Kompetisie kry nuwe baadjie

Nuwe lewe is vanjaar in ’n Nampo-instelling geblaas toe Landbouweekblad, Omnia en Graan SA kragte saamgesnoer het om die ikoniese Boerepatent-kompetisie tot nuwe hoogtes te voer.

Landbouweekblad se weeklikse Boereplan-artikel sal voortaan as redaksionele aanloop dien vir die jaarlikse Boereplan-uitstalling op Nampo. Lees deur die jaar in Landbouweekblad oor die nuutste boereplanne uit die platteland, waarvan baie volgende jaar op die Nampo-Oesdagterrein te sien sal wees.

”Ons is baie opgewonde oor ons nuwe verbintenis,” sê Chris Burgess, Landbouweekblad se redakteur. “Die Boereplan-kompetisie is ’n wonderlike instelling op Nampo. Dit is ’n besonderse eer om deur die jaar die kompetisie onder die aandag van ons boere te hou. Om heeltyd planne te maak, is immers wat boere uniek maak.”

Oudergewoonte word elke maand ’n wenner in Landbouweekblad aangewys, wat ook ’n stewige prys sal losslaan. Hou ook Landbou.com dop vir video’s van die verskillende patente. T alle nuwelinge op die toneel vir vindingryke boereplanne het die hardebaarde op vanjaar se Nampo-Oesdag die stryd aangesê.

