Ware suksesstories oor die volhoubare vestiging van nuwe boere is skaars. Waar dit wel gebeur, moet die lesse en die moets en moenies oorvertel word. Interessant genoeg, die suksesverhaal van mnr. Dirk en me. Reny Louw speel af in die deel van die Noord-Kaap waar die Hertzog-regering in 1928 begin het om die Boegoebergdam en kanale in die Oranjerivier te bou om werk te verskaf aan arm wit mense.

Die dambouers kon later boerdery-erwe huur. Sukses was nie gewaarborg nie. Nou spog Groblershoop, een van die boerderygemeenskappe wat só tot stand gekom het, met een nuwe boer.

Dirk, wat al tien jaar lank boer, laat dink ’n mens aan die strokieskarakter Asterix nadat hy die toordrankie gedrink het: Vol krag en energie. Ons sit op sy koel stoep en hy vertel op humoristiese wyse die geskiedenis van die “snaakse affêre” wat daartoe gelei het dat hy deesdae op sy eie grond met pekanneute, droogdruiwe en lusern in ’n wisselboustelsel boer.

Dirk is ’n boorling van Opwag en het in 1995 gematrikuleer. Hy het ná skool in die Kaap gaan werk, maar huis toe gekom om die familie te help om sy pa te versorg. Hy het “hier en daar gewerk” totdat drie vroue wat by mnr. André Smith, sy toekomstige mentor, gewerk het, hom genooi het om ’n gesondheidskursus saam met hulle by te woon.

Dirk het vinnig opgang gemaak. Hy het nege jaar by André gewerk – eers as gesondheidswerker en voorman en toe as bedryfsbestuurder en pakskuurbestuurder – met die verstandhouding dat hy mettertyd op sy eie plaas wou boer. “My ooreenkoms met hom was ek werk nou hier, maar my droom is om ’n besigheid soos syne te hê en hy moet my help om dit te bewaarheid.”

Daar was ’n paar geleenthede wat misluk het en gedreig het om sy droom in ’n nagmerrie te laat ontaard. Dirk sê hy het gesorg dat die Regering hom ken en van hom weet. Dié dat hulle hom op ’n dag gebel en gevra het of hy belangstel in die grond wat by Vollgraaffsig naby Groblerhoop beskikbaar is.

Hy en twee ander aspirantboere sou die grond by die staat huur. Toe hulle in Kimberley kom, sê amptenare hulle moet nog sewe mense kry, dan kan hulle met behulp van ’n LRAD-toekenning eienaars van die plaas word. Dit was van die laaste plase waarop begunstigdes eienaarskap gekry het.

UITGEREKTE PROSES

André sê die onderhandelings het sowat ’n jaar geduur. “Die plaas waarop Dirk boer, was in die Land Bank se besit nadat die vorige eienaar nie finansieel daarop kon oorleef nie. In die toestand waarin die plaas was, kon ’n mens nie volhoubaar daarop boer nie. “Die aanvanklike plan was dat Dirk die plaas saam met ’n groep medewerknemers sou bekom.

Dit het nie so uitgewerk nie, want die staat het vereis dat diegene wat by die projek betrokke raak, hul huidige werk bedank. Dirk het die sprong gemaak en, soos wat die staat vereis het, ’n span van tien begunstigdes bymekaargekry. Só het hulle die projek aangepak – sonder skuld, maar sonder geld.”

DIRK SE DROOM

Dirk sê hy en sy twee vennote het die ander sewe gekry en deur die prosesse gegaan. “Die grond is oorgedra nadat dit in ons naam geregistreer is. Met verloop van tyd het ek gesien hier gaan niks aan nie. Van die 22 ha sultanas op die plaas was net 1,5 ha in produksie. Geen bank, belegger of kommersiële boer wou betrokke wees nie.

“Die ander manne het ook maar die kat uit die boom gekyk. Toe kom ek met hulle ooreen en sê: ‘Julle wil mos nie saam kom swaarkry nie’. Ek het gevra: ‘Gebruik ’n week of twee van jul verlof en kom help dat ons net die besigheid aan die gang kry’. Dit het nie gehelp nie.

