Hierdie prentjies het dikwels die onderskrif: “In die jaar 2000” gehad. Deur die jare, selfs so vroeg as die 1800’s het hierdie tegnologiese tydperk waarin ons vandag is, mense se verbeeldings aangegryp.

Die koms van die jaar 2000 was effens teleurstellend in terme van tegnologiese vordering. Alhoewel selfone bekendgestel is, televisiestelle platter geword het en die voorkoms van motors verander het, het die meeste dinge redelik dieselfde gebly.

Dinge het egter skielik in die laaste paar jaar begin verander. Etlike wetenskapsfiksiestories bevat tegnologiese spekulasie wat merkwaardig soortgelyk is aan die tegnologie wat ons vandag gebruik. Nie alleen is daar vooruitgang in die gebruik van robotika en outonome voertuie nie, maar buitengewone ontwikkelings gebeur selfs in die landbou. Dit lei tot die vraag: Watter van hierdie moderne tegnologie is regtig die moeite werd? En hoe werk dit?

Met so baie nuwe ontwikkelinge in die landbou, gaan ons in hierdie artikel net op die gebruik van hommeltuie fokus.

Wat is hommeltuie?

Hommeltuie, ook in Suid-Afrika as ‘Remotely Piloted Aircraft Systems’ (RPAS) bekend, of in Amerika as ‘Unmanned Aerial Vehicles’ (UAVs), het al in die vroeë 1980s op die toneel verskyn, maar die gebruik daarvan in landbou is deesdae ‘n gewilde onderwerp. Proewe word tans gedoen met hommeltuie wat elektromeganiese grondoppervlakmetings uitvoer, hommeltuie wat kapsules met saad en plantvoedsel in die grond inskiet, asook hommeltuie wat gebruik word vir die vinnige spuit van chemikalieë. In Sjina het hulle al selfs ‘n hommeltuig gebruik om vloeibare kunsmis toe te dien. 

Sommige mense droom oor ‘n toekoms waar swerms outonome hommeltuie boerderytake saam verrig en waar kombinasie grond-lug hommeltuie inligting versamel en ‘n verskeidenheid ander take uitvoer1.

Met al die uitdagings wat die boer vandag in die gesig staar, soos klimaatsverandering, ongunstige prysverhoudings en die groeiende vraag na landbougrond, was die noodsaaklikheid om meer ekonomies en ekologies volhoudbaar te boer, nog nooit so belangrik nie. As hommeltuie kan help om risiko te verminder en opbrengs te verhoog, moet dit ernstig oorweeg word. Maar hoe weet ‘n mens of dit ‘n goeie belegging sal wees?

Hommeltuie as deel van presisieboerdery

Volgens Tom McKinnon van Agribotix, kan hommeltuie gebruik word om ‘n bykomende datalaag te skep. Hierdie tipe datalae dryf presisievoeding en -besproeiingsbestuur aan2. Ander databronne vir sulke lae is opbrengsmonitors, grondontledingsresultate, vog- en voedingstofsensors en weerstasies. Bykomend tot hierdie historiese databronne, kan nuwe tegnologieë soos satelliete en hommeltuie, ‘n duidelike beeld van die huidige toestand van die gewas op die land gee.

Die jongste opgedateerde data van toestande oor die hele land is baie waardevolle inligting in ‘n presisieprogram. Met hierdie data kan ‘n boer probleme vroegtydig opmerk en betyds ingryp. Steekproewe – die algemeenste metode om hierdie inligting te verkry – gee nie ‘n akkurate beeld van die hele land nie. Op baie groot lande is dit veral onakkuraat.

Bemande waarnemingsvlugte en satelliete wat naby-infrarooi kameras, ook bekend as NDVI (Genormaliseerde Verskil Vegetasie-indeks), en RGB-(Rooi, Groen, Blou) kameras gebruik, is gevestigde databronne vir waarneming van die toestand van die hele land. Hierdie bronne is egter slegs gebruik vir oorsig oor duisende hektaar op ‘n slag, waar die tyd en hulpbronne wat hiervoor benodig is, die uitgawe en kompleksiteit regverdig het. Weens die aanpasbaarheid en relatiewe lae koste van hommeltuie, het die gevestigde databronne egter meer bekostigbaar geword. Elke metode het sy eie voor- en nadele, maar verbeterings in satelliet- en hommeltuigtegnologie is besig om sommige van die nadele uit te skakel.

Landboukundige hommeltuie verteenwoordig ‘n nuwe manier om data op die land in te samel. Die feit dat die resultate op aanvraag beskikbaar is, maak die gebruik van hommeltuie ‘n baie aanloklike opsie. ‘n Hommeltuig kan maklik en vinnig ontplooi word, waar en wanneer dit ookal benodig word. Slegs hommeltuie bied die direktheid en gemak daarvan om ‘n sending te beplan, data in te samel en die nuutste resultate te verkry.

Die wettige aspekte van hommeltuie

In Suid-Afrika is dit nie nodig vir hommeltuigoperateurs wat dit as ‘n stokperdjie beoefen, om ‘n lisensie te hê nie, alhoewel hulle aan sekere vliegregulasies moet voldoen. Hierdie vliëniers mag egter hommeltuie slegs vir ontspanningsdoeleindes – met ander woorde, vir pret – gebruik. Sodra ‘n hommeltuig in ‘n besigheid soos ‘n boerdery gebruik word, selfs al word die gebruik van die hommeltuig nie uitverhuur nie, moet die besigheidseienaar vir ‘n korporatiewe RPAS operateursertifikaat (ROC) by die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid aansoek doen. 

