word verlangsaam. Dit het gelei tot die wekroep vir 'n tweede groen revolusie – een wat die jongste tegnologie gebruik as hoeksteen vir nuwe innovering wat die nuwe golf van groeisiklusse kan aanvuur om 'n nuwe, slimmer voedselstelsel te bou.

Dit is belangrik om kennis te neem dat hierdie revolusies bedrywe in hul totaliteit raak, maar ook dat dit die wyse waarop ondernemings sake doen, waardekettingstrukture, produkte en dienste, sowel as verhoudings met kliënte beinvloed.

Om ’n idee te vorm van die impak van die jongste tegnologie op ander bedrywe en ondernemings wat dit reeds gebruik, Google die impak van hierdie ondernemings:

·         Bitcoin of Ripple, van die wêreld se grootste banke sonder werklike kontant, maak dit maklik om vinnig wêreldwyd transaksies teen lae fooie te doen;

·         Facebook, die wêreld se gewildste media-eienaar, skep geen van sy eie inhoud nie. Gebruikers is in verbinding met hul vriende en kan die wêreld ervaar deur mense en organisasies met wie hulle 'n verhouding het;

·         Apple Watch, die gewildste slimhorlosie, maak dit maklik om daagliks persoonlike mediese inligting te versamel en te deel. Die gesondheidsbedryf probeer al lank om toegang tot hierdie soort inligting te kry om maakpas oplossings daar te stel;

·         Uber, die wêreld se grootste huurmotormaatskappy, besit geen voertuie nie. Kliënte kry toegang tot vervoer enige plek in die wêreld sonder dat hulle 'n voertuig besit;

·         Amazon en Alibaba, is die waardevolste handelaars wat geen voorraad besit nie. Klante kan met die druk van 'n knoppie feitlik enigiets by hul voordeur laat aflewer;

·         Airbnb, die wêreld se grootste verskaffer van verblyf, besit nie enige eiendom nie. Enigiemand met 'n spaarkamer kan nou 'n B&B word en klante kry toegang tot verblyf teen bekostigbare tariewe.

Negatiewe konnotasies word aan sommige van hierdie ondernemings geheg, maar die feit dat hulle uiters gewild is onder hul klante, het tot gevolg dat bestaande bedrywe en ondernemings na hulle oplet en ernstig besin oor hoe hul eie kliënte se behoeftes aangespreek word.

Die jongste tegnologie stel ondernemings in staat om hul kliënte se behoeftes meer akkuraat te voorspel en hulle beter met meer gevorderde produkte en dienste te bedien. Bestaande ondernemings sal hul huidige sakemodelle, hul bates, sakeprosesse en dienste moet verbeter om die mededingende voordele van die jongste tegnologie te benut.

Nuwe tegnologie in landbou

Nuwe tegnologie in die landbou wat baie potensiaal toon is sensors (ook bekend as ‘Internet of Things’ of IoT), slim (digitaal geaktiveerde) toerusting en die data wat daardeur gegenereer word. Hierdie data sal die nodige insig verskaf om innovering in die hele voedselstelsel te dryf.

Om data op hierdie manier te gebruik, vereis dat die huidige stand van data eers erken en verstaan word. Vanuit hierdie stand sal verandering plaasvind om die wêreld vorentoe te neem.

Data word op die oomblik meestal deur menslike waarnemings, opnames, gesprekke en transaksies gegenereer. Namate die bedryf en die sakewêreld digitale tegnologie begin gebruik, word meer data deur sensors en slim toerusting gegenereer. Die data word meestal in papier-notaboeke, Excel-spreivelle of bepaalde produkstelsels (plaastoerusting, besproeiing en weerstelsels) geberg.

Wanneer data sentraal geplaas word en gekyk word na hoe die data vloei en hoe dit insig, voorspellings, aksies en innovering dryf, blyk dit dat die data in silo’s voorkom en tussen verskeie mense, ondernemings en stelsels begrawe lê, wat dit moeilik bekombaar en bruikbaar maak. Die manier waarop tegnologie gebruik is en data in die verlede geskep is, het daartoe gelei dat ondernemings data as deel van hul intellektuele eiendom sien en nie gewillig is om dit te deel nie.

Die feit dat data nie geredelik beskikbaar is nie weens die manier waarop dit vasgelê en geberg is, asook die feit dat dit as intellektuele eiendom gesien word, gaan 'n groot struikelblok word wat die bedryf sal moet oorkom as data gebruik gaan word as sleutel om insig te verkry wat innovering sal dryf om 'n slim voedselstelsel te bou.