“Toe sê ek vir hulle dit is mý droom. Ek weier dat my droom voor my oë in duie stort. Kom ek gaan uit terwyl ek jonk genoeg is en gaan doen liewer iets anders. Ek het ’n gesin waarvoor ek moet sorg.” Gelukkig vir hom wou die Regering ook nie sy droom sien vervaag nie.

Hy het toe besluit om die drie maniere waarop hy dalk kon oorleef, te ondersoek deur kommersiële boere te vra wat hulle in so ’n situasie sou doen. “In daardie stadium wou niemand help nie, want hulle het toe al geweet wat met sulke boerderye gebeur.” Sy opsies was: Om alle grond te verkoop, die geld tussen die vennote te verdeel en iets anders te gaan doen.

’n Deel te verkoop en dié geld in die grond te belê en met die boerdery aan te gaan. Om die ander vennote uit te koop en op sy eie verder te boer. “Dan is ek alleeneienaar van die grond. Misluk ek, dan is dit mý dood.” Toe die banke nie geld aan hom wou leen om R25 000 aan elk van sy ander vennote te gee nie, het hy R90 000 by André geleen.

Hy het egter die Regering van sy plan ingelig en die Regering se oordragprokureurs wat die oorspronklike grondtransaksie behartig het, gebruik om sy plan wettig en deursigtig te maak. In 2012 kon hy grond bykoop. Op advies van sy mentor het hy 10 ha pekanneute gevestig. “Die Regering wou nie hê ek moet dit doen nie, maar André het gesê as ek wil vooruitgaan, moet ek dit doen, daar gaan nie ’n ander kans wees nie.”

André sê hy sou eers betrokke raak as Dirk die alleeneienaar van die plaas is. Die rede daarvoor is dat die vertrouensverhouding tussen André en Dirk was. “Dit was nie net ’n werkgewer-werknemerverhouding nie, maar meer op ’n emosionele vlak.

“Ek en my vrou het Dirk soos ’n seun aanvaar. Ons het die grootste geskenk wat ons gekry het, met hom gedeel, naamlik dit wat ons eie ouers ons geleer het oor die lewe en veral besigheid.” André sê hulle het ook besef so ’n vennootskap sal nie werk as daar met die staat onderhandel word nie.

“So ook sal dit nie werk as Dirk die grond as sekuriteit gee vir ’n lening nie.” Daarom het hy die geld aan Dirk geleen as ’n ongesekureerde lening wat net op vertroue gegrond was.

“My advies aan Dirk was om 10 ha neute te vestig en skuldvry te bly totdat die neute in produksie was. Dié resep waarborg sukses. Dirk het dikwels té ambisieus geraak oor ander geleenthede wat oor sy pad gekom het, ten koste van sy besigheid.” André het R960 000 in Dirk se pekanneutvertakking belê.

Die Suid-Afrikaanse pekanneutprodusentevereniging (Sappa) het in 2011 100 boompies aan hom geskenk. Dirk het ook lusern, katoen en mielies tussen die pekanboomrye verbou om sy kontantvloei in stand te hou. Dit was die regte strategie, want hy kon André reeds terugbetaal.

Nuwe pekanneutbome word in rye in lusernlande gevestig. Die lusern help met kontantvloei totdat die neutbome begin dra.

PROBEER STAAT GELD BESPAAR

Mnr. Boitumelo (Tumi) Thukubi, voorligtingsbeampte van die Noord-Kaapse departement van landbou, sê een van die eienskappe wat in Dirk se guns tel, is dat hy nie bakhand staan by die Regering nie. Dirk sê hulle probeer nogal om nie die staat se geld te mors nie.

“Ek het dikwels gehoor en gesien hoe projekte vou weens middelmanne. Om dit te voorkom, het ek en André ooreengekom dat hy vir die nuwe wingerd se opleistelsel sal tender en ek om die stokkies te plant. Dan weet ons dit word reg gedoen en dis teen so ’n lae koste gedoen dat die Regering baie verder kan kom met die geld wat hy het.”

Met die hulp van mnr. Tumi Thukubi, landbouvoorligter, het mnr. Dirk Louw Merbein-rosyntjiedruifwingerde gevestig.

