The newcomers and their friends deur Buks Nel en Henk Griessel. Prys: R275

Wie is die ouma aan wie Granny Smith-appels hul naam te danke het? Wie het die eerste Golden Delicious-appelboom geplant? Het jy geweet Fuji-appels is nie na die ikoniese Japanese berg genoem nie, maar na die dorp Fujisaki? Wie was die York Imperial-boer wat laat gekom het vir sy eie troue omdat pluktyd so lank aangehou het?

Dis vrae soos dié wat mnre. Buks Nel en Henk Griessel, onderskeidelik bestuurder van nuwe kultivars en gehaltebestuurder by Tru-Cape, weer die pen laat opneem het om nog ’n boek oor die geskiedenis van appels te skryf.

Hul eerste boek, Apples in the early days at the Cape, loop op die spore van vergete appelkultivars wat meer as honderd jaar gelede in Suid-Afrika verbou is (selfs tot in Jan van Riebeeck se tyd). Maar hul nuuskierigheid en geesdrif oor appels en pere ken skynbaar geen perke nie, want hulle is pal besig met navorsing – dikwels met baie skrapse bronne.

Soos Buks sê: “Henk moes eintlik ’n geskiedkundige gewees het.”

Hul jongste pennevrug, The newcomers and their friends, stel ondersoek in na kultivars wat in die twintigste eeu op die toneel verskyn het – appelsoorte wat almal ken, soos Granny Smith en Golden Delicious. “Dis al ’n eeu lank in die land, maar ons beskou dit as nuut omdat dit ná die negentiende eeu gekom het,” het Buks vroeër aan Landbouweekblad vertel.

17 APRIL 1662 GEDENK

The newcomers and their friends is op 17 April bekend gestel, ’n datum wat baie belangrik is vir die vrugtebedryf. Mnr. Roelf Pienaar, besturende direkteur van Tru-Cape, sê dit word as die verjaardag van die vrugtebedryf beskou. “Die eerste appel aan die Kaap is op 17 April 1662 gepluk.”

Roelf sê die boek is glad nie ’n droë, akademiese stuk skryfwerk nie. “Dit lees soos ’n fassinerende whodunnit, met ’n baie interessante – en soms omstrede – geskiedenis van sekere kultivars. Byvoorbeeld, waar kom Nicoter, die boom waaruit Kanzi-appels spruit, aan sy naam?”

Een van die insiggewende stories is dié van Iwan Labuschagne, ’n kunstenaar van Stellenbosch wat ook vrugte geteel het. Hy was aan die voorpunt van die Appels vir Afrika-program, wat appelkultivars met ’n lae kouebehoefte ontwikkel het. Buks en Henk vertel onder meer van al die opdraande wat hy by boere gekry het, uit vrees dat sy kultivars met hul appels sou meeding.

Hulle vertel ook van John Ernst Lane Cripps, wat in 1927 in Engeland gebore is. Hy het ’n Golden Delicious-appel met ’n Lady Williams gekruis terwyl hy in Australië gewerk het.

Die nuwe kultivar wat só ontstaan het, was natuurlik Cripps Pink, een van die gewildste appelsoorte van sy tyd – nie net oor die kleur en eetgehalte nie, maar ook die bekende handelsmerk, Pink Lady, wat rondom die kultivar ontstaan het. Selfs ander bedrywe gebruik gereeld die Pink Lady-verhaal as ’n gevallestude van ’n suksesvolle handelsmerk.

Buks, wat planttelersregte vir verbeterde Fuji- en Gala-soorte hou, se ontdekkings word ook geboekstaaf. Al die stories word toegelig met oulike illustrasies deur die kunstenaar Amy Botha.

Buks sê veral vir hul eerste boek was dit baie moeilik om bronne in die hande te kry. Daarom hoop hulle dat die inligting in The newcomers mense sal aanmoedig om inligting te boekstaaf oor die appels wat hulle vandag verbou. “Ons moet nooit weer sukkel met aantekening van net ’n hand vol plaaslike bronne nie.”

Die boek is tans slegs as ’n e-boek beskikbaar. Dit kan by amazon.com of tru-cape.com aangekoop word. Die gedrukte weergawe sal beskikbaar wees sodra Covid-19-maatreëls dit toelaat.