Die Omnia Groep het ‘n geruime tyd gelede vir ‘n korporatiewe lisensie aansoek gedoen en het nou eers fase vier van die sertifikasieproses bereik. Daar is ‘n totaal van vyf fases. Dié aansoek is nie ‘n maklike proses nie en behoort slegs deur maatskappye of persone oorweeg te word wat geheel en al verbind is tot die vlieg van hommeltuie as ‘n diens. Vir hierdie rede mag dit meer sinvol vir ‘n boer wees om die dienste van ‘n betroubare kontrakteur te verkry om hierdie deel van die besigheid te hanteer.

Hommeltuie geskik vir landbou

Terwyl daar vandag baie hommeltuie beskikbaar is, is almal nie geskik vir gebruik in die landbou nie. Die wat wel geskik is, val in twee kategorieë: vastevlerk- en multirotorhommeltuie. Altwee tipes het soortgelyke kostes en ladingskapasiteite.

Vir beide soorte hommeltuie is die vliegproses redelik eenvoudig. Met sagteware op ‘n toestel (gewoonlik ‘n tablet, skootrekenaar of slimfoon), teken die operateur op ‘n Google Map-tipe beeld ‘n buitelyn van die area wat waargeneem moet word. Die sagteware programmeer die vlug en gebruik lyne bo-oor die kaart om die hommeltuig se vliegroete aan te dui. Dié inligting word met ‘n kabelvrye verbinding na die hommeltuig oorgelaai. Sekere hommeltuie kan heeltemal outomaties opstyg, vlieg en land, alhoewel die vliënier kontrole van die tuig kan oorneem om onvoorsiene voorwerpe in die vliegpad te vermy. Die meeste operateurs verkies egter om hul hommeltuie self te beheer.

Benewens die duur en omslagtige lisensiëring- en registrasieprosedures, sluit ander hommeltuigbeperkings wat in gedagte gehou moet word die batterylewe, grootte van die land en die wind in. Sterk wind het ‘n betekenisvolle invloed op die beplande vliegpad en die frustrasievlakke van die operateur.

Hommeltuigstelsels sluit ‘n verskeidenheid sensors en kameras in. NDVI is ‘n vegetasie-indeks wat vir ‘n reeks landboudoeleindes handig is. ‘n NDVI kan duidelik tussen areas in die land onderskei waar gewasse goed groei en waar dit nie goed groei nie. Omdat plante op ‘n sekere manier op stremming reageer, kan ‘n NDVI-beeld ook die voorkoms van onkruid, peste, waterskade en ander probleme ontbloot. Daar bestaan ook ‘n verskeidenheid ander vegetasie-indekse. Lees meer hieroor op WikiPedia

Ander tipes hommeltuiggemonteerde sensors vir die landbou fokus op planttellings, planthoogte, eenvormigheid van die land, grondwatervlakke, grondtemperatuur en topografie/3D-kartering.

Data-ontleding

Dit is noodsaaklik om betyds verstaanbare, prakties bruikbare data te verkry. Sagteware moet ‘n groot hoeveelheid beelde vinnig kan hanteer en ontledings kan doen wat knelpunte identifiseer en aanbevelings vir ingrypings en veranderbare toedienings gee. Dit kan laer insetkostes, hoër opbrengs en groter wins teweegbring. Soek vir opsies wat ‘n verskeidenheid gespesialiseerde landbou-intelligensie bied en ook uitsette in formate lewer wat versoenbaar met presisietoerusting is. Die sleutel is om ‘n sagtewareplatform te kies wat maklik is om te gebruik en wat nie die gebruiker noodsaak om die prosessering te monitor nie.

Aanbevelings

Volgens Tiaan Terblanche, Besigheidsontwikkelingsbestuurder by Axioteq, is hommeltuie baie meer nuttig en relevant in hoë-waarde of permanente gewasse waar die boord of land relatief klein is en waar hoë-resolusie beelde noodsaaklik is. 

“Ek praat van die 15 cm-resolusie beelde noodsaaklik vir hierdie tipe gewasse, maar wat heeltemal oorbodig in graangewasse en suikerriet sal wees. Vir graangewasse is satellietbeelde meer gepas, aangesien die lande soveel groter is. ‘n Hommeltuig sal sukkel om ‘n plaas van 750 hektaar in een week klaar te maak,” sê Terblanche.

Dit is belangrik om te weet dat hommeltuie en bemande vlugte ‘n eenmalige beeld sal gee, maar dat satelliete die land voortdurend monitor, aangesien satellietbeelde as ‘n seisoenale subskripsie aangekoop word.

Ter opsomming, dit word aanbeveel dat bemande vlugte (vastevlerk) en hommeltuie in hoë-waarde gewasse (groente) en permanente gewasse (bome en wingerde) gebruik word. Vir groter areas behoort slegs bemande vlugte gebruik te word. Die Omnia Groep het kontrakteurs wat beide bemande en onbemande vlugte bestuur. Vir grane en suikerriet word aanbeveel dat 10m en 5m-resolusie beelde regdeur die groeiseisoen geneem word. Landbou-hommeltuie is hier om te bly. Dit kan baie voordele vir die produsent inhou, maar soos met alle nuwe tegnologie, moet deeglike navorsing eers na elke aspek gedoen word voordat daar besluit word of, waar en wanneer hommeltuie in ‘n boerdery gebruik gaan word.

* Die artikel is deur Hantie Jansen van Vuuren van Nutriology ® Solution Marketing van Omnia Kunsmis geskryf. 

Hoofverwysings

1. Mazur, M. (2016) Six ways drones are revolutionizing agriculture. MIT Technology Review

2. McKinnon, T. (2016) Agricultural drones: What farmers need to know. Agribotix white papers.

3. Suid-Afrikaanse Burgerlike Lugvaartowerheid webwerf