Vroeg soggens, net voor en ná sonsopkoms, wanneer die voëlkore weerklink en die wild lekker bedrywig is, is Mitch Reardon, skrywer van Shaping Addo – The story of a South African national park, se gunstelingtyd in die Addo-olifant Nasionale Park.

Natuurlik is dié park, wat strek oor 182 000 ha van die noordelike halfdroë Nama-Karoo, suid oor die Zuurberge en deur die Sondagsriviervallei tot teen die Algoabaai-kuslyn, se bekendste inwoners die sowat 650 olifante.

Maar die park bied inderwaarheid ’n groot verskeidenheid bio- diversiteit – dit is immers die enigste park waar jy die Sewe Grotes (die Vyf Grotes plus die witdoodshaai en die suidelike noorkapper) kan besigtig.

“Wanneer ek vroegoggend uit was, was van die nagtelike roofdiere besig om die laaste van die vorige nag se vangs te verorber voor hulle hul ete gaan afslaap. Ander spesies het net begin roer, soos vlakvarke en troppe meerkatte wat uit hul gate kom.

Buffels en koedoes was ooglopend ontspanne ná hulle nog ’n nag oorleef het. Die olifante het onverstoord voortgegaan met wat hulle die grootste deel van die dag en nag doen, naamlik om hul yslike aptyt te bevredig,” vertel Reardon oor die tyd wat hy in Addo deurgebring het om die park se geskiedenis, asook die huidige stand van sake, na te vors.

Die park, wat in Julie 1931 gestig is om die Kaap se laaste 16 vrylopende olifante te beskerm, het inderdaad ’n fassinerende geskiedenis. Aanvanklik was dit net 2 270 ha groot. In die 1970’s, toe Reardon die eerste keer die park besoek het, was dit al 6 000 ha groot.

Sedertdien het aansienlike uitbreidings, bewaringsuksesse en opgraderings gelei tot ’n parkervaring soos min wat jaarliks duisende toeriste lok.

“Teen die einde van die negentiende eeu het die laaste sowat 120 Kaapse olifante na Addo se ondeurdringbare spekboomruigtes getrek in ’n poging om ivoorjagters te ontglip,” vertel Reardon oor die ontstaan van die park.

“Vroeg in die twintigste eeu is hul skuiling egter skoongemaak om plek te maak vir sitrusboorde. Dit het tot groot konflik tussen die beleërde reuse en die boere gelei.”

Planne met heinings

In 1919 het die destydse Kaapse administrasie die grootwildjagter Jan Pretorius aangestel om die hele kudde uit te roei. Hy was byna suksesvol, en het hulle uitgeskiet tot daar net sowat 16 diere oor was.

Gelukkig het mense – selfs Pretorius – ingegryp om die oorlewende olifante te bewaar en ’n klein stukkie onomheinde bos is tot hul heiligdom verklaar. Die olifantbevolking het tot net 11 gedaal teen die tyd toe Addo gestig is.

“Harold Trollope, ’n bewaarder in die Krugerwildtuin, is na Addo verplaas. Toe die park eers omhein is, het die olifantbevolking stadig begin groei tot meer as 650 wat vandag in die park woon. Dit is die digste konsentrasie wilde olifante ter wêreld,” vertel Reardon.

Die oprigting van heinings was op sigself ’n storie. Trollope het snags groot houtvure sowat 457 m uit mekaar al met die grens langs laat brand om die olifante binne te hou.

Graham Armstrong, ’n voormalige boer wat ook as parkbewaarder diens gedoen het, het stringe leë blikkies al met die heining langs gehang in die hoop dat die geklingel die bosreuse sou keer wanneer hulle probeer ontsnap het om aan lemoene in nabygeleë boorde te gaan smul.

Toe dit nie werk nie, is gewere wat loskruitpatrone skiet, ingespan, asook fakkels en outomatiese flitse. Alles sonder sukses. Armstrong het selfs ’n “brandstigtingskontrepsie” ontwerp toe hy besef ’n gewone geweerskoot jaag nie meer die olifante die skrik op die lyf nie.

Hy het basies ’n lae struikeldraad oor ’n olifantpaadjie gespan. Dié was gekoppel aan ’n geweer wat ’n botteltjie bensien of magnesium laat ontplof het om die gras aan die brand te steek. Dit het ook net ’n rukkie gewerk, tot die slim olifante eenvoudig ander paaie begin kies het.

Armstrong het in 1954 uiteindelik die oorlog teen die ontsnappers gewen toe hy ’n heining uit pale, draad, kabels en tremspore uit Port Elizabeth (nou Gqeberha) opgerig het. Dit het uiteindelik die laaste 22 olifante en 70 Kaapse buffels binnegehou.

Klein dele van die oorspronklike Armstrong-heining staan vandag nog. “Die olifantwerende omheining saam met streng beskermingsmaatreëls was die enkele grootste bydraende faktor tot die suksesvolle bewaringstorie,” meen Reardon.