Data 'n sentrale onderwerp vir die toekoms

In die toekoms sal bedryfsverenigings en ander samewerkingsforums die veranderings wat die nuwe tegnologie meebring moet identifiseer en bespreek, met data as die sentrale onderwerp in hierdie besprekings. Belanghebbendes sal 'n nuwe stel aanvaarbare beginsels en norme moet opstel wat regverdige waarde vir alle deelnemers sal verseker.

Omnia Kunsmis doen reeds etlike jare navorsing oor sensors (IoT), slim (digitaal geaktiveerde) toerusting en die data wat dit genereer, en het die volgende hoofbeginsels rondom data saamgestel

  • Die persoon wat die data skep, besit die data;
  • Data kan op grond van vasgestelde gebruiksvoorwaardes met betroubare partye gedeel word;
  • Gebruiksvoorwaardes moet regverdige en vasgestelde waarde vir alle betrokkenes skep; en
  • Meganismes vir die deel van data moet vertroue, waarheid en deursigtigheid daarstel en bekragtig.

Uitsonderings op die basiese beginsels sal voorkom, maar die doelwit is om samewerking aan die gang te kry om aanvaarbare breë beginsels en norme vas te stel wat die deel van data sal fasiliteer en insigte in die hele bedryf sal moonlik maak.

Sensors, slim (digitaal geaktiveerde) toerusting en die data wat dit genereer, skep 'n digitale spieëlbeeld van die werklike omgewing wat gebruik kan word om wiskundige modelle te skep wat die omgewing naboots. Hierdie modelle kan dan insigte en voorspellings voortbring.

Digitale spieëlbeelde, insig en voorspellings kan ook deur ander belanghebbendes in die slim voedselstelsel benut word om tot nuwe innovering, waardeskepping, groei en dieper verhoudings tussen belanghebbendes en kliënte te lei.

Mense is geneig om terug te kyk na groot ontwikkelings soos inligtingstegnologie (IT), die internet, Amazon en Uber en te wonder waarom hulle nie hierdie ontwikkelings kon voorsien, of die impak daarvan kon voorspel nie. Die rede hiervoor is hoofsaaklik die veranderings en druk op verskeie gebiede in die hele bedryf, asook die huidige siening van die wêreld deur bestaande ondernemings, die tegnologie wat vertrou word, asook waardekettings.

Die beskikbaarheid van moderne tegnologie en die impak daarvan op die huidige stand van sake word dikwels gering geskat weens die oënskynlike lae impak van die tegnologie in die eerste twee tot vier jaar. Mense onderskat gewoonlik die ontwrigtende impak van hierdie tegnologieë namate dit ontwikkel en meer volwasse raak, asook die aanvaarding daarvan regoor die bedryf oor ’n periode van vyf jaar.

Wêreld staan by voedselstelselrevolusie

Die wêreld staan by die begin van ’n revolusie van die hele voedselstelsel en die landbou - die tweede groen revolusie. Die veranderings, druk en moderne tegnololgie bestaan reeds. Mense en ondernemings moet nou inklusiewe, volhoubare, effektiewe en voedingsryke voedselstelsels bou deur leierskapgedrewe, markgebaseerde aksies en samewerking, toegelig deur insigte en innovering. 

Om die doelwitte van 2050 te behaal is ’n reis en sal tyd neem. Daar sal ontwrigting in die huidige voedselwaardeketting voorkom namate ons vorentoe beweeg. Aangesien almal deel is van hierdie reis, is dit belangrik om bedryfs- en sakestrategieë, beginsels en norme in lyn te bring en dit as basis te gebruik om saam te werk en dieper verhoudings as ooit tevore te vorm.

As ’n landbou-onderneming is dit belangrik om vennootskappe te vorm met die leiers in landboutegnologie. Hierdie tegnologie-ondernemings moet waarde in die korttermyn toevoeg en ander ondernemings in staat stel om hulself anders binne ’n veranderende voedelstelsel voor te stel en te belyn. Data moet egter die spil wees waarom alle inisiatiewe draai om insigte te skep wat innovering dryf om ’n beter voedselstelsel te bou.

*Die artikel is geskryf deur mnr. Hannes van Heerden, Algemene Bestuurder by Omnia (Innovering en Digitaal)