Skade is tans net sigbaar aan ’n aantal bome in parke en private tuine, maar kommer bestaan dat dit kan oorspoel na die landbou. Die vermoede is dat dit ’n stompkopkewer (Euwallacea nr. fornicatus) en sy simbiotiese swam (Fusarium euwallacea) is wat die skade aanrig.

Die kewer het groot skade aan avokadobome in Kalifornië en Israel aangerig en ook aan eike, platane en ander bome in Pietermaritzburg en Johannesburg. Prof. Wilhelm de Beer van FABI het op sy tweedaagse besoek aan die gebied minstens 50 monsters van sowat 30 bome, soos eike, platane en inheemse boomsoorte, geneem.

DNS-toetse word in die laboratoriums in Pretoria op die houtmonsters en kewers gedoen. “Ons wil vasstel of dit dieselfde kewer en swam is wat tans bome in Pietermaritzburg en Johannesburg laat vrek,” sê Wilhelm. Daar is sowat 6 000 soorte in dié kewergroep.

Omtrent 99% van die kewersoorte val dooie hout of bome aan wat besig is om te vrek en net sowat 10 soorte val lewende bome aan. In Knysna het ’n paar akkerbome die afgelope jaar gevrek en dit lyk of die kewer en swam daarvoor verantwoordelik was. Wilhelm dink die kewer is al ’n paar jaar doenig in Knysna en al ’n jaar in George.

Dit duur ’n paar jaar voor skade sigbaar word. Hoewel die navorsers nog nie die presiese lewensiklus van die kewer in Suid-Afrika kon bepaal nie, vermoed hulle die kewers se vliegseisoen strek van die lente tot die herfs. In dié tyd versprei hulle en val nuwe bome aan waar hulle eiers lê en die swam inokuleer, wat uiteindelik die boom laat vrek.

Die skade is waarskynlik deur ’n stompkopkewer aangerig.
Die skade, wat vermoedelik deur ’n stompkopkewer aangerig is, is duidelik te sien aan die boom in George. ’n Monster van die stam is verwyder om ontleed te word.

Van die bome sal vrek en ander nie, en sekere bome vrek eers ná vyf jaar of langer. “Ons weet tans nie watter soorte die vatbaarste is nie. Dis onvoorspelbaar.” As die kewer eers in ’n boom aangeteel het, moet dit afgekap word of chemiese behandel word. Dit is egter duur en vereis kundigheid.

Die behandeling moet herhaal word. Dit het groot koste-implikasies vir mense met bome in hul tuine, asook vir munisipaliteite. Wilhelm sê dit is nog te vroeg om te voorspel of dit ’n impak op landbougewasse, soos avokado- en pekanneutbome, sal hê. “Ons en die twee boombedrywe is egter al sedert verlede jaar besig om die gewasse te monitor vir enige tekens van die kewer en die swam.”

In Kalifornië en Israel was daar veral probleme by avokadobome. In Kalifornië is van die kewers ook op vrugtebome gekry. Wilhelm benadruk dat nie alle bome sal vrek nie en dit hou nie ’n bedreiging vir die Knysna-woud in nie. Daar is egter tekens dat sekere inheemse boomsoorte aangeval word.

Tans is dit belangrik dat bome waarin die kewers broei, afgesaag word. Die afgesaagde hout moet nie net op enige plek afgelaai word nie, aangesien die kewers nog maande lank uit die stompe kan broei. Munisipaliteite moet dus spesifiek terreine aanwys waar die afgesaagde bome afgelaai en verbrand moet word.

Mnr. Braam du Preez, ’n bosboukonsultant en deeltydse dosent in brandbestuur van George, sê dit is 90% seker dat dit die stompkopkewer is en dat ’n ingeligte besluit oor optrede so gou moontlik geneem moet word. Die kewers kan sowat 20 km ver vlieg.

“Dit kan ’n impak op die landbou hê en dus is ’n ingeligte besluit oor optrede belangrik.” By Groot-Brakrivier, tussen George en Mosselbaai, word met avokado’s geboer.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.