“Dit het die olifante se sterftesyfer van 5% per jaar tot 1,2% per jaar laat afneem. Die bevolkingsgroei het tot 6% per jaar toegeneem.” Sedert ’n behoorlike heining opgerig is, het nog net een olifant ontsnap, die legendariese Hapoor.

Hapoor is in 1968 deur ’n ander dominante bul onttroon. Om dié bul se boeliegedrag vry te spring, het Hapoor agter- uitgeloop, wat die heining net genoeg laat sak het sodat hy in trurat daaroor kon ontsnap.

Volgens Reardon hou van die park se grootste probleme steeds verband met grense en omheinings, veral om die verskillende seksies van die groter Addo-park met mekaar te verbind sodat die wild vrylik oor die hele park kan beweeg.

Tans word sekere dele van die park afgeskort deur heinings, paaie en selfs ’n werkende treinspoor wat die wild verhinder om oor die park heen te versprei. Dit roei die plantegroei in veral die suidelike Main Camp-gebied uit.

“Ek vertel in die boek hoe ’n trop olifante van die suidelike Addo na die noordelike Darlington-gebied verskuif is in pasgemaakte trokke. Ideaal gesproke sal wilde diere eendag self dié reis kan aanpak, maar dan sal sekere heinings opgerig en ander afgebreek moet word.

Dit sal ook vereis dat brûe of tonnels oor of onderdeur paaie en treinspore gebou word. Dit gaan baie geld kos. Ek is nie tans bewus van enige planne om dit te laat gebeur nie.”

Olifante drom saam rondom die Hapoordam (genoem na ’n legendariese olifant, die enigste wat nog uit Addo kon ontsnap). Daar is tans meer as 650 olifante in die park.

Ekologiese aanslag

Ander faktore wat met die bewaringsukses gehelp het, was die oorvloed water en kos, veral spekbome, binne Addo. Die uitbreiding van die park namate al hoe meer grond aangekoop is, was net so belangrik. Tans is die olifante se jaarlikse bevolkingsgroei sowat 13%.

Reardon sê die besluit in die 1970’s en 1980’s om meer as net ’n enkele spesie – die olifante – te bewaar en ’n meer ekologiese aanslag te volg wat diverse ekostelsels insluit, was eweneens betekenisvol.

Skielik was meer as net die “groot en dramatiese” soogdiere belangrik. Ongewerweldes, plante en aspekte van die menslike kulturele geskiedenis het aandag begin kry. Vandag is Addo die derde grootste park in Suid-Afrika, ná die Krugerwildtuin en die Kgalagadi-oorgrenspark. Addo sluit selfs die Bird- en St. Croix-eilandgroepe in.

“Dit is een van die mees ekologies diverse beskermende ruimtes ter wêreld – dis immers bekend as die tuiste van die Sewe Grotes! Onder die sowat 450 voëlspesies wat in Addo voorkom (byna die helfte van die Suid-Afrikaanse totaal), is daar ook die broeikolonie Kaapse malgasse op Bird-eiland en die wêreld se grootste broeikolonie van die bedreigde Afrika-pikkewyne.”

Volgens Reardon was dit maklik om die groter park met diere te vul, maar wetenskaplikes het fyn dopgehou hoe hulle in hul nuwe tuiste aanpas en watter invloed hulle op die habitat en ander diere het.

“Die terugbring van leeus was baie gewild onder toeriste en het besoekersgetalle – en dus ook die park se inkomste – aansienlik laat styg.”

Ander spesiale inwoners is Addo se buffels. Dit was nooit nodig om dié spesie na die park terug te bring nie, want hulle stam van die oorspronklike kudde af.

“Hulle was nog nooit aan beessiektes blootgestel nie en is dus nie draers van siektes soos korridorsiekte, bek-en-klouseer of brucellose nie. Vir baie lank was hulle die enigste buffels in Suid-Afrika wat wettig na ander parke en wildreservate in die land vervoer kon word.”

Oortollige Addo-buffels (die kudde het fluks gegroei in die afwesigheid van roofdiere soos leeus en hiënas) is op veilings verkoop en het baie geld vir Sanparke se bewaringsprojekte ingebring.

“Leeus uit die Kalahari, waar hulle nog nooit ’n buffel gesien het nie, is na Addo gebring. Dit het die leeus ’n rukkie geneem om te besluit of hulle die buffels as natuurlike prooi beskou, maar uiteindelik het hulle die buffels ernstig begin jag.

Tydens ’n knellende droogte het die buffelkudde heelwat kondisie verloor en in hul verswakte toestand was hulle maklike prooi vir die leeus. Die buffelbevolking het in ’n stadium met die helfte verminder.”

In reaksie hierop het Addo se bestuur die helfte van die leeus en ’n paar gevlekte hiënas na ander parke verskuif.

