Digitalisering het die aard van die bankwese heeltemal verander, veral as ’n mens na buitelandse valuta kyk. Gerrit Bezuidenhout van Landbouweekblad en mnr. Martin Verster, streekhoof van FNB Buitelandse Valuta, het tydens ’n episode van Landbouweekliks gepraat oor digitalisering en persoonlike diens van die bank se kant af.

“Ek dink dit is deesdae vir die meeste banke belangrik om platforms na hul kliënte te bring om in die proses hul dienste nader aan kliënte te bring. Veral in die omgewing waarin ons ons tans bevind, is dit belangrik om bankdienste veilig te maak vir kliënte om hierdie banktransaksies in die gerief van hul eie huis te doen,” sê Verster.

“Vanaf die oogpunt van buitelandse valuta doen ons al ’n paar jaar lank transaksies op aanlyn platforms. Dit maak dit soveel makliker vir kliënte. In die verlede moes hulle ’n hand vol vorms invul en saam met die nodige dokumentasie moes alles na ’n banktak geneem word. Met aanlyn bankdienste tot boere se voordeel en digitalisering kan dit alles vanuit hul eie huis gedoen word. Die nodige inligting kan aanlyn gelaai en die nodige dokumentasie kan daarmee saamgestuur word.”

Persoonlike diens

’n Mens sou dink dat ’n kliënt bietjie inboet wat persoonlike diens betref wanneer alles gedigitaliseer word, maar Verster meen dit is inderdaad nie die geval nie.

“Hoewel die kliënt die transaksie self doen, is daar steeds ’n spesialis op die agtergrond wat hom bystaan. Ons verhoudingsmodel laat toe dat hoewel ons kliënte meer elektroniese platforms gebruik daar steeds ’n persoon is wat ’n verhouding met die boer bou en sy besigheid beter leer ken.

“Die klem as ’n bankspesialis is dus nie meer net om die transaksie te doen nie, maar eintlik om na die kliënt se besigheid te kyk, sy risiko’s te help identifiseer en dan die nodige oplossings gereed te kry.” Hoewel daar twee rekenaarskerms tussen die boer en die bankspesialis is, is daar steeds ’n persoonlike verhouding.

Valutadienste

FNB bied verskeie dienste aan sy kliënte wat valuta betref. “Betalings rondom buitelandse valuta is deesdae soortgelyk aan ’n plaaslike betaling. Meer dokumentasie moet bygevoeg word, maar die kliënt kan dit aanlyn doen.

Hy hoef nie meer in ’n ry by ’n tak te gaan staan en al die dokumentasie saam te neem nie. Hy kan alles aanlyn oplaai en die transaksie doen wanneer dit vir hom die gerieflikste is.

“Dit gee ons kliënte ook toegang tot markpryse. Dit stel die boer in staat om 24 uur, vyf dae per week, toegang tot markpryse te hê. Wanneer hy reken die mark draai in sy guns, kan hy die transaksie doen en sy valuta aankoop of verkoop.”

Die aanlyn dienste is dus ’n simbiotiese verhouding wat eintlik baie goed tussen die bank en sy kliënt werk.  

Navrae:
 fnb