Met ’n groter begrip van grondsamestelling kan jy grondorganismes bewaar, tot jou voordeel gebruik en  plae omgewingsvriendeliker bestuur.

Die uitdrukking “om te meet, is om te weet” (“to measure is to know”) is die skepping van die wiskundige fisikus en ingenieur lord Kelvin, wat aan die begin van die vorige eeu oorlede is.

Wat hy daarmee bedoel het, is dat om enigiets te reguleer, moet dit gekwantifiseer word. Kwantifisering moet dus as die vertrekpunt van enige ontleding beskou word. (Die legendariese veekundige dr. Jan Bonsma het dit ook dikwels gebruik.)

Hierdie stelling is ewe waar in die evaluering van grondgesondheid en die verbetering daarvan tot voordeel van die samelewing. In LBW van 1 Desember 2017 (“Gesonde grond, groter wins”) is na gronddiversiteit gekyk. Vandeesweek kom die meet en verbetering van grondgesondheid onder die loep.

GRONDGEHALTE EN DIE ROL VAN BIO-INDIKATORE

Biodiversiteit (lewe) verhoog die gehalte van organiese materiaal in die grond en versnel die ontbinding daarvan. Só word voedingstofsiklusse in die grond-ekostelsel beïnvloed en die produksie van organiese materiaal in die grond versnel. Hierdie biodiversiteit dien ook as ’n volgehoue beheermeganisme vir grond-ekostelselprosesse.

As bio-indikatore (biologiese aanduiders) in hierdie konteks in ’n stelsel geïdentifiseer en gebruik kan word om veranderings in ’n grondomgewing aan te dui, kan dit ’n betekenisvolle invloed hê.

’n Voorbeeld van biologiese aanduiders wat gereeld in landbougrond gebruik word, is aalwurms. Aalwurms word gebruik om grondgesondheid aan te dui omdat die verskillende soorte en hul onderskeie getalle die mikrobiese organismes in die grond waarop hul voed, asook die fisiese en chemiese toestand van die grond, weerspieël.

Mikrobes in die grond is die bakterieë en swamme wat daarin voorkom.

Die verhouding tussen bakterie- en swamvoedende aalwurms dui die tempo van voedingstofsirkulasie in die grond aan. Verder kan die bevolkings van algemeen vretende en predatoriese aalwurms aandui of besoedeling of versteurings die grondbiologie beïnvloed en of die grond die vermoë het om patogeniese organismes te onderdruk.

In die algemeen is hoë mikrobe- en ensiem-aktiwiteit in grond ’n aanduider van ’n gesonde stelsel.

Ander bio-indikatore in die grond sluit springsterte (Collembola) en erdwurms (Annelida) in. Die getalle van springsterte en erdwurms in die grond is ’n aanduiding van die vlak van besoedeling. Hoë getalle van sekere spesies dui op lae besoedeling, en lae getalle op die teenoorgestelde. ’n Afwesigheid van springsterte dui ook op té hoë stikstofvlakke in die grond. \

Wanneer nie-biologiese standaardgrondtoetse gelyklopend met biologiese indikatore en ander biologiese aspekte gebruik word, verskaf dit ’n betroubare werkswyse om grondgehalte te bepaal.

Die volgende elemente en spoortelemente in die grond vervul belangrike funksies in hierdie verband:

  • Sink onderdruk siektes.
  • Koper onderdruk siektes en bevorder die sukses van swamdoders.
  • Mangaan ondersteun die metabolisme van mikro-organismes in die grond.
  • Yster bevorder die interaksies tussen plante en grond.
  • Boor bevorder stikstofopname deur plante.
  • Te hoë vlakke van natrium kan voordelige bakterieë benadeel.
  • Kalium is belangrik vir plantwortelontwikkeling en stresvermindering.
  • Magnesium is noodsaaklik vir gesonde fotosintese.
  • Wanbalanse in die vlakke van kalsium lei tot grondverdigting en beperk mikrobiese aktiwiteit.
  • Swael is noodsaaklik vir stikstofopname deur plante.
  • Fosfor bevorder suikerontwikkeling, gesonde plantwortels en die vervoer van voedingstowwe na plante.

Ander grondtoetse wat ’n belangrike rol vervul, is die volgende:

  • Totale uitruilkapasiteit (TUK) behels die vermoë van verskillende soorte grond om voedingstowwe vas te hou. Kleigrond se TUK is byvoorbeeld hoog teenoor dié van sandgrond.
  • Die pH is die suurheid of alkaliniteit van grond. Dit verteenwoordig slegs die balans van elemente (katione) in die grond.
  • Die persentasie organiese materiaal vorm die grondslag vir humusontwikkeling, die bou van grondbuffers (absorpsievermoë voordat verandering intree) en die skep van TUK-vlakke.

Grond is die grondgebruiker se “stille vennoot”. ’n Benadering om hierdie vennootskap ten gunste van goeie grondgehalte te ontwikkel, is om die biologiese komponente van die grond te verstaan.

Deur die ekologie van grondlewende organismes in heterogene omgewings te ontleed en die funksionering en diversifikasie in sulke stelsels te bepaal, kan belangrike riglyne vir die bewaringsbestuur van grondorganismes gevestig word. Op sy beurt kan dit lei tot omgewingsvriendelike plaagbestuurstrategieë in die grond.

