Dit sal verseker dat die toegediende kunsmis optimaal benut word. 

Optimale saadontkieming en saailingvestiging is noodsaaklik vir ‘n suksesvolle oes. Ná planttyd is die saadjie in ‘n nuwe omgewing, waar dit vir die eerste keer aan ‘n reeks omgewingstoestande blootgestel word wat alles ‘n invloed op ontkieming het. Dit sluit onder meer die grondtemperatuur en grondvog in. 

Daarom is dit van kardinale belang om die omgewing só te bestuur dat ontkieming vinnig en sonder enige beperkings kan verloop. Dit is noodsaaklik om ‘n gesonde saailing te vestig, wat later ‘n sterk plant met ‘n hoë opbrengspotensiaal oplewer. Deur die ideale planttyd te kies, verlaag ‘n produsent sy risiko en hanteer hy ook baie van die omgewingsfaktore. 

Dit word dikwels uit die oog verloor dat die wortels die funksie om die plantvoedsel te verskaf oorneem, pas nadat ‘n saadjie geplant is en ontkiem het. Voedingstekorte in hierdie stadium kan drastiese gevolge vir saailingontwikkeling en opbrengste hê. 

Deur chemies verkorrelde ammoniumnitraat-gebaseerde plantermengsels met die nodige makro- en mikro-voedingselemente op die regte plek en diepte te bandplaas, kan aan saailinge se voedingsbehoeftes voldoen word om ‘n gesonde en groeikragtige plant te verseker. 

Die konsep om kunsmis in ‘n band te plaas, het ten doel om voldoende voedingstowwe wat nie-mobiel en in lae hoeveelhede in die grond voorkom, op ‘n veilige plek en in ‘n hoë konsentrasie naby die saad te plaas. Die veiligste is altyd om met oorleg na ‘n grondontleding te verwys. Só kan die voedingsbehoefte wat gebandplaas  moet word, op elke plaas en land vir spesifieke gewasse bepaal word.  

Om plantvoedingstowwe te konsentreer en in ‘n band aan plante toe te dien, lewer nie net ‘n mooi saailing en meer weelderige plante nie, maar het ook beter opbrengste tot gevolg. 

Omnia se proefresultate oor kunsmisplasing bevestig dat kunsmisplasing tot reusagtige verskille in opbrengste kan lei. Die onakkurate plasing van kunsmis lei tot groot verliese. 

Nuwe produkte word voortdurend ontwikkel, wat plante help om beter wortelstelsels te vestig. Gesels gerus met jou Omnia-landboukundige hieroor.

* Stephan Erasmus is 'n landboukundige by Omnia Kunsmis.