Gesonde grond kan klimaatsverandering temper — en as nievolhoubare landboupraktyke nie behoorlik bestuur word nie, kan dit selfs bydra tot klimaatsverandering. 

Die voortbestaan van die Suid-Afrikaanse bevolking is in vele opsigte afhanklik van die voortgesette optimale funksionering van die grondekostelsel. As sodanig impliseer gesonde grond inderdaad ’n gesonde lewe vir die mensdom. Die bedreigings vir grondbiodiversiteit is veelvuldig.

Afsonderlik of gesamentlik verminder hierdie bedreigings grondbiodiversiteit en daardeur ekostelseldienste. Landskapaftakeling en verwoestyning ontstaan as gevolg van ’n kombinasie van prosesse wat deur die mens aan die gang gesit word.

Onverantwoordelike mensgedrewe grondgebruik lei tot ’n afname in die waarde van die biofisiese omgewing en ’n verlies aan bogrondse en ondergrondse biologiese diversiteit. Uitheemse indringerspesies is een van die belangrikste redes vir biodiversiteitverlies.

Hul teenwoordigheid ontstaan as gevolg van die swak toepassing van kwarantynmaatrëels by toegangspunte (seehawens en lughawens) tot ’n land en hul uiteenlopende nadelige impakte het langdurige ekologiese en ekonomiese implikasies. Swak bestuurspraktyke deur grondeienaars dra ook by tot die probleem.

Grondverdigting verhoog die ladingdigtheid van die grond. Wanneer dit ’n sekere vlak oorskry, beperk dit veral wortelgroei. Waarop dit eintlik neerkom, is dat die ruimtes tussen gronddeeltjies verminder en gevolglik sukkel wortels om die grond binne te dring. Benewens dit is daar ook ’n vermindering in waterbinnedringing en -dreinering.

Onoordeelkundige beweidingspraktyke en die gebruik van swaar masjinerie in landerye is die oorsaak daarvan. Landboukundige besoedeling verwys na lewende en nielewende neweprodukte van boerderypraktyke wat besoedeling en die aftakeling van die onmiddellike grondomgewing en omliggende ekostelsels tot gevolg het.

Dit is regstreeks tot nadeel van menslike gesondheid en hul ekonomiese belange. Suurrëen, wat ontstaan wanneer stowwe, soos koolstofdioksied en stikstof, in die lug vrygestel word en daar met onder meer water en suurstof meng en reageer, is ’n vorm van landboukundige besoedeling. Dit kan die chemiese samestelling van grond drasties verander.

So iets beïnvloed dan die voorkoms en werking van grondbiota en verarm die grond. Nievolhoubare landboupraktyke, soos ploegbewerking, plaagdoders, te hoë insette per kubieke eenheid landbougrond, bemestingstowwe en monokultuurverbouing, is op die lange duur selfverduidelikende nadelige praktyke vir die behoud van gesonde landbougrond in die besonder en die landboubedryf in die algemeen.

In sekere omstandighede is van hierdie praktyke noodsaaklik, maar daar behoort nooit ’n lukrake benadering te wees nie. Die oorsake van gronderosie is water en wind. ’n Lae vlak van gronderosie weens water en wind is ’n natuurlike proses by alle gronde.

As sodanig kan dit dus ’n stadig werkende proses wees, of dit kan drastiese verliese van vrugbare bogrond tot gevolg hê. Menslike aktiwiteite is die stimulus wat gronderosie versnel en wêreldwyd het die tempo van gronderosie tien- tot veertigvoudig toegeneem as gevolg van die mens.

Nie net word die grondbiota en die dienste wat hulle lewer daardeur geraak nie, maar dit lei ook tot verminderde gewasproduksie, oppervlakwater van ’n laer gehalte en beskadigde dreineringsnetwerke. Klimaatsverandering is ’n werklikheid van ons tyd en die landboubedryf met sy bogrondse en ondergrondse komponente staan midde-in hierdie verreikende scenario.

Die reaksie op klimaatsverandering toon ruimtelike heterogeniteit, wat daarop neerkom dat dit verskillende gevolge in verskillende geografiese gebiede sal hê (makroskaalkonteks) en ook plaaslik in landskappe kan verskil na gelang van die mikroklimaat, plantegroei en grondtipe (mikroskaalkonteks).

As sodanig is klimaatsverandering ’n delikate balans tussen veranderinge in temperatuur, vogtigheid, grondtipe en landskapbenutting, en kombinasies daarvan. Die grondfauna is ewe gevoelig en sal kwalik daarmee kan tred hou. Biodiversiteit sal dus noodwendig afneem.

Toestande is byvoorbeld in Europa aangeteken waar dit so droog is dat die tempo van plantafvalontbinding afgeneem het, selfs met ’n toename in grondverwarming. In die geheel gesien, hou klimaatsverandering ’n groot bedreiging vir die mens in aangesien dit die grense van biome drasties kan skuif en sekere gebiede onleefbaar kan maak as gevolg van ’n verandering in temperatuur- en reënvalpatrone.