“ ’n Mens kan net hoop goeie reën sal die oorbeweide grasveld laat herstel en dat minder skade deur roofdiere die buffelkudde weer sal laat aangroei. Intussen is die oorblywende leeuwyfies op geboortebeperkingsmedikasie.”

Addo-buffels is siektevry, wat hulle gesog maak in ander parke en reservate. Ongelukkig het die buffelbevolking die afgelope tyd drasties gedaal weens die droogte en leeus wat hulle jag.
Leeus uit die Kalahari is in Addo vygelaat. Dit help om die herbivoor-getalle in toom te hou.

Toerisme-trekpleisters

Nasionale parke en wildreservate het al getoon dit kan ekonomies onafhanklik wees, veral danksy toerisme. Toerisme in Addo kom al ’n lang pad. Baie mense wat dié park in die 1970’s besoek het – Reardon ingesluit – onthou dit as ’n teleurstellende ervaring, baie anders as die opwindende besoek wat dit deesdae bied.

Trollope het destyds besoekers na die park probeer lok deur lekkernye soos pynappels, pampoen en later uitskotlemoene wat boere geskenk het, in ’n oopte aan die olifante te voer. Besoekers kon dié feesmaal van ’n platform, sowat 70 m weg, dophou.

Die olifante het egter gou gewoond geraak aan dié bederf en wanneer die vrugtevragmotor sy opwagting maak, was dit chaos met olifante wat dit agternasit en vrugte van die vragmotor af probeer gaps.

Wanneer die vragmotor weer moes ry, moes die personeel bakstene gooi, swepe klap en skree om te keer dat die olifante die vragmotor by die hek uit volg.

Dié voersessies is teen 1979 uitgefaseer en besoekers is verbied om sitrus in die park in te bring uit vrees dat die olifante dit sou ruik en in die hande probeer kry.

Die gevolge van die covid-19-pandemie is tans Addo se grootste struikelblok. Voor die pandemie was sowat die helfte van die park se besoekers buitelanders.

“Toerisme-aktiwiteite maak sowat ’n derde van al die besighede binne ’n omtrek van 30 km om Addo uit. Na raming word een nuwe werkgeleentheid geskep vir elke tien buitelandse toeriste wat die park besoek.

Dit beteken baie in een van die gebiede in Suid-Afrika met groot ekonomiese agterstande, waar ongeletterdheid, werkloosheid, vigs en swak lewenstoestande hoogty vier.”

Geen geduld met stropers

Addo spog met ’n merkwaardige eienskap – die park het nog nie een renoster aan stropers afgestaan het nie (anders as byvoorbeeld die Krugerwildtuin, waar stropery handuit ruk).

“Dit is nie weens blote geluk nie, maar danksy goeie bestuur. Baie van die erkenning kom John Adendorff toe, wat 28 jaar lank die park se hoofbewaarder was voordat hy ’n betrekking in Malawi aanvaar het,” sê Reardon.

“In die Krugerwildtuin is renosterstropery ’n groot probleem omdat die misdaadsindikate se lang tentakels van die veldbewaarders tot die topbestuur – en selfs tot by sekere politici – strek. Daardie web van korrupsie is nooit toegelaat om in Addo te ontwikkel nie.”

Volgens Reardon is renosterstropery ook nie ’n probleem in die private reservate aan die westekant van die Krugerwildtuin nie.

“Daar en in Addo het stropers te doen met ’n paar mans en vroue wat toegewyde bewaarders is en nie omgekoop kan word nie. Dit is so eenvoudig, maar dit is wat dit verg om stropery stop te sit.”

’n Park wat baie bied

Addo kan heeljaar besoek word, want daar is nie duidelik afgebakende reënseisoene nie. Op die ou end is Addo egter spesiaal op maniere wat gewone mense, wat net deur grootwild aangetrek word, nooit eers besef nie, aldus Reardon.

“Daar is byvoorbeeld meer as 800 verskillende miskruierspesies in Suid-Afrika, maar net een sonder vlerke en dié een is endemies aan Addo en sy onmiddellike omgewing.”

Hoewel Addo baie ooreenkomste met ander ekostelsels toon, is sy stelsel uniek in die wyse waarop alles byeenkom (sy boek verduidelik goed hoe die komplekse stelsels funksioneer). Sy beste wenk dus vir besoekers aan Addo? Kry die boek in die hande!

“Die boek probeer ’n nuwe perspektief gee oor hoe dinge in dié besondere park werk. Gereelde parkbesoekers het my ná die verskyning van die boek laat weet hulle kyk nou met nuwe oë na Addo.

Daar is net nie nog so ’n plek elders ter wêreld nie.” Shaping Addo – The story of a South African national park deur Mitch Reardon.

Uitgewer: Struik Nature. Prys: R320.

Die miskruier sonder vlerke is endemies aan Addo en sy onmiddellike omgewing. Hier is ’n vroulike lid van die spesie besig om buffelmis in ’n balletjie so groot soos ’n gholfbal te rol.