Hul tender is aanvaar en die werk is gedoen. Hulle het sedertdien ander projekte op die plaas op dié manier aangepak. André sê dit is belangrik om die Regering as ’n vennoot te ag deur te verseker dat hy die grootste moontlike opbrengs op sy belegging kry.

“Die Regering het beperkte bronne om sy doelwitte met grondhervorming te bereik. Dirk moet die Regering die beste opbrengs op sy belegging gee. Hy het ook ’n verantwoordelikheid teenoor die staatsamptenare wat hom bystaan, om hul geloof in hom te bevestig deur harde werk en om rekenskap te gee van elke rand wat na hom vloei. Dit het hy gedoen.”

VERHOUDINGS WAT ’N VERSKIL MAAK

Dirk sê die lesse wat hy geleer het, is dat jou mentor iemand moet wees na wie jy opkyk. “As jy so wil wees, moet jy meng met iemand wat so is.” Verder is dit belangrik om hard te werk, jou energie te benut terwyl jy jonk en gesond is en die ondersteuning van jou gesin te hê. Dit is belangrik om die Regering van die begin af te betrek.

Die ondersteuning van ’n toegewyde regeringsverteenwoordiger, soos Tumi, is baie belangrik. “Hy het werksure, maar ek bel hom enige tyd en hy antwoord altyd sy foon. Ek het so ’n vennootskap baie nodig. Hy het my potensiaal raakgesien en hom verbind tot my sukses.”

André sê die les wat hy uit die mentorskap geleer het, is dat sukses afhang van karakter en vertroue tussen die mentor en die boer wat gementor word. “Jy moet kan teruggee.”

As nuwe boer het jy altyd iets om terug te gee vir jou mentor. Só kon Dirk, selfs nadat hy sy eie plaas bestuur het, vir André help om een van sy plase tydens oestye te bestuur. André sê die eerste keer dat hy Dirk gesien het, was tydens die gesondheidsopleiding.

“Ek het gedink ’n ou wat in boerdery werk, moet darem sterk en fiks lyk en met ’n graaf kan steek, maar Dirk se krag lê in sy kop en hart.”

WAG NIE VIR DEPARTEMENT NIE

Tumi sê hy het Dirk in 2009 ontmoet, maar dit was regtig neerdrukkend om die toestand van die plaas te sien. “Ek het gesien die man het potensiaal en wou boer. Ek het elke jaar ’n voorstel vir finansiering aan die departement gemaak. Die eerste jaar is dit afgewys, maar in 2012 kon ons geld kry.”

In 2013 en 2014 het Dirk trekkers, werktuie en 23 ha wingerd van die Regering ontvang en is sy druifdroogbane opgegradeer, terwyl sy drooggeriewe vir goue rosyne verlede jaar verbeter is. Tumi sê wat hom ook beïndruk het, is dat Dirk nie vir die departement wag om hom te help nie.

“Hy luister en is gewillig om te leer. Hy doen altyd iets van sy kant af, nie soos ander boere wat net kla, kla, kla nie. Ek is bly ek kan met ’n boer werk wat vooruit wil gaan.” Tumi sê hy wil hom nog help totdat hy alle gewasse kan oes. “Ek dink hy gaan teen 2020-2021 onafhanklik wees.”

Mnr. Dirk Louw gebruik vloedbesproeiing uit die Oranjerivier, wat langs sy grond verbyvloei.

Dirk het ook onlangs toestemming gekry om die18 ha grond wat die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye langs die Oranjerivier besit, te benut. Die ooreenkoms is dat hy dit behoorlik moet gebruik of die reg daarop verloor. “Jy kan op die grond boer, maar as jy nie die mas opkom nie, vat hulle die grond.”

Die verskuiwing van onsuksesvolle boere het te veel geraak, toe nader hulle Dirk. Hy is duidelik nie van plan om die grond te verloor nie en het verlede jaar 10 ha lusern gevestig en pekanneutbome in die lusern gevestig. Hy het ook ’n halwe hektaar Merbein-druiwe gevestig en 3,3 ha skoon lusern.

“Die departement vra nie huur nie. Ek moet net woel. Dis al verwagting. Ek het ’n probleem daarmee. Deur goed te ontvang en so bakhand te staan, kan jy begin slaphandig raak.”

