Suid-Afrika is een van die lande met die strengste maat- reëls vir valutabeheer ter wêreld. Die staat gebruik hierdie reëls om die vloei van geld in en uit die land te beheer. Gerrit Bezuidenhout van Landbouweekblad het tydens ’n episode van Landbouweekliks met mnr. Martin Verster, streekhoof van FNB Buitelandse Valuta, gepraat oor hoekom dit vir boere belangrik is om kennis te dra van valutabeheer.

“Elke transaksie wat deur ’n invoerder of uitvoerder beklink word, word deur handelsbanke aan die Reserwebank gerapporteer,” sê Verster. “Die nodige dokumentasie moet beskikbaar wees. Dit is belangrik dat die korrekte kodes vir die in- en uitvoer van produkte op die dokumente gebruik word. Dit gee vir die staat ’n goeie aanduiding van watter soort handel gedryf word en hoe die staat se handelsbalans lyk.”

Kennis is mag

“Dit is ’n groot veld met baie regulasies. Besighede wat buitelandse handel dryf, moet aansoek doen om hul invoer- of uit- voerlisensie. Dit is noodsaaklik dat jy binne die beperkings van hierdie regulasies sake doen.

“ ’n Mens wil nie die reëls oorskry nie. Jy wil ook nie hê die Reserwebank moet aan jou deur kom klop omdat jy nie die nodige dokumentasie gelewer het of omdat jy jou transaksie nie reg gerapporteer het nie. Dit is dus belangrik dat boere daarvan kennis neem,” sê Verster.

Dit kan baie ingewikkeld raak om jou weg te vind tussen al die regulasies, maar dit is waar FNB waarde aan sy kliënte bied. “Dit is inderdaad ’n groot raamwerk, maar die banke speel ’n groot rol om hul kliënte hierdeur te begelei. Ons kan die nodige advies gee en vrae beantwoord waar nodig,” sê Verster.

“FNB werk daagliks saam met kliënte en help hulle om die regulasies te verstaan, binne die perke sake te doen en só die beste resultate te behaal.

“Die regulasies word voortdurend aangepas, dus moet ’n boer altyd daarvan bewus wees. Oor die afgelope paar jaar is verskeie van die regulasies verslap. Een voorbeeld is dat kliënte wat produkte uitvoer en buitelandse valuta verdien, in die verlede daardie valuta binne 180 dae na randwaarde moes omskakel.

Hierdie regulasie het egter weggeval en kliënte kan nou daardie buitelandse valuta in byvoorbeeld dollar in hul internasionale rekening hou vir so lank hulle wil. Die kliënt kan dit dan na rand toe verwissel wanneer hy meen die markprys is reg of wanneer hy die kontantvloei nodig het.

“Boere moet die regulasies verstaan om die beste daaruit te kan put. As ’n bank kan FNB daardie spesialisadvies aan sy kliënte bied,” sê Verster. 

Navrae:
 fnb