Ontbosser Mnr. Nico Jacobsz van die plaas Midlands by Wesselsbron skoei sy ontbossingswerktuig op die werking van ’n bossiekapper. Die grootste verskil tussen sy ontwerp en dié van ’n gewone bossiekapper is dat sy ontbosser die ongewenste plant, soos ’n katbos, eers afsny en nie net platdruk wanneer die werktuig daaroor beweeg nie. Op die foto wys Nico na die snyskyf (met ’n dikte van 12 mm) se agt lemme wat sowat 64 slae per sekonde kap om takke met ’n dikte van tot 7 cm af te maai. Die momentum van die skyf met sy lemme help om die werkdruk op die ratkas te verlig. Dit beteken ’n klein trekker met ’n werkkrag van minstens 30 kW kan vir die werk ingespan word. Die Jacobsz-ontbosser met ’n werkswydte van 1,5 m kan ook vooraan meer moderne trekkers met ’n hyser aan die voorkant gemonteer word. Die toestel se werking is ook nie hidroulies nie omdat baie trekkers nie dié eienskap het nie. Met die ratkas se vermoë van 140 kW kan die snyskyf sy momentum behou, al word hout met ’n dikkerige deursnee aangedurf. Plantmateriaal word in die proses fyngekap en as kompos uitgestrooi. Die onderdele, soos die 12 mm-Falcon-lemme en boute, is by die meeste handelstakke van landboumaatskappye beskikbaar. Die toestel kan 2 ha tot 4 ha per dag ont
Viertrek-vurkhyser ’n Tweewielaangedrewe vurkhyser kom nie die mas op in die sandgrond-toestande van die distrik Hoopstad nie. Dít was die motivering wat mnr. Martiens Prinsloo (links) en sy seun, Tienie, van Theronshoop ’n viertrek-vurkhyser laat bou het. Hulle het sowat R40 000 bestee aan die betreklik goedkoop vurkhyser wat daagliks gebruik word om twee bale van altesaam 1 ton per keer te verskuif. Die werktuig se laaivermoë is 1 200 kg, maar dit hang van die trekker se gewig af. Die ombouing (links) bestaan uit ’n tweedehandse vurkhysermas (koste: R15 000), silinders, pype en ysters wat aan ’n klein trekker geheg word. Dit word vinnig met slegs vier penne ontkoppel. Navrae: Sel 082 652 4112.
Staalkabel-afroller Mnr. Bertus Goosen van Matlakeng, Botswana, se naam is al sinoniem met Graan SA en Omnia se boerepatentkompetisie op Nampo. Hy het vir sy 23ste agtereenvolgende deelname aan die kompetisie op prakseersels klem gelê wat sy lewe in Suid-Afrika se buurland vergemaklik. Hy koop uitskotkabels by myne om vir wildheinings te gebruik. Om dié kabels eers letterlik te ontrafel, gebruik hy ’n staalplaat met gaatjies wat stewig in die grond geanker is. Bertus herwin stroke van 200 m per keer deur die stringe van die kabel kloksgewys by die staalplaat se ses gate in te ryg. Die punte van die kabel word geheg aan roterende vashegtingspunte van ’n balk wat dan deur ’n trekker getrek word. Indien ’n selfdoener nie ’n dik staalplaat vir die afrol-toestel het nie, kan ’n ou vragmotorvelling wat reeds ses gate het, daarvoor gebruik word. Navrae: Tel. 00267 716 80498, sel 082 404 5433.
Lusernsnyer Mnr. Bertus Goosen van Matlakeng, Botswana, het ’n standaard-heiningsnoeier op ’n stellasie met wiele en ’n handvatsel aangepas om dit in ’n klein lappie lusern te gebruik. Die snoeier is op ’n skarnierkoppeling gemonteer sodat dit na albei kante kan swaai. Navrae: Tel. 00267 716 80498, sel 082 404 5433.
Moeg vir pap bande Mnr. Martiens Prinsloo en sy seun, Tienie, van Therons­hoop, Hoopstad, se antwoord op hul spilpunt se pap bande is staalwiele. Die hoofrede vir dié ontwerp was dat staalwiele goedkoper as die vervangingsbande is, langer hou en nie slote in die landerye trap nie. Drie wiele kan uit ’n staalplaat van 8 mm gemaak word en die plat loopvlak met hoekysterstutte verseker dat die grond nie verdig nie. Hulle skat een wiel kos R2 500. Navrae: Sel 082 652 4112.
Boomsnoeier Mnr. Bertus Goosen van Matlakeng, Botswana, se boomsnoeier is ’n teenvoeter vir van die bekende vervaardigers van tuingereedskap. Dié snoeier is 1,8 m hoog op ’n stellasie met wieletjies aangebring waarmee laag hangende takke in ’n boord op dieselfde hoogte afgesny kan word. As dikker takke die snoeier se doeltreffendheid strem, vervang hy die lem bloot met dié van ’n sirkelsaag. Die grondslag van sy toestel is ’n grassnyermotor wat onderstebo gedraai en van ’n lem voorsien is. Navrae: Tel. 00267 716 80498, sel 082 404 5433.
Ontbastoestel Mnr. Bernard Goldberg (bo) en sy broer, Ronald, het ’n ou houtvloerskuurder omgetower om takke vir heiningsparre te ontbas. Die broers van die plaas Zuiping naby Viljoenskroon het stroke ketting aan die draaiende deel van die vloerskuurder aangebring wat die bas aan die sparre beskadig sodat dit maklik met die hand afgetrek kan word. Volgens Bernard is dit noodsaaklik om die bas te verwyder om te voorkom dat die hout verrot. Die sparre kan ook nou in ’n konka met olie gedompel word vir ’n langer lewensduur. Navrae: Sel 083 650 5911.
Peuterbestand Met die nuwe dieselprys is brandstofdiefstal die laaste ding wat enigiemand kan bekostig. Mnr. Chris Davel van Johannesburg het ’n staalsif ontwerp wat in die nek van ’n voer- tuig se dieseltenk pas. Dit keer dat iemand die brandstof in die tenk met ’n pyp uitsuig. “Boere verloor dikwels klein bietjies brandstof so uit hul trekkers en ander werktuie.” Hy wys ’n sy-aansig en die boonste opening van die sif wat in die bek van die brandstofpyp aangebring word. Die bestaande brandstofprop word weer gebruik. Navrae: E-pos: chrisdavel@vodamail.co.za; sel 072 634 1900.
Vlakvark-deurgang vir wildheining Mnr. Gerrit Smith van Klerksdorp gebruik ’n kruiptrog van plaatmetaal as deurgang vir vlakvarke deur wildheinings. Hy sê geen heining, geëlektrifiseer of nie, stuit ’n vlakvark nie. “En as hy eers ’n deurgang gegrawe het, volg die ander kleinwild.” Skape en boerbokke kan egter ook daardeur ontsnap. Hy verf sy deurgangtrog swart aan die binnekant, aangesien die varke nie bang is vir donker plekke nie. Dit is nie die geval met kleinvee nie. “Op dié manier werk ons saam met die vlakvarke, maar ons verloor nie ons kleinvee in die proses nie.” Navrae: Sel 083 400 8041.
Die wildboer mnr. Wayne Birch van Burchell Wildlife by Thabazimbi het al twee jaar gelede begin kopkrap vir pasmaak-oplossings om wild beter op sy drie plase te bestuur. Die uiteinde was ’n ten volle outomatiese verskuifbare vangkraal wat maklik tussen die plaaseenhede verskuif kan word en groepe diere met tegnologiese hulpmiddels, soos kameras, hommeltuie en met behulp van die internet van ’n afstand af te vang. Die boma word gebruik vir kuddewerk, soos die vang van die aanwas, om jong diere te speen en na ander gebiede te verplaas, asook vir die behandeling van beseerde en siek wild. Die boma bestaan uit los panele van vierkantpyp wat met stroke vervoerband bedek is. Dit kan binne drie uur op- en afgeslaan word. Sodra die diere die vangkraal betree op soek na voer en water, word die operateur per selfoon gewaarsku. Die eenheid het vier tot ses valhekke van seil wat almal tegelyk kan afrol om ’n groep diere in die boma in te perk. Foto 1 toon een van die valhekke wat met behulp van ’n slinger deur een mens opgerol kan word. Uit die eerste boma beweeg die wild deur ’n drukgang (foto 2, wat ook ’n outomatiese skuifhek aantoon) na sekondêre krale met regstreekse kameradekking, waarvandaan kopers die diere met behulp van internetverb
Foto 2
Foto 4
Foto 3

Die wenners in die afdeling vir nuwe masjinerie, werktuie en landboutoerusting was mnre. Nico Jacobsz van die plaas Midlands, Wesselsbron, met sy ontbosser, Wayne Birch van Burchell Wildlife by Thabazimbi met sy verskuifbare wildvangboma (veranderde masjinerie, werktuie en toerusting), Chris Davel van Johannesburg met ’n beveiligingstoestel wat korte mette maak met die diefstal van diesel (aangepaste gereedskap), en Bertus Goosen van Matlakeng in Botswana met ’n boomsnoeier in die afdeling vir aangepaste tuintoerusting.

Dit was egter die 74-jarige mev. Dirkie Jerling van Hennenman se windpomppatent wat skougangers se verbeelding aangegryp het. Sy het haar plan een nag uit bekommernis oor haar man, Stan, bedink.

Besoek Landbou.com vir ’n video van die topplanmakers.