SUKSES SÓ GEWAARBORG

Wat, behalwe ’n mentor wat hom emosioneel tot die projek verbind en ’n toegewyde voorligtingsbeampte, waarborg sukses? “Dirk moet in die top-20% presteer om suksesvol te wees,” sê André. “Hy moet baie genade kry, want die risiko is groot. Die wingerd ryp dood, maar die neute presteer. Ons moet met die regte gewas boer omdat die klimaat verander het.”

Volgens hom is die geheim van suksesvolle grondhervorming ekonomiese volhoubaarheid en volhoubare ontwikkeling. “So ’n projek moet deur een van die begunstigdes bestuur word sodat hulle kan leer deur die foute wat hulle maak.” Hy sê in dié stadium wil die staat nie nuwe boere ’n kans gee om foute te maak en geld in dié opleidingsproses verloor nie.

Tog sou dit hom ’n paar honderdduisend rand kos om so ’n boer vir drie jaar na ’n landboukollege te stuur. Tumi sê die feit dat Dirk op sy eie boer, maak finansiering van sy boerdery maklik omdat hulle nie konflik tussen verskillende eienaars hoef te oorkom nie. Hy sê omdat Dirk vir homself en sy gesin werk, is hy ook bereid om sy eie geld en tyd te gebruik om die boerdery te laat presteer.

Nuwe aanplantings van pekanneute en Merbein-rosyntjiedruiwe plaas die Louws op ’n wins- en groeipad.

“Ek sê nie groepprojekte kan nie sukses behaal nie, maar daar is dikwels baie konflik waar baie mense is.” Boer en mentor beskou Tumi se bydrae as deurslaggewend vir Dirk se boerderysukses. Dirk se boerdery het ’n wending ten goede geneem toe Tumi betrokke geraak het en met groot geduld jaar ná jaar voorstelle by die departement ingedien en uiteindelik in 2013-’14 geld gekry het om die 13 ha Merbein-rosyntjiedruiwe te vestig.

André sê sy navorsing en betrokkenheid by Boegoeberg het hom laat besef hoe sukkel verskillende staatsdepartemente om saam te werk. “Dis waar Tumi so belangrik is. Hy moet teen sy kollegas van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming en die Departement van Water en Sanitasie baklei vir elke sent.”

Mnr. Dirk Louw (naaslinks) saam met die werkers in die wingerd. Van links is mnre. Hennie Hoorn, Willem Koopman en Steven Rankolane.

ONTSPAN TE MIN

Dirk se vrou, Reny, is ooglopend trots op wat hulle bereik het, maar wil hê hy moet darem bietjie ontspan en meer tyd maak vir sy gesin. Sy besef hy moet hard werk en vir sy gesin sorg, maar meen hy moet nog leer om ’n balans tussen werk en rus te kry. “Ek wil hê ons moet net vir ’n naweek weggaan. Jou lewe is in ’n oogwink verby. ’n Mens moenie spyt wees as daar nou iets gebeur nie.”

Dirk sê sy vrou het hom aan die kraag beet, maar daar is goed wat hy eers wil klaarmaak. “Ek gooi my droom voor haar kop. As ek 45 is, wil ek nie weer ’n graaf vat soos ek nou doen of voordag opvlieg om water te loop kyk nie. Ek moet iemand kry wat ek kan vertrou om dit te doen.”

’N BOER MAAK ’N PLAN

Terwyl Landbouweekblad met mnr. Dirk Louw praat oor die tyd toe hy nog vennote gehad het, sê hy: “Nou wil ek hê u moet hierna luister”.

“In 2009 is hier niks op die plaas nie. Ons boer met 1,5 ha rosyne. Dit moet die krag betaal, die mense betaal, alles doen. In daardie stadium is ons drie manne met net R12 400 in ons bankrekening.

“Ek sê vir die ander daar is ’n boer wat skape wil verkoop vir R12 400. Ons moet die geld vat en die skape koop. Ons koop die skape en die skape lam. Ons vat die skape en lammers en ruil hulle vir ’n trekker by ’n boer van Gariep.

