Mnr. Brian Angus van die plaas Woodview by Arlington in die Vrystaat het een van die oudste Angusstoeterye in die land. Hy het reeds in 1999 die Wagyu-ras Suid-Afrika help vestig.

Die Japannese beesras is bekend vir ’n besondere marmering van die vet in die vleis wat die smaak en tekstuur verander. Dit staan ook bekend as die eksklusiefste vleis ter wêreld. Angus se dogter, Megan, wat saam met hom boer, sê met reg die ras se vleis is so besonders dat hy homself bemark! 

Kykers sal in die episode meer leer oor Angus se boerdery – van sy voerkraal, ontbeningsaanleg en saaiery met mielies waarvan kuilvoer gemaak word tot die Wagyu-beeste. Die Angusfamilie is reeds meer as ’n eeu op die plaas.

Me. Megan Angus, wat bemarking gestudeer het, help haar pa met die bemarking van hul produkte, wat as vakuumverpakte snitte aan ’n verskeidenheid van klante verkoop word.

In ander segmente in die program gesels mnr. Ronald King van PSG met die Landbouweekblad-joernalis Lucille Botha oor die voordele en nadele van uittree-annuïteite, terwyl mnr. Japie van der Westhuizen van SA Stamboek gesels oor die konteks waarin genomika ’n hulpmiddel vir veeboere kan wees. Mnr. Sarel Opperman, groothandelbemarker van Afgri Equipment, vertel meer oor die waarde wat die JCB-telelaaier op jou plaas kan toevoeg. 

Mnr. Theo Vorster, ekonoom en uitvoerende hoof van Galileo Capital, vertel meer oor die verskillende toepassings van tegnologie in die landbou en hoe selfs nuwe toetreders tot die mark voordeel uit nuwe tegnologie kan put.

Landbou.com se virtuele veearts, dr. Faffa Malan, gee meer inligting oor muskiet- en muggietyd, en die virussiektes, soos knopvelsiekte, slenkdalkoors en driedaestywesiekte, wat daarmee gepaardgaan. 

In dié week se uitdaging probeer die aanbieder, Ivor Price, om ’n bul se saad te tap – beslis die kyk werd!