Vyftig jaar gelede het feitlik elke dorp ’n koöperasie gehad. Deesdae is daar net ’n paar oor, en hulle is byna sonder uitsondering suksesvol in die diens wat hulle aan lede lewer en die omset en wins wat hulle behaal. Koöperasies het in hierdie eeu ’n slegte naam in Suid-Afrika gekry vanweë die regering se duur, maar ondoeltreffende bevordering daarvan.

Proff. Gerald Ortmann en Robert King skryf egter in 2007 in Agrekon, die vaktydskrif van die landbou-ekonomievereniging van Suid-Afrika, dat koöperasies reg oor die wêreld ’n belangrike bydrae tot die ontwikkeling van die landbou gelewer het in hul funksie as verskaffers van boerderybenodigdhede en dienste, soos die opberging van graan, vervoer en as bemarkers van landbouprodukte.

In Suid-Afrika het die feit dat koöperasies as agente van die bemarkingsrade en die Land Bank opgetree het, gehelp om gesubsidieerde lenings aan kommersiële boere te verskaf.

Die landboukoöperasie Koup Produsente op Laingsburg is op 12 Augustus 1944, sowat ’n jaar voor die einde van die Tweede Wêreldoorlog, gestig om sy boerelede se vee te bemark. Daar was 34 stigterslede. Vandag het die koöperasie sowat 250 lede. Die stigtersnaam van die koöperasie was Laingsburg Vleisboerekoöperatiewe Maatskappy Beperk.

Mnr. Francois Conradie, voorsitter van Koup Landboukoöperasie, sê boere was daardie tyd uitgelewer aan veekopers en het bedingingsmag deur die stigting van die koöperasie gekry. “Daardie tyd het almal hier hoofsaaklik met vee geboer, buiten voor die Swartberge, waar perskes en appelkose verbou is.”

In die eerste twee dekades van Koup Produsente se bestaan is slegs vee bemark, maar Conradie sê in die 1960’s het die koöperasie ook ’n winkel gebou en begin om landboubenodigdhede aan sy lede te verskaf. “Soos vroeër is die boere se vee ook bemark. Uniek aan Laingsburg het ons koöperasie daardie tyd meer as 90% van die slagvee uit die distrik bemark.”

Die koöperasie se veebemarkingsfunksie het tot ’n einde gekom toe dereguleringswetgewing ná 1994 dit nie meer verpligtend gemaak het om vee in beheerde gebiede (metropole) te slag nie. “Slagters koop nou self hul slagvee by boere. Die veebemarkingsdiens het nie regtig meer ’n bestaansreg nie.”

Die nageslag van ’n paar van Koup Produsente se eerste direksielede boer nog in die distrik. Hulle is, van links, mnre. Jan du Toit van Volstruisfontein (sy oupa, mnr. Kosie Theron, was in die eerste direksie), Francois Conradie van Saaiplaas (oupa, Frank Conradie), Christof Cloete van Rietvlei (sy vrou, Corinne, se oupa Jacobus Basson), Ockie Conradie van Saaiplaas (oupa, Frank Conradie), PF Theron van Dwars-in-die-Weg (sy pa, Wilhelm — heel regs — is tans in die direksie en sy oupa PF Theron, was die eerste voorsitter) en Douglas Calldo van Aasvoëlbos (pa, Tom Calldo).
Koup Produsente se huidige direksie is, van links, mnre. Wilhelm Theron, Francois Conradie (voorsitter), me. Doret Smit, mnre. Charles Muller, De Vos Nel, Tolie Victor en André Coetzee (bestuurder).

Hy sê Koup lewer wel nog ’n veebemarkingsdiens aan maatskappye wat dit benodig. Die koöperasie moes aanpas. “Deesdae verkoop die koöperasie alles wat boere nodig het, waaronder brandstof. Die koöperasie en die kerk is die twee instellings wat ons boeregemeenskap bymekaarhou.”

Conradie sê daar was ’n tyd toe dit mode was vir koöperasies om na maatskappye om te skakel. “Ons het ook na die moontlikheid gekyk, maar alles inaggenome het ons besluit om ’n koöperasie te bly. Ons was nog nie een dag spyt nie.”

Hul koöperasie is ook nie die enigste oorblywende een in die Karoo nie. “Ons is nie uniek nie. In die Karoo is nog ’n paar koöperasies soos Koup.”

Hoewel die koöperasie taamlik klein is en nie so ’n groot voorraad soos die groot en bekende landbou-ondernemings kan dra nie, sal die personeel bestel wat die boere verlang. “Omdat so ’n artikel nie op die rak gaan bly lê nie, neem die koöperasie ’n lae wins daarop en bly die prys mededingend. Uit die aard van die saak beïnvloed dit ook lede se bonus.”

