AFGRI Equipment se span in Wes-Australië het onlangs die eerste jaar van bou- en bosboumasjinerieverkope namens John Deere gevier – ’n suksesvolle bedryf ondanks die wêreldwye Covid-19-pandemie. Dié herdenking val saam met die bekendstelling van Axl, ’n AgTech-platform en die eerste in sy soort in Suid-Afrika.

Hierdie aanlyn platform, ’n gesamentlike projek van AFGRI Equipment en AFGRI Technology Services, vergemaklik die huur van landboutoerusting. Boere kan deur middel van ’n veilige platform landboutoerusting opspoor, huur en betaal. Dit stel diensverskaffers, soos toerustingeienaars, handelaars en kontrakteurs, in staat om hul sakebedrywighede uit te bou, inkomstestrome te laat groei en die verhuring van hul werktuie te optimaliseer.

Axl se digitale bekendstelling, deur middel van ’n webinaar en sosiale media, is goed ontvang deur belanghebbendes. Mnr. Patrick Roux, hoof van AFGRI Equipment, sê die Suid- Afrikaanse onderneming het steeds toerusting verkoop ondanks ’n moeilike mark, hoofsaaklik danksy die goeie mielieprys en die verwagte prysstygings in plaasmasjinerie vanweë die swak rand.

Hy sê in die lig van die goeie verhoudings met die verskaffers, het sommige ooreengekom om Suid-Afrikaanse boere toe te laat om toerusting vooraf te bestel teen bestaande pryse tot einde April, mits ’n deposito betaal is. Verskeie klante het hierdie aanbod benut. ’n Moeilike tyd lê nog vir baie boere voor.

Roux sê diegene in die noorde van die land vaar dalk nou beter as dié in die Wes-Kaap, waar die aanvanklike beperking op die uitvoer van wyn ’n ongunstige uitwerking op veral kleiner wynplase gehad het.

Wes-Australië 

Die verkoop van landboutoerusting in Wes-Australië is eerder deur reënpatrone as die pandemie geraak.

“Verlede jaar was toerustingverkope sterk vanweë goeie reën en bogemiddelde opbrengste vanaf 2018. Die algehele mark vir 2019 was dus groot.

“Ons het egter nie goeie reënval in 2019 en die begin van 2020 in Wes-Australië gehad nie. Vergeleke met die goeie verkoopsyfers in 2019, het die mark dus tot dusver vanjaar gedaal,” sê mnr. Gollie Coetzee, bedryfsdirekteur van AFGRI Equipment.

“Hoewel die Covid-19-pandemie hier ’n invloed op klante se kooppatrone gehad het, het die weer ’n groter rol gespeel omdat dit in wese die vertroue bepaal om nuwe masjinerie te koop.” Roux sê die bou- en bosbou-afdeling het in die eerste jaar bo verwagting presteer.

“Ons is tevrede met die algehele prestasie wat hierdie afdeling toegevoeg het tot ons reeds gevestigde reikwydte. Klante se terugvoering was gunstig, nie net ten opsigte van die verkoop van masjinerie nie, maar ons onderdele- en diensafdeling het ook ’n uitstekende vertoning gelewer.

“Om die uitgebreide AFGRI Equipment-taknetwerk reg oor Wes-Australië te benut, is van onskatbare waarde vir die opbou van hierdie produkreeks in die bou- en bosbousektor.

“Ons gaan binnekort ook nuwe produkte bekend stel, waaronder John Deere se geartikuleerde stortvragmotors en mini- en groot masjiengrawe. Ons sien uit daarna om hierdie masjinerie in voorraad te hê.” In skerp teenstelling met die boubedryf in Suid-Afrika, bly die algehele stand van dié sektor in Australië hoopvol.

“Die meeste van die regering se infrastruktuurprojekte het onveranderd gebly. “In Wes-Australië, waar ons die John Deere-lisensie besit, is daar ’n sterk siviele sektor met talle pad- en spoorwegverbeterings en verskeie ander bouprojekte wat aan die gang is.”

Op eie bodem

Die Axl-platform is ’n opwindende produk. “Dit sal toerustingseienaars toelaat om hul toerusting reg deur die jaar ten volle te benut. Ek is hoopvol dat hierdie platform die manier sal verander waarop boere in die toekoms toerusting gaan gebruik.”

Met die bekendstelling van Axl tydens die nasionale inperking kon die maatskappy boere in onseker tye ondersteun op ’n wyse wat nog nie voorheen in die sektor aangebied is nie.

“Axl wil ’n digitale diens lewer wat ons klante in staat stel om hul sake volhoubaar, winsgewend en produktief te bestuur. Ons wil die toerustingmark ten goede verander en ons begin nou daarmee,” sê Roux.

Navrae:
Web: axl.app, e-pos: info@axl.app