Die Aga-‘towenaar’ Emmie Heathman is tans besig om ’n baie spesiale Aga-stoof in haar werkwinkel op Camperdown te restoureer. 

Die Aga-regmaker Emmie Heathman sien kans vir enigiets. As dit by die restourasie van ou Aga-stowe kom, moet sy nog een teëkom wat sy nie aan die brand kon kry nie.

Toe ’n boer van Sasolburg vir Emmie, bekend as die Aga Lady, kontak oor ’n Aga wat hy in stukke in sy skuur gekry het, het sy hom onmiddellik aangesê om dit na haar te stuur.

“Geen ander herstelmaatskappy wou daaraan raak nie. Dit het in Februarie in stukke hier aangekom. Elke stuk was geroes of gebreek,” vertel Emmie uit haar werkwinkel in Camperdown, tussen Durban en Pietermaritzburg.

Wat haar werklik opgewonde gemaak het, is dat die stukke van hierdie blonde ou Aga met die woord “Sweden” gestempel is. “Dit was die eerste keer dat ek oorspronklike onderdele gesien het wat in Swede gemaak is. Die stowe waarmee ek te doen kry, is gewoonlik in Brittanje gemaak.

“Die Aga-stoof is in 1922 in Swede deur ’n blinde Nobelpryswenner-fisikus, dr. Gustav Dalén, ontwerp. Aga het dit in die 1930’s in Brittanje begin vervaardig. Op die een of ander manier het hierdie een sy pad na Suid-Afrika gevind.”

Hierdie is die oudste Aga waaraan Emmie al ooit gewerk het – en dit is ’n reusetaak om dit restoureer.

“Toe die onderdele hier aankom, het ek koue voete gekry. Ek het dit uitgepak en elke keer gesien as ek verbygeloop het. Uiteindelik het ek dit met ’n kombers toegemaak en die kombers met bakstene vasgepak sodat die wind dit nie afwaai nie. Later het ek gedink ‘te duiwel daarmee’. En toe aan die werk gespring.”

Dit was die eerste keer dat Emmie oorspronklike Aga-onderdele met die woord “Sweden” gestempel gesien het. Dit is die oudste Aga wat sy nóg in Suid-Afrika gesien het. Skryf aan ons as jy van ’n ouer een weet.

Die stoof is swaar – baie swaarder as enige stoof waaraan Emmie tot dusver gewerk het. “Sy het ons al ons dae gegee. Sy is 86 jaar oud. Net soos met mense, wanneer ons oud word, begin alles oppak,” sê die 66- jarige Emmie.

Die rekening vir die herstel van die Sweedse pragstuk sal sowat R43 000 beloop, uitgesluit die vervoer terug na Sasolburg, waar dit ’n ereplek in die kombuis sal inneem. “Die stoof is sowat R78 000 in sy huidige toestand werd – maar eintlik kan daar nie ’n prys daaraan gekoppel word nie.”

Haar ma se stoof

Emmie het op ’n plaas naby Sasolburg grootgeword. Toe haar ma se Farmer-stoof destyds oppak, het sy die taak aangedurf om dit reg te maak.

“Die stene in die stoof was stukkend. Ek het kleipoeier gekoop en nuwe stene gegiet. Ek het besef dit is wat ek wil doen. Ek het in die 1990’s met kapitaal van R5 000 begin om ou stowe te herstel. Die onderneming het stadig gegroei. Die boere het hierdie vrou met ’n bakkie sien aankom om hul stoof reg te maak en hul kop geskud. Hulle het in en onder die bakkie vir die man gekyk.”

Haar vakmanskap het hulle gou oortuig. “My werk spreek vanself en my pryse is redelik. Ek het aan die begin in Landbouweekblad geadverteer, maar nou is dit nie meer nodig nie.”

Emmie restoureer ook steenkool-, hout- en antrasietverbrandende stowe met ander handelsname, soos hierdie Esse.

Bekendes AL gehelp

Emmie is al gevra om bekende Suid-Afrikaners te help. “Ek het ’n vertrekverwarmer in Nelson Mandela se sitkamer in Johannesburg geïnstalleer, en ’n Aga-stoof gerestoureer vir wyle Kemp J. Kemp, die advokaat wat Jacob Zuma in sy verkragtingsaak verdedig het. Ek het ’n stoof opgespoor wat Albert Luthuli se ma gebruik het en dit in die Albert Luthuli- museum geïnstalleer. Ek het ook ’n stoof in die Nelson Mandela-museum geïnstalleer.”