Hierdie faktore kan ook voedselsekerheid ernstig bedreig. Kommerwekkend in ’n Suid-Afrikaanse konteks is die wynbedryf in die Wes-Kaap. As bioomgrense betekenisvol skuif en reënvaltye verander en onvoorspelbaar raak, kan dit verreikende gevolge hê.

Grond kan klimaatsverandering temper

Dit is egter nie die einde van die wêreld nie en daar is ook moontlike oplossings, soos die manipulasie van die koolstofsiklus (figuur hierbo). Simplisties gestel, is die koolstofsiklus die uitruil van koolstof tussen die atmosfeer, oseane, grondlewende biosfeer en geologiese neersettings.

Koolstofsekwestrasie vind plaas as koolstof in die atmosfeer deur die grond opgeneem word. Hoe meer koolstof in die grond opgeberg word, hoe minder sal in die atmosfeer beskikbaar wees wat kan bydra tot klimaatsverandering. As sodanig hou grond die meeste koolstof naas die oseaan, wat daarop dui dat goeie grondbestuur uiters belangrik is.

Wêreldwyd bevat grond nagenoeg 1 miljard ton organiese koolstof, waarvan grond in Europa sowat 75 miljoen ton hou. Die bydrae van grondgedraagde organiese koolstof is van deurslaggewende belang in die bestuur van klimaatsverandering, aangesien dit ’n groot impak op die koolstofdioksiedkonsentrasies in die atmosfeer kan hê.

Grond vertolk dus ’n uiters belangrike rol in die tempering van klimaatsverandering, maar as dit as gevolg van nievolhoubare landboupraktyke nie behoorlik bestuur word nie, kan dit inderdaad bydra tot klimaatsverandering deur koolstofdioksied vry te stel.

Werk deurdag met grond

Die vraag ontstaan nou wat die rol van die grond kan wees om die gevolge van klimaatsverandering en ander omgewingsbedreigings te temper.

Die antwoord lê deels daarin dat versigtig en deurdag met grond gewerk moet word in die keuse van bestuurspraktyke sodat grondbiodiversiteit en hul funksionering daardeur beskerm kan word. Deur dit te doen sal grondgesondheid gehandhaaf word.

Die volgende praktyke is van toepassing:

  • Verhoog koolstofvoorraad in die grond (dus verhoog grondkoolstof-sekwestrasie).
  • Herstel verswakte grond.
  • Voorkom uitheemse indringing en herstel ingedringde gebiede.
  • Beoefen grondbewaring en volhoubare landboupraktyke, soos geen-ploegbewerking.
  • Diversifiseer gewaslanderye en gebruik dekgewasse om sodoende bogrond-winderosie te bekamp en grondvog te bewaar.
  • Beoefen deurdagte brandbestuur.
  • Beheer enige faktore wat kan bydra tot gronderosie.
  • Pas landbou- en grondbestuurpraktyke aan om sodoende grondkoolstofvlakke te verhoog (oorweeg byvoorbeeld bewaringslandbou en organiese boerdery).

Om hierdie artikel en die vorige twee in die reeks (“Gesonde grond, groter wins”, LBW, 1 Desember 2017; “Om grond te meet, is om te weet”, LBW, 9 Februarie 2018) kortliks af te sluit, is die stelling “kennis is die toekoms” belangrik om te onthou.

Hier is ’n paar aspekte ter sprake:

  • ’n Dringende behoefte bestaan vir basiese biodiversiteitkennis sodat grond-ekostelselnavorsing wat nodig is om volhoubaarheid vas te stel, bevorder kan word. Afrika
  • het die laagste getal wetenskaplike publikasies ter wêreld wat nuwe grondorganismes beskryf.
  • Suid-Afrika bevat maar sowat 2% van die wêreld se beskrewe grondspesies. Strategieë om dit reg te stel, moet onderneem word.
  • As ’n organisme nie beskryf is nie, gaan daadwerklike kennis van die organisme verlore en word daar net veralgemeen.
  • Nouer samewerking tussen grondgebonde dissiplines word benodig.

Om bogenoemde te bewerkstellig is finansiering nodig om taksonome op te lei.

Dit behoort nou gedeeltelik moontlik gemaak te word deur die nuutgeskepte Natuurwetenskaplike Versamelingsfasiliteit oftewel Natural Science Collection Facility (www.nscf.co.za). Bestaande kundigheid moet as ’n vertrekpunt gebruik word en die toepassing van hierdie kundigheid moet so wyd as moontlik (ook in landbou-ekostelsels) aangewend word.

Dr. Charlene Janion-Scheepers is ’n ekoloog en fisioloog wat in springsterte spesialiseer en is verbonde aan die Iziko Suid-Afrikaanse Museum.

Prof. Schalk Louw is ’n insek-ekoloog verbonde aan die departement dierkunde en entomologie, Universiteit van die Vrystaat.

Vir nog inligting oor grondgesondheid en grondbiodiversiteit, besoek gerus die volgende webwerwe: www.sergsa.org; www.globalsoilbiodiversity.org

*GWK is 'n trotse borg van die program Landbouweekliks, wat Dinsdae om 19:30 op VIA (kanaal 147) uitgesaai word.