Volgens Conradie bly die koöperasie winsgewend deur produkte teen ’n mededingende prys aan sy lede te lewer en deur baie goeie diens. “Met die heersende droogte probeer ons om die prys van voer so laag moontlik te hou.” Hy is optimisties oor die toekoms. “Solank as wat Koup Produsente diens teen ’n goeie prys kan lewer, sal dit bly voortbestaan.”

Conradie het op die jaarvergadering gesê die oprigting van ’n Eskom-substasie en windplase in die omgewing hou die moontlikheid van goeie sake vir die koöperasie in.

Koup Produsente se eerste jaarverslag, gedateer 1946, het die Laingsburgvloed in 1981 oorleef, maar nie sonder water- en moddermerke nie. Mnr. André Coetzee, bestuurder van Koup Produsente, het die dokumente op die solder van die koöperasiegebou gekry toe hulle dit in November 2011 gerestoureer het.

‘BEGRIP VIR OMSTANDIGHEDE’

Mnr. Christof Cloete, wat van 1994 tot 1998 en van 2008 tot 2012 voorsitter van Koup Produsente was, sê die gemeenskap van Laingsburg beskou hul klein koöperasie die afgelope 75 jaar as ’n kleinood. “Die naam ‘Koup’ verteenwoordig ’n onderneming waarvoor die meeste boere en inwoners ’n besondere trots het. Dit word verbind met persoonlike diens en begrip vir sy lede se omstandighede. Daarom is dit ook net ’n logiese gevolg dat meer en meer boere van buite die tradisionele bedieningsgebied lid geword het van Koup.”

Hy sê die koöperasie moes oor die jare op vernuwende maniere by die veranderende boerderybedrywighede aanpas. “Tradisionele veeboerdery moes op baie plase plek maak of aangevul word met groentesaadproduksie waarvoor Laingsburg en omstreke se klimaat so geskik is. Die behoeftes het dus verskuif na die voorsiening van moderne besproeiingstoerusting en ’n uitgebreide reeks kunsmis en spuitstowwe.”

Die aanpassings het die koöperasie mededingend gehou, maar wys volgens hom ook hoe belangrik dit is dat die bestuur vertroud is met die boerderypraktyke van die lede.

Die bestuur het dit ook die afgelope tien jaar reggekry om deur aktiewe bemarking seker te maak dat die benodigdhede vir ’n verskeidenheid infrastruktuurprojekte wat daar aangepak is deur kontrakteurs van buite Laingsburg, by die koöperasie gekoop word. “Dis waarom hul aankope meer as 35% van Koup se omset uitmaak. Daarom moet daar te alle tye goeie finansiële bestuur wees, aangesien produkte dikwels teen klein marges verskaf word.” 

toe telegramme nog mode was

Koup Produsente, oftewel Laingsburg Vleisboerekoöperatiewe Maatskappy Beperk is gestig in die era van van funk- sionerende poskantore en telefoonsentrales toe belangrike boodskappe per telegram gestuur is.

Die koöperasie het immers in sy eerste finansiële jaar £1.19.11 aan dié manier van kommunikasie uitgegee. Dié inligting kom uit ’n skaars eksemplaar van die koöperasie se eerste finansiële state van 1945. Dit is skaars omdat die state, buiten modder- en watermerke, ongeskonde gekom het uit die verwoestende vloed wat Laingsburg in 1981 getref het.

Mnr. André Coetzee, bestuurder van Koup Produsente, sê hy het die dokumente op die solder gekry toe hulle in November 2011 die koöperasiegebou gerestoureer het. Die state berig dat die koöperasie se inkomste uit veeverkope £7 828 was. Die koöperasie het ook net meer as £77 in die bank gehad.

Altesaam £75.11.2 is aan die oprigting van die koöperasie bestee, maar die verslag meld dat dit aanvaarbaar is. In die finansiële verslag beveel die ouditeurs, Theron, Van der Poel en Kie. van Kaapstad, aan dat die koöperasie sy ledetal moet uitbrei en die rugryerprobleem moet probeer keer.

“Elke lid behoort dit as sy plig te beskou om hul koöperasie sy volle ondersteuning te gee. Daar behoort eenvoudig nie toegelaat te word dat een lid in die geheim ’n nie-lid se skape saam met syne wegstuur nie. Liewer behoort so ’n nie-lid oorgehaal word om ook aan te sluit by die koöperasie. Die doelstellings van enige soort koöperasie is samewerking. Daarmee alleen kan die hoogste ideale verwesenlik word.”

Navrae: Koup Produsente, tel. 023 551 1083; mnr. Francois Conradie, e-pos: fdconradie@roggeveld.co.za; mnr. Christof Cloete, e-pos: rietvlei01@gmail.com