Emmie het ’n vertrek vol patrone vir bewegende onderdele en gebruik ’n metaalgietery op Hammarsdale om onderdele te giet. “Die Aga is ’n fantastiese ontwerp. Daar is nie nog só ’n stoof nie. As dit behoorlik werk, een keer per jaar versien word en antrasiet van goeie gehalte kry, sal dit jou geen probleme gee nie. Maar laat dit uitmekaar val, en dit sal jou baie geld kos.”

Al is sy hoe lief vir die Aga, besit Emmie nie self een nie. “Ek is nooit in die winter by die huis nie. As ek egter een moet kies, is die standaardmodel my gunsteling. Dit rook nie en kan tot 500 °C in die boonste oond en 1 300 °C in die onderste een verhit.”

Aga-stowe het in die 1950’s hul verskyning in Suid-Afrika gemaak en is verwelkom in kontreikombuise, veral in gebiede met baie koue winters. Die stowe is ontwerp om die maksimum hitte met die minimum brandstof uit te straal. Hulle is bekend om hul vermoë van ’n snoesige, vertroostende hitte en smaaklike, stadig gekookte kos.

“Die meeste ou Agas het ’n stookketel binne en pomp 150 liter warm water. In die Karoo is daar dikwels op plekke nie elektrisiteit nie – daar is sonkrag en ’n Aga. Die Aga het ’n gesogte produk geword. Die elektriese Aga is duur om te gebruik omdat die koste van elektrisiteit só hoog in Suid-Afrika is.”

Emmie se werkwinkel is ’n presies geordende manswêreld waar gereedskap en onderdele soos ’n chirurg se instrumente in ’n ry staan. Maar stap by haar huis in, en ’n vroulike wêreld vol teksture begroet jou.

Lang paaie agter stowe aan

In die winter ry Emmie 8 000-12 000 km per maand die land vol om na sukkelende steenkool-, hout- en antrasietstowe om te sien. Sy herstel en restoureer – en koop en verkoop – allerlei handelsmerke, waaronder Farmer, Esse, Rayburn en Ellis de Luxe.

“Ek het opgegee om in die somer herstelwerk te doen. Ek bel kliënte en vra hoe dit gaan. Hulle sê niks is verkeerd nie. Dan, in die winter, bel hulle smekend en ek moet aan ’n yskoue Aga gaan werk. Sjoe, dit kan koud word, veral op plekke soos Sutherland!”

Die koste van die rondsleep van ’n sleepwa vol onderdele op plattelandse paaie vol slaggate is hoog. “Ek vra R7/km. Dit is te duur vir een kliënt om te betaal. As hulle my dus wil hê, moet hulle saam met vriende ’n groep vorm. Dan kom ek. Ek vestig ’n basis en reis dan na omliggende plase om herstelwerk te doen.”

Emmie reis saam met haar assistent, Jacques van Coller, wat oorkant die pad van haar woon. “Jacques is ’n wonderlike kind. Ons sien na mekaar om. Hy is slim met sy hande. Daar is niks wat Jacques nie kan regmaak nie.”

Emmie sê dit is ’n vreemde beroep vir ’n vrou, maar sy is lief daarvoor. “Ek het al baie geleer en kan nog steeds meer leer. Mense behandel my goed. Hulle dring daarop aan dat ek beskuit en koffie saam met hulle geniet. Karoomense is gasvry, maar die paaie! Ek het nog nooit sulke swak paaie gesien nie. As jy op die plaas stilhou, hoef jy nie eens die bakkie se deur oop te maak nie. Dit val sommer af.”

Emmie en Jacques het reeds hul kundigheid by hierdie Aga-stowe ingespan.

Hou jou Aga gelukkig

Emmie gebruik vroulike voornaamwoorde om na Aga-stowe te verwys, want “wanneer ’n Aga jou probleme gee, gee sy jou groot probleme! ’n Aga kan jou al jou dae gee!”

Sy hou daarvan om haar kliënte te leer hoe om hul Agas seepglad te laat werk. “Ek kry die boer van sy trekker af en die boervrou weg van haar naaldwerk en wys hulle wat om te doen.”

En dit is wat sy vir hulle sê: “Jy moet jou Aga een keer per jaar skoonmaak. As die winter verby is, trek die gang uit en maak dit skoon. Maak die rookpype skoon. Haal die skoorsteen af en dompel dit in die dam of was dit met ’n tuinslang. Die gebruik om die skoorsteen te slaan om dit skoon te kap, is nonsens.”

Moenie vergeet om die antrasiet te was nie. “Antrasiet is vol swael en dit maak stof teen die plafon. Was dit met gewone water.”

Sodra alles skoon is, sit alles weer aanmekaar. En as daar ’n probleem is, weet jy wie om te bel.

NAVRAE: Emmie Heathman, e-pos: heathmane@gmail.com, 082 965 6560.