Mnr. Martin Taljaard, ’n makadamiaboerderybestuurder van Mpumalanga, het twee jaar gelede besluit daar moet ’n beter manier wees om boordgesondheid te bestuur as om eenvoudig standaardbemestings-en-blaarvoedingsprogramme te volg.

’n Artikel in Landbouweekblad (“Hommeltuig-tegnologie wat jou sak pas”, LBW, 11 Desember 2015) oor die maatskappy Aerobotics het sy verbeelding aangegryp en hy het met die ontwikkelaars van die Aerobotics-sagteware in verbinding getree.

Hulle het vir hom sagteware geskryf wat help om die foto’s wat hy met sy vastevlerkhommeltuig neem, te interpreteer wat betref boomgesondheid.

Deur sigbare beeldmateriaal met naby-infrarooibeeldmateriaal te kombineer om die genormaliseerdeverskil-plantegroei-indeks (NDVI, normalized difference vegetation index) te bepaal, het Aerobotics tegnologie wat voorheen ten duurste met satelliete of vliegtuie bekom moes word, bekostigbaar plaaslik ontwikkel. Deesdae boer Martin nie meer met makadamias nie.

Hy is heeltyds besig om ander boere met sy hommeltuig by te staan. Deur sy maatskappy, Carbomax, bied hy gedetailleerde lugfoto’s en data wat boere in staat stel om die gesondheid van elke boom in die boord te monitor.

VINNIGE BESTEKOPNAME

Martin se Aerohawk-hommeltuig met ’n vlerkspan van 2 m neem elke 2,5 sekondes ’n foto met twee kameras aan boord. Dit kan 180 ha in ’n enkele vlug dek en neem omtrent 1 500 gedetailleerde foto’s wat elektronies aanmekaargeweef word om ’n geheelbeeld van ’n blok of ’n boord te gee.

Die hommeltuig is outonoom, met ander woorde dit vlieg volgens ’n voorafbepaalde vlugplan wat met behulp van Google Earth- foto’s van boere se boorde in die aanboord- rekenaartjie geprogrammeer word.

“Ek stel die vlugplan op my rekenaar op en laai dit dan na die hommeltuig se sagteware af. Sodra die hommeltuig in die lug is, kry die ingeboude GPS-stelsel dit op koers om in bane op ’n hoogte van 120 m tot 130 m oor die gekose boord te vlieg.”

Martin het ’n vastevlerkhommeltuig gekies omdat dit baie vinniger kan werk en 180 ha met een battery kan dek. Saam stel die beeldmateriaal van die naby-infrarooikamera en die gewone hoëdefinisiekamera hom in staat om te sien hoe bome fotosinteer deur die chlorofil in hul blare te meet.

Die hommeltuig word sommer met die hand gelanseer en vlieg volgens ’n vooraf-geprogrammeerde vlugplan.

VAN DIE BOORD NA DIE REKENAARSKERM

’n Boer kan die bome in ’n spesifieke blok tel en ’n gemiddelde fotosintese-indeks van die boord opstel. Deur verskillende filters in die sagteware aan te wend, kan hy bome se chlorofilvlakke volgens kleur op die skerm vertoon.

’n Boom wat rooi vertoon, het aandag nodig en ’n boom wat groen wys, is gesond. ’n Kleurindeks aan die kant van die skerm wys die boer hoe om die verskillende kleure in die skaal te interpreteer. Die stelsel kan ook kontoere, gradiënte en damvolumes aandui, en bome se spasiëring, hoogte en oppervlakte kan gemeet word.

Boere kan die grondprofiel tussen enige twee punte beskou en selfs ’n driedimensionele model van hul boord uit alle hoeke op die rekenaarskerm bekyk.

Die Carbomax-program werk van ’n webwolk af en elke gebruiker het sy eie wagwoord waarmee hy aanmeld en dan toegang tot sy plaas se data kry. Data van elke vlug word geberg en boere kan ’n indiepte-databasis van hul boorde opbou en sien hoe probleemdele verbeter en wat die impak daarvan op oeste is.

Die program kan ook gebruik word om plaasbestuurders en hul produktiwiteit op die plaas te bestuur, sê Martin. Boere kan gewone satellietdata as ’n opsie by die Carbomax-data kies teen R500 ekstra per maand.

“Dit dui egter aansienlik minder detail aan en laat boere byvoorbeeld nie toe om individuele boomgesondheid in ’n boord te meet nie. Carbomax kan byvoorbeeld die NDVI-data vir elke boom aandui, terwyl satellietinligting net die gemiddelde NDVI vir ’n boord gee,” sê Martin.

TERUG BOORD TOE

Mnr. Rassie Luus, ’n makadamiaboer van die Braemar-groep by Witrivier, praat met groot lof van die Carbomax-program. Hy gebruik dit om sy boorde saam met sy verwerker, Green Farm Nut Company, en sy bemestingskonsultant te bestuur.

