JP Keyter sal sy buiging in die eerste episode van reeks vyf van dié gewilde landboujoernaalprogram op VIA (DStv-kanaal 147) maak. Dié episode word volgende week uitgesaai. JP kuier by die wildteler mnr. Martin Schoeman van Thabazimbi.

Die eerste vier reekse van Landbouweekliks met Ivor Price as aanbieder is in 2018 uitgesaai. Ivor is deesdae betrokke by ’n nuwe landbouprojek. Hy gee die leisels oor aan JP, wat die afgelope 11 jaar ’n bekende radiostem op RSG en Jacaranda FM was en ook op eNuus ’n aanbieder was.

“Die eerste plaasbesoeke het goed afgeloop. Dit is ’n groot voorreg om as aanbieder van Landbouweekliks te dien. Ivor het dit vir my baie maklik gemaak om oor te neem.”

Sy aanstelling was ’n bestiering, meen JP. “Ek kon regtig die hand van die Here hierin sien en ek is baie opgewonde oor die geleentheid.”

JP het as kind al blootstelling aan plaaslewe en die landbou gehad. “Ons was dorpskinders, maar was omring deur die landelike gebiede en plase van die Oos-Kaap. Ek het baie tyd op Klipplaat deurgebring en is darem nie vreemd vir skape en plase en die ooptes van die Karoo nie.”

Hy sê dat hy in sy rol as aanbieder dit belangrik ag om die hart van die boer aan kykers te wys. “Ek wil die katalisator wees wat die stories vertel wat wys wat die landbou vir ons land en hul gemeenskappe beteken. Ek wil wys hoe naby die boer aan sy God en sy grond lewe.” 

Wie is JP Keyter?

JP het so amper beroepsrugby gespeel, maar sy liefde vir die uitsaaiwese het die tweestryd gewen. Hy het sy loopbaan by die gemeenskapsradiostasie Bay FM in Port Elizabeth begin.

Met ’n kwalifikasie in besigheidsbestuur het dié boorling van Uitenhage besluit om hom in Johannesburg te vestig. Hy het onlangs sy eie TV-produksiemaatskappy, Blue Avo, gestig.

JP se paadjie is vol interessante ervarings en baanbrekerswerk in die uitsaaiwese. Met sy liefde vir sport het hy eers as aanbieder en ontleder op SABC Sport uitgeblink en later as sportskrywer en -aanbieder op e.tv se eNuus-program. Hy is ’n stigterslid van eNuus, die eerste onafhanklike Afrikaanse nuusbulletin op Suid-Afrikaanse televisiekanale.

Skakel in

Landbouweekliks, wat deur Brand Republic namens Landbouweekblad vervaardig word, het só in gewildheid gegroei dat die episodes vanaf reeks drie na ’n uur lange program verleng is van die aanvanklike halfuur. Nuwe episodes word elke Dinsdag om 19:30 op VIA uitgesaai met heruitsendings op Woensdae (01:30 en 07:30), Donderdae (13:30 en 18:30), Vrydae (00:30 en 06:30), Saterdae (07:00) en Sondae (17:00)