“Nou sit ons met lusernpolletjies. Ek gaan na Andries Blauw van die plaas Slypsteen en sê: ‘Jy het mos skaap wat lusern soek. Ek het lusern, maar nie ’n snyer en ’n baler nie’.

“Hy sê: ‘Die goed staan net hier. Ons kan seker so ’n deal maak’.” Dirk sê dit was vir hom die hoogtepunt van die entrepreneurskap wat hy aan die dag moes lê om sy doel te bereik.

Hoe lyk ’N GOEIE MENTOR?

Jy moet jouself emosioneel verbind. Dan kan jy nie wegstap nie. Só sê mnr. André Smith, wat as mentor vir mnr. Dirk Louw optree. “Die motief moet wees: Ek gaan saam met daardie ou. As hy duik, duik ek saam. As jy oor ander redes betrokke raak of as dit oor geld gaan, is jy mos net betrokke vir jou eie sak. My vrou, Heloise, sê dat Dirk soos ’n seun vir ons is.”

Hy sê boere word soms mentors om by ’n staatsprojek betrokke te raak om hul boerdery uit die moeilikheid te help. “Ouens se bedoelings moet eerlik wees en daar moet wedersydse vertroue wees.” Hy sê mentorskap is ’n waagstuk en harde werk. “Jy moet bereid wees om jou nek en hand uit te steek.”

Hy sê dit raak byna soos ’n familiebesigheid. “Ek weet as ek in die moeilikheid is, sal Dirk my kom help. Die jaar waarin my boerdery die beste gevaar het, was die jaar toe hy saam met die ander staatmakers op die plaas in beheer was van die tafeldruiwe omdat ek ’n familiekrisis moes bestuur. Dit is belangrik dat jul waardes ooreenstem. Ons gesinne leef in afhanklikheid van ons Hemelse Vader en ons bou dus op dieselfde fondasie.”

Aangesien die staat ’n rolspeler is, is dit belangrik dat die mentor die tersaaklike wette verstaan om dit vir die staat se verteenwoordiger maklik te maak om die nuwe boer te help, sê André. “As ek ’n aandeelhouer was, kon Tumi hom nie help nie. Ek moes op die kantlyn sit en só help.”

André sit nou net met een goeie probleem, en dit is dat sy besigheid se status rakende swart ekonomiese bemagtiging (SEB) nie aanvaarbaar is nie omdat sy SEB-vennoot ’n suksesvolle boer in eie reg is. “As ek dié pad met al my werknemers kan loop, sal ek dit weer doen met die volle ondersteuning van my gesin.”

LBW vra . . .

Mnr. Dirk Louw

Mnr. Dirk Louw

Wat is die slimste ding wat jy gedoen het?

Ek het gesorg dat ek tydens die nege jaar wat ek ’n werknemer by die boerdery Willie Smith en Seuns was, geskikte opleiding ontvang het. Ek het die prys vir Junior Plaaswerker van die Jaar (2007) en Senior Bestuur (2011) in die Oranjerivierstreek verower. Ek praat gereeld met kommersiële boere om ander opsies en paaie vorentoe te vind. Dit was ook slim om my vennote uit te koop.

Wat is die domste ding wat jy gedoen het?

Om nie seker te maak dat almal in die besigheid dieselfde visie het nie en om nie in 2008 al met vennootskappe te begin nie. Weens dié foute moes ek 14,6 ha grond verkoop.

Wat is jou beste raad vir nuwe boere?

Gebruik elke oomblik om uit iemand anders se foute te leer. Gebruik die tyd wat jy normaalweg gebruik om partytjie te hou, produktief aan dit waarin jy belangstel. Doen die dinge wat die mens soos wie jy graag wil wees, gedoen het. Maak kontak met daardie mens en vra hom of haar om jou mentor te wees.

NAVRAE: Mnr. Dirk Louw, e-pos: louwdirk44@yahoo.com; mnr. Boitumelo Thukubi, e-pos: bthukubi@ncpg.gov.za; André Smith, e-pos: andresmith@lantic.net

*GWK is 'n trotse borg van die program Landbouweekliks, wat Dinsdae om 19:30 op VIA (kanaal 147) uitgesaai word.