Mnr. Jaco Prinsloo, ’n tegniese adviseur van die bemestingsmaatskappy Loskop ICT, verduidelik dat hy die Carbomax-inligting gebruik om probleembome in ’n boorde te identifiseer.

Hy gaan neem dan daar blaar- en grondmonsters om vir tekorte of siektes te toets. Om die siek bome in die boord te kry, is maklik. Carbomax het ’n toepassing wat gebruikers op tablette of slimfone kan aflaai. Deur op ’n spesifieke boer se boorddata in te gaan, moet die mens met die tablet of slimfoon net met die boer se wagwoord aanmeld.

Jy kan dan reguit na die probleembome stap met behulp van GPS-tegnologie wat jou wys presies waar jy in die boord is en waar die probleemboom of -bome is. Jaco stuur dan blaar- en grondmonsters na ’n laboratorium vir ontleding.

Op grond van die laboratorium se ontleding kan die bemesting en blaarvoeding, asook die besproeiing, aangepas word. “Ons gee aandag aan die bome se behoeftes aan mikro-elemente en kunsmis op grond van die blaarontledings.”

“Met dié stelsel kan ek my boomgesondheid en die vrugbaarheid van my grond bestuur deur probleemdele te identifiseer en elkeen se spesifieke tekorte en behoeftes te behandel.

"Die fotomateriaal wat Martin met sy hommeltuig vasvang en dan met die Carbomax-program interpreteer, gee my ’n baie duideliker beeld van my algehele boord as wat jy ooit met die oog en die voet kan waarneem,” sê Rassie. Hy sê hy wil stelselmatig oorbeweeg na volhoubare presisiebestuur in sy boerdery.

“Martin se stelsel help my om op die voorvoet te bly met gehalte en naspeurbaarheid in my boorde. Ek kan nou die uitkraakpersentasie van gesonde neutkerne in spesifieke blokke van jaar tot jaar met mekaar vergelyk.

"Deur na probleemgebiede te kyk, kan ek my opbrengs en gehalte verbeter.” Hy gebruik die stelsel vanjaar vir die tweede jaar en kan nou ’n databasis begin saamstel wat hom sal toelaat om die resultate van jaar tot jaar te vergelyk. Op die lugfoto’s kan hy kolle en selfs individuele bome identifiseer wat in die vroeë fase van stres verkeer. Daar kan dus deurlopend aan onderpresterende bome aandag gegee word.

Martin sê van die algemeenste redes vir stres by bome is dat boere oor- of onderbesproei. “In die meeste gevalle oorbesproei boere hul bome, glo dit of nie.”

Rassie behandel sy bome gereeld teen Phytophthora omdat dit maar altyd ’n risiko is. Hy meen deur die bome se stresvlakke te bestuur, verleng hy hul leeftyd en verhoog hy sy winsgewendheid op lang termyn.

Om die vlugplan te programmeer, word daar van Google se satellietfoto’s gebruik gemaak. Die hommeltuig vlieg dan in geprogrammeerde bane heen en weer oor die boorde en neem elke 2,5 sekondes ’n foto met elkeen van sy aanboordkameras.

BETER WINSGEWENDHEID

Die Green Farm Nut Co., een van Suid-Afrika se grootste verwerkers en uitvoerders van makadamianeute, beveel die Carbomax-stelsel nou aan by boere wat aan dié maatskappy neute lewer.

“Dit is belangrik om waarde toe te voeg tot die koopprys van die neute wat ons kwekers aan ons lewer en om te verseker hulle hou aan om volhoubaar te boer in die toekoms. Die gebruik van die Carbomax-stelsel en die beskikbaarstelling van inligting aan ons kwekers is van die maniere om aan die voorpunt van tegnologiese ontwikkeling in die landbou te bly,” sê mnr. Alex Wyte, hoofbestuurder van die Green Farm Nut Co.

Martin sê die pasgemaakte bemestingsprogramme wat kundiges vir boere opstel met die gebruik van sy stelsel, het ’n daadwerklike verbetering in sommige boere se oeste teweeggebring.

Die ander voordeel is dat hierdie tegnologie nie net vir groot boere beskikbaar en bekostigbaar is nie. Selfs boere met min hektare onder makadamiabome pluk die vrugte van die program. Hulle ken hul plaas, grond, besproeiing en bome baie beter as vantevore, sê hy.

Met ’n hoëwaardeproduk, soos makadamianeute, wys Martin daarop dat selfs ’n 10%-verbetering in opbrengs ’n enorme verskil aan selfs die kleinste boer se winsgewendheid kan maak. “Die gemiddelde makadamiaboom lewer 14-18 kg neute. Teen $18 (sowat R244) per kg vir neutkerne het elke siek boom dus ’n aansienlike impak op ’n boer se verdienste."

*GWK is 'n trotse borg van die program Landbouweekliks, wat Dinsdae om 19:30 op VIA (kanaal 147) uitgesaai word

*PROMOSIE*