HOLISTIESE BENADERING

’n Fundamentele benadering om grond optimaal te bestuur, sou wees om in landskappe wat antropogenies versteur word, klem te lê op die vermeerdering van biodiversiteit en ekostelselfunksionering. Mense moet besef dat landboulandskappe in ’n gebied onvermydelik tot gefragmenteerde habitatte lei, wat om die beurt die drywers van ingewikkelde, gelokaliseerde prosesse en gemeenskapstrukture is.

Biodiversiteit as sodanig is ’n organiserende beginsel in landbou-ekostelselbestuur, aangesien dit die vlak van relatiewe stabiliteit in ’n versteurde omgewing bepaal. Beplanning vir landskapbenutting moet dus die biodiversiteit in ’n totale landskapskonteks beskerm en verbeter en ekostelselprosesse, soos opeenvolging, energievloei en hidrologiese en voedingstofsirkulasie, ondersteun.

In hierdie konteks moet gapings wat tussen landboubeleid, grondgebruik en die skep van biodiversiteitsindekse bestaan, oorbrug word. ’n Verdere doelstelling moet ’n strewe na eenderse denke tussen die benaderings van maatskaplike wetenskaplikes en ekoloë wees wanneer hulle advies verskaf.

RESEP VIR GESONDE GROND

Hoewel daar tans talle maniere bestaan om gesonder gronde te vestig, is die sentrale doelwit om ’n voordeliger habitat vir die bestaan van grondgekoppelde voedselwebbe te skep. Met dit as vertrekpunt kan vier faktore, wat in die praktyk as ’n eenheid optree, veral in ag geneem word.

Deurdagte grondbewerking.

In die algemeen kan omskakeling na minimale grondbewerking (versteuring) in landerybestuur aan die grondeienaar veelvuldige voordele verskaf.

Bewaringsbewerking verhinder die loging van noodsaaklike chemiese elemente, beperk erosie en verhoog die samebinding van gronddeeltjies (wat die vestiging van plantwortels in die groeiproses vergemaklik). ’n Ideale strategie in deurdagte grondbewerking sal wees om geleidelik van ploegbewerking na bewaringsbewerking na geenbewerking om te skakel.

(Die grafika toon ’n voedselweb in onderskeidelik ’n stelsel van geenbewerking en een van konvensionele bewerking.)

Verhoogde grondbiodiversiteit.

Grondbiota is die funksionele ruggraat van grond-ekostelsels. Daarom moet daar deurentyd gepoog word om die verskeidenheid lewende biota in die grond kwalitatief en kwantitatief te vermeerder. Grondbiota versterk voedselwebfunksionering in die grond, wat tot gesonder grond lei.

’n Goeie manier om grondbiodiversiteit te “kweek”, is om gewasdiversiteit in landerye te verhoog deur wisselbou en gemengde aanplantingsverbouingstegnieke te gebruik (met ander woorde om minder klem te lê op streng monokultuuraanplantings jaar ná jaar).

Deur landery-randgebiede te bestuur sodat natuurlike plantdiversiteit in die omgewing bevorder word, kan landerygronde verder met biodiversiteit versterk word.

Rhizosfeergesondheid.

Die rhizosfeer is die mikroskopiese lagie wat die finale skeiding tussen die grondmedium en die haarworteloppervlak van die plant vorm. Hierdie gebied is besonder ryk aan voedingstowwe en aktiewe mikro-organismes. Om hierdie belangrike plant-grond-oorgangsgebied gesond te hou, is bepalend vir plantgesondheid.

Daar word dus aanbeveel om die podosfeer (die plantwortelgebied) baie sorgvuldig sonder onnodige versteuring te bestuur sodat die rhizosfeer daardeur beskerm kan word.

Grondbedekking.

Om oesreste as ’n grondbedekker op landerye oor te hou, is ’n hulpmiddel vir grondeienaars om grondgesondheid te bevorder.

Die voordele van hierdie praktyk is veelvuldig. Dit verminder onder meer water- en winderosie, verhoog die grondvoggradiënt en -beskikbaarheid, verminder die loging van chemiese elemente na die ondergrondse watertafel en verminder grondverdigting.

Dit verskaf ook skuiling aan klein diertjies wat regstreeks en onregstreeks die grond deur hul aktiwiteite kan verryk en gronddiversiteit kan verhoog. Deur grondgesondheidsbeginsels en -prosesse te volg om grond te benut, kan grondeienaars en -gebruikers ’n menigte voordelige bydraes lewer.

Of dit ’n verhoging in organiese materiaal in die grond is wat mikrobiese aktiwiteit verhoog en of dit gewasrotasieboerdery is wat grond teen uitputting beskerm, alles sal gesamentlik tot ’n gesonder grond-ekostelsel bydra. Die omgewing sal dus gesonder wees, wat uiteraard mens en dier sal bevoordeel.

Dr. Charlene Janion-Scheepers is ’n ekoloog en fisioloog wat in springsterte spesialiseer. Sy is verbonde aan die Iziko Suid-Afrikaanse Museum.

Prof. Schalk Louw is ’n insek-ekoloog verbonde aan die departement dierkunde en entomologie, Universiteit van die Vrystaat. In die laaste artikel in die reeks van drie artikels word die bedreigings vir en toekoms van grondgesondheid bespreek, met die klem op die invloed van klimaatsverandering.