Kundiges van FNB verduidelik in dié bank se gereelde insetsels op die televisieprogram Landbouweekliks watter opsies boere het om hul finansiële sake in ’n onsekere ekonomie beter te bestuur. In een van dié gesprekke het mnr. Martin Verster, streekshoof van FNB Buitelandse Valuta, die noodsaaklikheid van ’n verskansingsbeleid verduidelik.

“ ’n Verskansingsbeleid is ’n interne beleid wat enige maatskappy met risiko’s in werking stel om te besluit met watter van die risiko’s hy kan saamleef en watter risiko’s eerder verskans of verwyder moet word,” sê Verster.

“In die landboubedryf is dit noodsaaklik om begrotingskoerse te bepaal en wins te beskerm om eindelik die volhoubaarheid van jou onderneming te beskerm. Gevolglik is dit belangrik om hierdie interne beleid in werking te stel, want dit skei emosie van die besluite wat geneem moet word.

“Dit gee aan die maatskappy of boerdery die vryheid om op die primêre funksie van die onderneming klem te lê, pleks daarvan om byvoorbeeld die hele dag na die wisselkoers te kyk en dan ’n besluit te neem oor wat hy daaromtrent gaan doen.”

Stormagtige see

Hoe navigeer ’n mens risikobestuur in ’n land soos Suid-Afrika met sy spreekwoordelike troebel ekonomiese waters waar risiko’s ingewikkelder is as in baie ander lande?

Die hoeveelheid en verskeidenheid risiko’s skep dikwels ’n onduidelike prentjie oor wat ’n onderneming in die toekoms kan verwag. Verster meen die onvoorspelbaarheid van die rand lei tot die meeste probleme en gevolglik is ’n verskansingsbeleid juis noodsaaklik.

“As ’n mens mooi daarna kyk, is die rand een van die wisselvalligste geldeenhede ter wêreld. Daarom is dit so belangrik om nie net te kyk na hoeveel geld ’n mens uit die wisselkoers kan maak nie, maar wel om hierdie onsekerheid te bestuur met die nodige beleid en produkte,” sê Verster.

Die rand is egter ook een van die mees verhandelbare geldeenhede in die ontluikende mark en dus is dit aanloklik vir buitelandse spekulante. Hierdie neiging dra by tot die wisselvalligheid van die rand. Gevolglik is veral ingevoerde bedryfsmiddele soos kunsmis, ander landbouchemiese middels en masjinerie kwesbaar vir prysskommelings.

Verster beveel aan dat boere en sakemanne hulself sekere vrae afvra wat spesifiek met hul onderneming verband hou, soos:

  • Wat is my risiko’s en op watter vlakke wil ek risiko’s verskans?
  • Hoe wil ek my kontantvloei beskerm?
  • Hoe wil ek my wins beskerm?
  • Hoe kan ek hierdie beleid daagliks uitvoer?

FNB en risikobestuur

As ’n bank wat vertrou word vir sy goeie raad en diens, is FNB gereed om boere met risikobestuur en ’n verskansingbeleid te help, sê Verster.

“Ons het al heelwat navorsing oor risikobestuur gedoen en ons het baie insae in die bedryf en ekonomiese risiko’s wat ons spesialiste met kliënte kan bespreek. Dit help hulle om die risiko’s in hul besighede te identifiseer en die noodsaaklike raamwerk gereed te kry om dan by die nodige oplossings uit te kom.”

FNB het ’n gedugte span kenners oor buitelandse valuta wat kliënte help om hul risiko’s te ontleed en die beste oplossings te kry om hierdie risiko’s te bestuur.